feetjie

Die feetjies se dansparty

Eendag vlieg daar ʼn klein blou voëltjie met ʼn boodskap in haar bekkie na Virginia in die Vrystaat toe. Die klein blou voëltjie is deur die burgermeester van die buurdorp, Harmonie gestuur om al die feetjies van Virginia uit te nooi na hul groot konsert toe. Die klein blou voëltjie se naam was Blue, want haar veertjies was so pragtig en so blou soos die hemel daarbo.

“Blue,” het die belangrike burgermeester gesê,” jy moet ʼn boodskap Virginia toe neem en al die pragtige feetjies uitnooi om na ons konsert toe te kom.”

“Ja, burgermeester,” sê Blue, “maar hoe sal die feetjies weet waar Harmonie is? Hoe sal hulle weet waarnatoe hulle moet kom vir die groot konsert?”

Die burgermeester krap sy ruie baard en dink so ʼn bietjie. “Wag, ek het ʼn plan,” sê hy geheimsinning. “Hulle moet jou volg.”

“Volg?” Blue se groot blou oë kyk onseker na die belangrike burgermeester en loer na die boodskappie wat sy in haar bek moet dra. “Goed so, burgermeester, ek sal vir hulle sê om my te volg. Ek hoop maar al die feetjies weet hoe om te vlieg.”

“Maar natuurlik weet feetjies hoe om te vlieg, Blue. En dans en sing. Feetjies het die mooiste danspassies en die helderste stemme in die hele wêreld.”

“Meneer die burgermeester?”

“Ja, Blue?”

“Wie tree by ons groot konsert op? Wie gaan almal sing, wie gaan almal dans?”

“Aha,” sê die burgermeester en vryf sy hande, “dit is ʼn groot geheim. Glo my, ek het ʼn plan! Toe! Weg is jy, vlieg en nooi die feetjies uit om na ons groot konsert toe te kom.” Blue knyp die boodskappie styf in haar bekkie vas en vlieg grasieus tussen die bome deur, oppad Virginia toe. Blue vlieg hoog die hemel in, bo-oor die bome en strome en die magtige Sandrivier wat tussen Virginia en Harmonie kronkel. Kort voor lank, land sy bo-op die grootste populierboom in Virginia, waar al die feetjies in die koelte sit en tee drink.

Blue gaan sit op ʼn takkie en loer na al die fraaie feetjies om haar. Daar is Viooltjie, ʼn fyn, klein ou feetjie met ʼn pers rokkie, pers staffie in haar fyn handtjies en ʼn pers strikkie in haar pers hare. Langs haar sit Kappertjie, die vrolike feetjie wat altyd lag en gesels en baie vriendelik is. Langs Kappetjie sit Appelkosie, ʼn fraaie feetjie met ʼn waentjie vol eetgoed, waarin sy haar perskes en pere en vye-konfyt en baie koekies bêre. Eenkant sit Lelia, die wit-rokkie feetjie, stil en skaam met ʼn fyn blos op haar wange. Lelia sit altyd en luister en sê nooit ʼn woord nie, haar arms soos ʼn pragtige wit lelie om haar toegevou. Aan die anderkant van die boom sit Rosa, die pienk feetjie, mooi en rosig, met ʼn ligte blos op haar wange en skoene met die mooiste rooi linte toegedraai.

“Ugm, ugm, askies tog feetjies,” sê Blue skamerig en skud haar vere reg vir haar groot aankondiging. Al die feetjies se koppe draai aandagtig in die rigting van die die klein blou voëltjie wat op die tak langs hulle sit. “Ugm,” kug Blue weer en kyk grootoog na die die feetjies. Die feetjies loer nuuskierig terug, want hulle het in hulle lewe nog nooit so ʼn mooi klein blou voëltjie gesien nie.

“Wie is jy?” vra Kappertjie, die vriendelike feetjie en glimlag vir Blue. “Wat maak jy hier? Waar kom jy vandaan?”

“Ek is… Ek is… Blue sukkel angstig om die woorde uit te kry en mooi te kwetter. Toe onthou sy die boodskappie in haar bek, geen wonder sy sukkel so om te tweet nie. Blue haal ewe plegtig die burgermeester se boodskap uit haar bekkie en vou dit stadig en belangrik oop. Angstig loer sy na al die feetjies wat aandagtig na haar luister.

Blue maak haar keel skoon. “Die burgermeester van die die dorp Harmonie, een van die mooiste en fraaiste dorpe in die hele Vrystaat, nooi al die feetjies van Virginia uit om ʼn goot konsert by te woon!”

Die feetjies glimlag en stamp opgewonde aan mekaar. “Gedoriewaar! Allemiskie! ʼn Konsert! Ons? Ons?” vra die feetjies verheug en kyk na mekaar. “Nooi die burgermeester ons almal uit om ʼn konsert daar by julle in Harmonie by te woon? Dit is te wonderlik!”

“Ja,” sê Blue entoesiasties. “Die burgermeester van Harmonie wil hê dat julle almal die konsert moet kom bywoon. Julle is die eregaste. Volg my, vlieg saam met my.”

Al die feetjies spring opgewonde op, gryp hulle lipstiffies, hareborsels en mooimaakgoed en volg vir Blue, terwyl sy fluit-fluit van takkie tot takkie vlieg. “Volg my!” sing sy tussendeur vir die feetjies, wat opgewek gesels oor die groot konsert wat hulle gaan bywoon. “Ek wonder wie sing en dans op die konsert?” vra Viooltjie vir Kappertjie en Appelkosie wat langs haar vlieg. “Maak nie saak wie sing nie,” sê Lelia, die leliewit feetjie. “Ek weet sommer hulle gaan pragtige stemme hê en die mooistie liedjies ooit sing!”

Uiteindelik kom al die feetjies veilig in Harmonie aan. Die belangrike burgermeester en sy verwelkomings-orkes staan op die kerkplein vir hulle en wag. Sy groot hande is wyd uitgestrek om die feetjies met ope arms te verwelkom en sy goue ketting blink-blink in die son. “Welkom, welkom feetjies, ons wag vir julle. Vandag gaan ons ʼn groot konsert hou. Kyk net al die mense wat by die konsert opgedaag het, al die mense staan net vir julle en wag. Welkom, welkom!”

“Vir ons?” vra die feetjies verbaas, “waarom vir ons?”

Al die mense begin saggies hande klap, opgewonde dat die groot konsert moet begin.

“Want, “sê die burgermeester belangrik en hy knipoog vir Blue wat op sy skouer sit.  “Almal in die Vrystaat weet hoe mooi feestjies kan dans – ons wag almal net vir julle om te sien hoe mooi julle kan dans.”

“Haai burgermeester,” sê Appelkosie, “jy is darem maar baie stout. Ons dog ons kom na die konsert luister, nou is ons die dansers wat op die verhoog moet dans!”

“Ja, ek is baie stout,” lag die burgermeester, baie in sy noppies met sy slim plan. “Ons kan self nie goed sing of dans nie, maar ons kan baie goed luister en ons weet julle is die beste dansers in die hele wêreld.”

enelele

Toe begin die feetjies dans, met die mooiste en elegantste danspassies wat mense van Harmonie nog ooit gesien het. Ewe skielik kom daar die soetste stemme uit die hemel en die mooiste klanke en note, so mooi dat al die mense opkyk om te sien waar die pragtige klanke vandaan kom.

“Die stemmetjies kom uit die hemel,” sê die burgermeester trots vir Blue. ”Ek het geweet as die engeltjies die feetjies sien dans, dan sing hulle vir ons. Hulle het die mooiste stemmetjies en maak die helderste klanke wat enigiemand nog ooit gehoor het. Dit is waar die naam engelekoor vandaan kom.”

Nà die konsert, het al die mense van Virginia en Harmonie saamgestem dat dit mooiste en beste konsert was, wat hulle nog ooit bygewoon het. Lank, lank nadat al die mense huistoe gegaan het en die feetjies deur die bome teruggevlieg het Virginia toe, het die soete klanke van die engeltjies se stemme, steeds deur die bome langs die Sandrivier bly sweef. Tot vandag toe, en as jy mooi luister wanneer jy met die ou brug oor die Sandrivier van Harmonie af na Virginia se kant toe ry, hoor jy nog die sagte klanke van die engelekoor oor die kabelende water.

*

*