Astronoom

Mosssieman, die astronoom

Mossieman en Geronkie die donkie lê een aand op die naat van hul rûe na die sterrehemel en kyk. Mossieman en Geronkie woon in die pragtige Vrystaat waar daar nie rook is nie en die uitspansel elke aand helder en asemrowend mooi is. Hulle lê lekker en appelliefies eet, terwyl hulle die hemel en die aarde op en af bekyk om te sien hoeveel sterre en planete hulle kant tel. Dit was ʼn donker nag en die Melkweg was helder te sien, met sy boog van sterre wat van links na regs oor die hemelruim span. Daar was selfs ʼn silwer randjie om die liewe maan.

“Mossieman, waar kom die hemel en die aarde vandaan?”

“Die antwoord is maklik, Geronkie.” Mossieman skil ʼn sappige appelliefie af en sit dit in sy kies. “Genesis.”

“Genesis?” vra Geronkie verwonderd. “‘Wat staan in Genesis?”

“Dat God die hemel en die aarde geskape het, en alles wat daarin is.

“Mossieman, kan ek jou maar ʼn reguit vraag vra?”

“Ja, vra maar,” antwoord Mossieman besadig, “solank ek ʼn skewe antwoord kan gee is die saak reg.”

“Wat wil jy eendag word?”

“Eendag, ” vra Mossieman, “bedoel jy volgende jaar of eendag voordat die wêreld tot ʼn einde kom?”

“Nee, voordat die wêreld tot ʼn einde kom.”

“n Astronoom.”

“ʼn As-tro-noom!  Wat is dit?”

“Dit is een van daai ouens wat na die sterre kyk en die maan ontleed. ʼn Astronoom maak seker die son skyn elke dag en die maan blink elke nag.”

’So, Mossieman, jy sê so ʼn ou wat na die sterre kyk is dan ʼn astronoom ?”

“Ja.”

“Wat daarvan as die ou sy sterre sien? Bedoel jy nie dalk ʼn as-tro-loog nie.”

“Man,” sê Mossieman vies, “dit maak nie saak hoe mens dit spel nie, ons doen dieselfde werk. Ons is voëls van eenderse vere.”

“Reg so” sê Geronkie,” effens skepties oor Mossieman se vermoë as astroloog en sy vermoë om die Melkweg te ontleed.

“Astrologies gesproke,” se Mossieman slim, “sien ek miljoene sterre in die heelal en ek weet daar is nog baie. As ek eendag ʼn astroloog is, kan ek al die sterre tel.”

“Astrologies gesproke?” lag Geronkie, “Mossieman, jy is darem vol groot woorde.”

“Tydsgesproke,” borduur Mossieman voort, “kyk ek so na die sterre en die maan en die Suiderkruis en dan weet ek presies wanneer dit middernag is.”

“Astrologies en tydgesproke, nê,” lag Geronkie vir Mossieman se groot woorde.

“Teologies gesproke sien ek ook die oneindigheid van die heelal en ek weet God is oral. Onse mense en diere op die planeetjie aarde is maar baie klein en nietig,” verklaar hy plegtig.

Geronkie hou skielik sommer op met lag en loer vir Mossieman so skuinsweg aan. “Dit is darem diep, Mossieman, diep dinge wat jy nou praat. Sinvol, inspirerend, indrukwekkend.”

Mossieman hou baie van Geronkie se komplimente oor sy kennis en sy taalgebruik en hy gesels lekker voort. “Meteorologies gesproke sien ek geen wolke nie en ek dink more gaan ʼn baie mooi dag wees. Dit gaan nie more reën nie.”

“En logies gesproke?” vra Geronkie skepties.

Mossieman dink so ʼn bietjie na en krap sy ken. “Logies gesproke, gebruik mens jou kop.”

“Mossieman,” sê Geronkie, “logies gesproke beteken dit as ons twee hier lê en vir die hemel en die sterre kyk, ons heldersiende is.”

“Nee, Geronkie,” sê Mossieman  streng, “gebruik jou gesonde verstand.  “As ons twee hier lê en na die hemel kyk, beteken dit dat iemand ons tent gesteel het.”

Geronkie lê weer so rukkie stil en staar weer na die hemel en die sekelmaan bokant hom. So nou en dan stop hy ʼn lekker appelliefie in sy kies.

“Mossieman, “as jy dan so slim is, waarop staan die aarde, of hang hy sommer so in die lug?”

“Waarop staan die aarde? Bedoel jy soos ʼn stok? Of op sy kop.”

 “Ja, die aarde, die maan, die sterre en die son. Waarop staan hulle of hang hulle sommer in die lug, of hang hulle aan ʼn toutjie?”

Mossieman dink so ʼn bietjie en kou aan sy sappige appelliefies. ‘As die aarde en die son en die maan nie aan iets vas is nie, hoekom val hulle dan nie deur die ruimte nie? Waarom bly hulle waar hulle is?’

“Wat is die antwoord, Mossieman?” vra Geronkie weetgierig. “Die aarde en maan en die planete wentel om die son, maar waarom val hulle nie af nie?”

Mossieman vryf sy ken. “Ek dink,” se hy met ʼn sug, “die aarde staan op op ʼn skilpad se rug.”

Geronkie kan sy lang ore nie glo nie. “Op ʼn skilpad se rug!” roep hy uit, “op ʼn skilpad se rug? Ag-nee, Mossieman, dit is absurd!”

“Ja,” sê Mossieman, “die aarde balanseer op ʼn skilpad se rug.”

“Ha..Ha..Ha,” lag Geronkie. “En waarop staan die skilpad? Het hy grond onder sy voete, of  ʼn podium?”

“Nee, ek weet nie,” antwoord Mossieman onseker, want hy is nou nie meer so seker dat hy ʼn slim sterrekundige wil word nie. “Miskien staan daardie skilpad op ʼn ander skilpad se rug.”

Geronkie se ore flap van kant tot kant soos hy lag. “En daardie tweede skilpad, op wie se rug staan hy ?”

Mossieman weet nou nie meer nie en hy loer benoud in die rondte, om te sien waar sy hulp vandaan sal kom. “Nee, ek weet nie, man Geronkie. Ek dink daai skilpaaie staan almal op mekaar se rûe tot heel onder.”

Geronkie rol in die stof soos hy lag. “Waar is heel onder? Wat is onder die onderste skilpad?”

“Nee, ek weet nie,” sê Mossieman verleë, “ek dink ek moet maar daarvan vergeet om ʼn astroloog te word.”

“Ja, vergeet daarvan, Mossieman, net-nou dink jy nog die aarde is plat ook!”

“Is hy dan nie ?”

“Mossieman, het jy nog nie foto’s van die aarde en maan gesien nie?”

“Nee, die aarde ìs plat. Die ou wat die fotos geneem het, het net ʼn ronde kamera gebruik.”

“n Ronde kamera?” vra Geronkie verbaas.

“Natuurlik, waar in jou lewe het jy al ʼn kamera met ʼn vierkantige lens gesien?” sê Mossieman stuitig, salig tevrede met sy kennis oor sterrekunde en hy eet nog ʼn sappige appelliefie.

*