Skedonkie

Geronkie se skedonkie

“Ek kon nog nooit mooi bepaal of Geronkie ʼn donkie of ʼn eseltjie is nie,” vertel Mossieman besadig, “totdat ek hom eendag op die plaas op ʼn skedonkie sien sit het.” Mossieman was aan die storievertel vir sy kringetjie vriende om ʼn kampvuurtjie net anderkant Koppie-alleen in die middel van die Vrystaat. Mossieman is ʼn legende in die Vrystaat en hy het baie vriende, onder ander Mys die muis, Spinne spinnekop, Ollie olifant, Krokkie krokodil, dominee Pikkewyn en Jakkals en Wolf. Dié klompie kon die lekkerste gesels en klets wanneer Mossieman stories om die kamvuur vertel, met ʼn swart keteltjie op die vuurtjie en een of twee mieliestronke aan die braai.

“Wat het jou aan die dink gesit oor Geronkie, Mossieman? verneem Mys die muis nuuskierig, terwyl hy met sy een tand aan ʼn sappige mieliepit kou. Benewens mieliepitte, hou Mys baie van melktert saam met sy boeretroos om die kampvuur en hy het altyd sy melktert met dominee Pikkewyn gedeel.

“Wel,” vertel Mossieman terwyl hy ʼn paar kamp-emmertjies rondskuif, “donkies in die Vrystaat is baie bekend daarvoor dat hulle karre rondtrek, veral op plase waar daar baie werk is om te doen. Dit is waarom die plaaskarre donkiekarre genoem word. Ek het nog nooit van eselkarre gehoor nie en daarom wonder ek nou of Geronkie ʼn eseltjie of ʼn donkie is.”

Krokkie krokodil gooi nog ʼn mieliestronk op die kole en help vir Spinne spinnekop om die vuur bietjie aan te blaas. “Het jy al ooit vir Geronkie een van die donkiekarre sien trek, Mossieman? Ek bedoel, het een van die boere al ooit vir Geronkie ingespan, met ʼn harnas en ʼn toom en so aan? Soos om aartappelsakke stasie toe aan te ry of mieliesakke by die koöperasie op Bothaville te gaan aflaai?”

“Nou-dat jy dit noem, Krokkie – nog nooit nie. Ek het wrintiewaar nog nooit vir Geronkie ingespan voor ʼn donkiekar sien staan nie. Of dat die donkiekar ry en Geronkie hom trek nie. Ek het al baie keer vir Geronkie die harnas in gesien, elke Saterdag as die Cheetahs op die rugbyveld in die stof byt, maar hy het nooit ʼn stang in sy bek gehad nie.”

“Dit kan net een ding beteken, Mossieman” gooi Ollie olifant met sy slurp ʼn stuiwer in die armbeurs, “en dit is dat Geronkie nie ʼn regte, egte Vrystaatse donkie is nie.”

“Enigiemand wat in die Vrystaat gebore is, is lewenslank ʼn Vrystater. Al is jou ouma- en oupagrootjie net in die Vrystaat gebore, dan is jy ʼn Vrystater. Al ken jy net iemand wat in die Vrystaat gebore is, is dit goed genoeg om van jou ʼn Vrystater te maak,” voeg Jakkals en Wolf in ʼn duet by.

“Ek twyfel al lankal aan Geronkie se geloofsbriewe,” bely dominee Pikkewyn somber en staar na die vonke van die mieliestronke oor die vuur. “Ek het nog nooit ʼn getuigskrif van Geronkie gesien nie, behalwe vir die een wat Virginia volkskool deurgestuur het. En daardie getuigskrif was ook maar kamma-kamma, hulle het bloot gesê dat Geronkie nie die stoutste donkie was wat al ooit daar skool gegaan het nie.”

“Seker ook nie die soetste nie,” piep Mys die muis onnodig.

“Stadig oor die klippe, manne,” waarsku Mossieman, terwyl hy die kole in die kampvuurtjie met ʼn lang stok rondskuif. “Dit is tyd vir boeretroos, sit daardie swart keteltjie op die vuur, dan kook ons bietjie koffiewater. Daar is ʼn smulseltjie  melktert ook, en gedraaide koeksisters. Help julself, manne.”

“As Geronkie nie ʼn regte, egte Vrystaatse donkie is nie,” grom Krokkie krokodil, “beteken dit net een ding. Hy is ʼn eseltjie.”

“Maar kan eseltjies donkiekarre trek?” laat Jakkals en Wolf gelyk hoor. Die twee stem nie altyd oor alles saam nie, maar om die kampvuur is al die diere van die Vrytaat stoere kamerade en vorm hulle ʼn gemeenskaplike front teen die vyand. In Jakkals en Wolf se oë is enigiemand of dier wat nie van die Vrystaat af kom nie, die vyand.

“Nou-dat julle so praat,” skinder Spinne spinnekop verder, “ek het al vir Geronkie op die plaas gesien. Daar is so ʼn ou perdekarretjie wat moedersielalleen so eenkant staan, verinneweer, stukkend van al die afskepery en met ʼn pap wiel. Rêrig niks meer as ʼn skedonk nie, hy staan maar so eenkant daar, trietsig en troosteloos, niemand gee meer aan hom aandag nie. Toe sien ek Geronkie daar by die lustelose ou perdekarretjie, net hulle twee alleen. Ek dink nie hulle het my raakgesien nie, want ek is klein en ek loop naby aan die grond.”

“Die keteltjie het klaar gekook, kêrels, hou julle koffiebekers, dan skink ek vir elkeen so ʼn skeutjie boeretroos. Daar is boerbeskuit ook, manne, help julself. Maar jy is reg, Spinne, ek het al ook vir Geronkie by daardie moëe perdekarretjie gesien.”

“Dankie, Mossieman, vir al jou gasvryheid, net soos ʼn regte Vrystater,” laat Ollie olifant van hom hoor en hy gaan sit op sy hurke met sy slurp in die lug. So kan hy makliker sy beker boeretroos met sy eet poot vashou en sy koeksister met sy ander. “Wat het Geronkie daar langs die skedonk gedoen, Spinne? Het hy met die treurige ou karretjie gesels? Het hy iets gesê?”

Spinne spinnekop vat ʼn teugie boeretroos en ʼn happie melktert, voordat sy haar bekkie genoeglik afvee. “Ek kon nie eintlik baie mooi hoor nie, soos julle weet is ek effens doof van my buurvrou se geskreeuery, elke keer as sy my sien. Geronkie is nie ʼn ou wat baie luidrugtig is nie, hy het baie goeie maniere, net soos dit die beste Vrystaters betaam.  Maar ek kon darem iets hoor, iets soos:

Ou perdekarretjie

My naam is Geronkie, die Vrystaatse donkie

Ek het nie ʼn motor nie en soek na ʼn ryding

As ek iewers heen moet haas, gaan ek by jou kom raas

Van nou af is ek jou maat, Geronkie die donkie

en jy is my skedonkie.”

*