Fleurie

Fleurie, die optelkatjie

Fleurie was ʼn optelkatjie, ʼn meisietjie-kat met groot groen oë en lang wimpers en ʼn sagte meeaaw wat eens op ʼn tyd saam met mense gewoon het.

Fleurie was ʼn optelkatjie omdat die mense wat vir haar moes sorg, nie meer vir haar kos of water gegee het nie en nie vir haar in die winter ʼn warm kombersie of ʼn kussing gehad het nie. Fleurie het maar op die koue harde grond geslaap en in die winter haar lyfie styf opgekrul soos ʼn koeksister, net om bietjie warm te kry. In die winter is dit bibberkoud in Pretoria en die temperatuur daal elke nag tot onder vriespunt.

“Ons gaan nou weg,” het die man wat vir Fleurie moes sorg, vir sy vrou gesê. “Fleurie moet hier bly en self regkom, sy moet maar muise vang as sy honger word. Sy is op haar eie, ons gaan nie meer vir haar sorg nie. Ons gee ook nie meer om nie. Kom ons ry.”

“Maar Fleurie is te klein om muise te vang, meeste van die muise is groter as sy. Sy is boonop ʼn meisiekat,” het die vrou bekommerd geantwoord.

“Dit is nou maar jammer vir Fleurie, sy moet self oorleef. Ons kan nie langer vir haar sorg nie.”

“Ons kan nie net vir Fleurie so los nie,” protesteer die vrou, “sy sal doodgaan van die honger en die kwaai honde gaan haar jaag. Sy is te klein om vir haarself te sorg.”

“Klim in die motor, vrou,” sê die man nors. “Ons moet ry, ons het nie meer tyd vir katte se nonsens en kattekwaad nie.”

Die wrede, onsimpatieke man en sy vrou het weg gery en klein Fleurie het alleen agtergebly in die reën. Daar was niemand om vir Fleurie te sorg nie, niemand om haar te help as sy koud kry of honger word nie. Klein Fleurie was alleen en baie bang vir die donker en die gulsige honde wat haar elke dag jaag. Fleurie het nie geweet wat om te doen nie, sy kon nêrens kos kry nie en sy was die hele tyd koud en nat. Sy het al hoe maerder geword en baie gewig verloor, naderhand het net haar ribbes uitgesteek. Sy was die hele tyd bang en het weggekruip sodat die groot honde haar nie kon byt nie. Die honde se tande was so skerp soos dorings en elke keer as hulle klein Fleurie sien, het hulle haar gebyt en klossies hare uit haar gehap.

Toe kom daar eendag ʼn pragtige feëkoningin by Fleurie se huisie verby en sy sien die klein katjie onder ʼn struik wegkruip. Die feëkoningin (haar onderdane het haar B genoem, soos ʼn heuningby), het ʼn groot goue koets gehad, met baie perde en knegte en wagte wat langs haar koets geloop het. Die perde was baie groot en dapper en die knegte moes versigtig loop om nie onder hulle skerp hoewe te beland nie.

“STOP! Stop die koets,” beveel die feëkoningin en haar knegte bring die hele stoet tot stilstand. Fluks bring die koetsier ʼn goue voetstoeltjie, sodat die feëkoningin nie met haar pragtige goue skoene in die modder en water hoef te trap nie. Stadig en statig het die feëkoningin nader gekom en voor klein Fleurie gaan staan, waar sy onder die struik wegkruip.

Fleurie het gebewe van vrees en eers wou sy nie gehad het dat die feëkoningin haar raaksien of aan haar raak nie. Sy het gebibber van die koue en was papsopnat, maar die Feëkoningin het haar nietemin opgetel en saggies met haar begin praat.

“Waarom is jy so koud en nat, klein katjie? wou die feëkoningin by Fleurie weet, “en waarom steek jou ribbes onder jou vel uit? Waar is die mense wat in hierdie ou donker huis gebly het en vir jou moes sorg?  Waarom is jy so bang? Waar is jou mense?”

Maar Fleurie het nie geantwoord nie en net saggies in die feëkoningin se warm arms gelê. Sy was te bang om te roer en bang dat iemand weer met haar sal raas. Vir die eerste keer in jare het Fleurie veilig gevoel en dankbaar dat iemand met warm hande haar troetel en beskerm.

Die feëkoningin se knegte en wagte het begin ongeduldig raak, hulle wou hê die feëkoningin moes weer in haar koets klim, want die paleis was nog vêr. “Koningin, ons moet ry,’ sê hulle, “los die kat uit, ons moet ry, die paleis is nog baie vêr.”

“Goed, ons kan ry,” sê die feëkoningin geduldig, “maar die katjie kom saam. Ons gaan haar nie hier los nie, kyk hoe maer en bang is sy.”

“Maar koningin,” kla die wagte en knegte, “wat gaan ons met so ʼn klein katjie in die grote paleis doen?”

Die koningin was nie net ʼn gewone koningin nie, sy was ook goedhartig en beleefd met mense. Sy was eintlik ʼn koningin van harte, omdat sy vir mense en diere omgegee het.

“Nou maar goed, as julle dan daarop aandring, gee ons vir Fleure ʼn werk in die kasteel, ʼn taak wat sy elke dag kan doen om haar kos en water en veilige losies in die kasteel te verdien. Ons gee vir haar die verantwoordelikheid om muise in die kasteel te vang, sy kan die kasteel se amptelike en formele muisvanger word.”

“Maar feëkoningin, daar is nie muise in jou kasteel nie” protesteer die diensknegte. “Die kasteel is silwerskoon, daar is niks ongediertes daar nie – nie eers een muis vir Fleurie om te vang nie. Fleurie gaan net elke dag in die son lê en niks doen nie, buitendien katte slaap die meeste van die tyd.”

“Aha,” glimlag die goedhartige feëkoningin tevrede, toe sy en Fleurie saam terug in haar goue koets klim. Sy troetel klein Fleurie op haar skoot, maak vir Fleurie met ʼn handdoekie droog en borsel haar hare totdat sy van bo tot onder blink. “Nou verstaan julle. Van nou af gaan Fleurie in die kasteel bly en in die son lê, net wanneer sy wil. En as sy op haar snoesige kombersie lê en slaap, mag julle haar nie steur nie. Sorg julle maar net dat sy baie kos en water het en elke dag in die tuin van die kasteel kan wandel, net soos ʼn eregas. Pas haar op en beskerm haar met julle lewens, net soos julle my beskerm en sorg dat sy nooit weer koud of alleen of nat word nie. Van nou af gaan ons almal sorg dat Fleurie die gelukkigste katjie ooit word, omdat sy spesiaal is en alle diere spesiaal is.”

Van daardie dag af het klein Fleurie in die feëkoningin se kasteel gewoon, gelukkig en tevrede, die oulikste klein katjie in die hele wêreld. En van daardie dag af was die goedhartige feëkoningin nie alleen ʼn koningin van mense nie, maar ook van diere.

*