Akke

Akke-akkedis verloor sy onderdeel

Die diere in die Vrystaat is almal vriende – almal ken mekaar en elke oggend drink hulle saam ʼn koppie boeretroos om die dag mee te begin. Dit is ʼn aardige gesig en wonderlik om te sien, omdat alle Vrystaters welkom is om saam koffie te drink. Behalwe vir voormalige koning van die diere, leeu, omdat hy geneig is om van sy mede koffiedrinkers vir ontbyt op te eet. Leeu het ʼn gewoonte daarvan gemaak om sy vriende en familie te verslind en naderhand het die regte koning van die diere, die wyse Mossieman, leeu se uitnodiging na die koffiedrinkery, teruggetrek. Leeu was eenvoudig nie meer welkom nie, omdat Mossieman van mening was dat daar min kans is dat leeu sy gedragspatrone en eetgewoontes sou verander. Leeu was met ander woorde persona non grata by die diere se bymekaarkomplek.

Dit was daardie jaar winter in die Vrystaat en dié oggend was daar konsternasie by die oggend-koffiedrinkery. Mossieman en sy adjudant, die minder begaafde Geronkie die donkie, kon sien dat al die diere van die Vrystaat nie teenwoordig was nie, van hulle was afwesig.

“Is almal dan hier?” verneem Mossieman besorg, terwyl sy oë soekend oor al die diere daal. “Dit lyk vir my bietjie skraps vanoggend, Geronkie. Ek dink ʼn paar ouens is afwesig. Miskien slaap hulle laat of hulle is nie vanoggend lus vir boeretroos nie.”

Hoewel Geronkie nie ʼn baie begaafde donkie is nie, kon hy baie goed tel. In Virginia volksool het hy en Mossieman altyd die beste punte vir somme en rekenkunde gekry – hulle het selfs die selfvername sekretarisvoël uitgestof as dit by tellery kom. “Ek weet nie, Mossieman, moontlik is jy reg. Wag, ek gaan tel gou al die diere en dan kom rapporteer ek terug.”

Mossieman trek nog ʼn heerlike boerbeskuit nader en doop hom in sy boeretroos. Boerbeskuit is Mossieman se gunteling ontbytkos, hoewel hy ook van krummelpap, mieliepap en ander tradisionele Vrystaatste ontbyte soos koeksisters en melktert hou.

Kort voor lank is Geronkie terug, met sy presensielys op ʼn klipbord in die poot. “Ek het ʼn volledige bestekopname gemaak, Mossieman en al die syfers met my griffeltjie op my lei aangeteken. Almal is hier, al die diere van die Vrystaat, behalwe vir Poffie pofadder.”

“Daar is ʼn slang in die gras, Geronkie,” mymer Mossieman bekommerd. “Poffie is nooit afwesig vir oggendkoffie nie, hy is altyd teenwoordig en lê gewoonlik voor in die ry om sy boeretroos te kry. Ons sal hom moet gaan soek. Kry ʼn soekgeselskap bymekaar en gaan soek hom! Vat ʼn paar vuurvliegies saam, hulle het mos ligte op hulle koppe. Gaan kyk in Poffie pofadder se slanggat of hy daar wegkruip.”

“Maar Mossieman, vuurvliegies se liggies sit mos op hulle sterte, nie op hul koppe nie!”

“Jy is reg, Geronkie, honderd persent reg. Stuur die vuurvliegies agterstevoor in Poffie pofadder se slanggat in, om te kyk of hy daar is.”

ʼn Uur of drie later is Geronkie se soekgeselskap terug van Poffie pofadder se slanggat af, met goeie nuus. Langs Geronkie staan Poffie self in lewende lywe, stert tussen die bene, te skaam vir woorde. Poffie is sò senuweeagtig, hy wil nie eers vir Mossieman in die oë kyk nie. Poffie dra ʼn sakkie saam, maar probeer die sakkie so wegsteek dat Mossieman hom nie raaksien nie.

“Wat het met jou gebeur, Poffie? Waarom het jy nie vanoggend vroeg soos gewoonlik saam met ons ʼn koppie boeretroos kom geniet nie? A-nee-a, dit sal mos nie deug nie! Wat het gebeur? En waarom kom jy hierdie tyd van die oggend hier aan? Waar was jy?”

Poffie pofadder kom druipstert nader om te verduidelik. Hy skuifel skoorvoetend rond sodat Mossieman nie die sakkie agter sy rug kan sien nie. Maar ʼn groot ou kwêvoël kan natuurlik nie sy bek hou nie en blaker luidkeels Poffie se geheim uit. “Hy steek iets agter sy rug weg, Mossieman! Hy steek iets in sy sakkie weg, kyk agter sy rug!”

Mossieman gluur vir Poffie pofadder streng aan en knip sy oë kwaai. “Toe-toe, uit daarmee, Poffie! Waar was jy en wat steek jy in daardie sakkie agter jou rug weg?”

Poffie besef dat sy kierangs gebraai is en haal skamerig die sakkie uit om vir Mossieman en al die ander diere te wys.

“Wat is in die sakkie, Poffie? Toe, maak oop dat ons sien.”

Die koël is deur die kerk en Poffie besef dat hy geen ander keuse het, as om met die hele mandjies patats vorendag te kom nie. Maak nie saak waar David die wortels begrawe het nie, hy sal sy geheim aan die groot klok moet hang.

“Dit is my stertjie in die sakkie, Mossieman,” bieg Poffie kop onderstebo. “My stertjie het afgeval en toe word ek skaam en toe bêre ek hom in my sakkie om my verleentheid te verberg. Ek is skaam om sonder my stertjie rond te sluip.”

Mossieman en Geronkie loer vir mekaar en al die diere kyk vir hulle. “Maar Poffie, slange se sterte val mos nie af nie. Waar het jy die stertjie gekry?”

“Reg langs my slanggat, Mossieman, daar waar die agterstevoor vuurvliegies en Geronkie die donkie my kom soek het.”

Mossieman begin glimlag en toe lag al die diere saam vir Poffie pofadder se skaamte. “Dit is nie jou stertjie nie, man. Bring hierso dat ek sien.”

Eerbiedig oorhandig Poffie pofadder die sakkie met sy stertjie in. Versigtig maak Mossieman die sakkie oop en loer binne-in. Al wat hy sien, is ʼn wriemelende klein groen stertjie wat nie wil stil lê nie. Die groen stertjie wikkel en wriemel om uit die sakkie te probeer kom. Vinnig knoop Mossieman die sakkie weer toe om die flukse stertjie in die sakkie te hou.

“Geronkie,” skaterlag Mossieman, “soek vir Akke-akkedis en sê vir hom ons het sy stertjie gekry.”

“Sien jy, Poffie,” spot Geronkie, “jy was verniet bang en nou het jou vanoggend jou boeretroos misgeloop. Jy het arme Akke-akkedis se akkedis-stertjie opgetel en in jou sakkie weggesteek. Die arme kêrel soek die hele dag al na sy verlore stertjie.”

“Akke-akkedis! Gedorie! Maar hoe weet jy dit is sy stertjie, Geronkie?”

“Want akkedisse gooi hulle stertjies af, as hulle groot skrik. Dan hardloop hy weg en die stertjie bly wriemel op die grond. Dit is sy misleidingstaktiek om weg te kom van gevaar af. Die arme Akke-akkedis het hom seker boeglam geskrik vir iets, toe raak hy van sy stertjie ontslae toe hy weghardloop.”

“Maar vir wie sou die arme akkedissie nou skrik, Geronkie? Vir wie is hy so bang?”

“Vir jou, Poffie, vir jou. Hy het vanoggend vroeg vir jou gesien en toe begin sy broek bewe van die vrees. Hy het gedink jy gaan hom pik en opeët, toe kies hy die hasepad. Net sy stertjie het oorgebly.”

Net toe kom Akke-akkedis bewend van vrees agter ʼn boom tevoorskyn en staan bangerig vir Poffie pofadder en al die ander diere en loer.

“Kom nader, Akke-akkedis, ons het vir jou ʼn groot verassing. Jou buurman Poffie pofadder het jou vermiste stertjie opgetel en hom veilig in ʼn sakkie bewaar. Nie waar nie, Poffie? En nou gaan Poffie  formeel weer jou stertjie vir jou teruggee.”

“Baie dankie, Mossieman en Geronkie. En Poffie. Dankie dat ek weer my verlore stertjie kan terugkry,” pik Akke-akkedis ʼn traan weg.

Plegtig oorhandig Poffie Akke-akkedis se stertjie. “Daar is net een probleem, ou Akke. Hoe gaan jy weer jou stertjie aan jou agterkant aankry? Ek bedoel, hoe gaan jy hom weer aanheg? Gaan jy wondergom gebruik?”

“Alles reg, Poffie, dankie. Nee, ons akkedisse heg nie weer ons stertjies aan nie, ons groei sommer ʼn nuwe stertjie.”

“Maar wat maak julle dan met julle ou stertjies?” vra Poffie verbaas.

“Ga-ga-ga,” lag Akke-akkedis. “Ons monteer hom op ʼn stukkie hout en sit hom op ons kaggel, net soos ʼn trofee.”

“’n Trofee? Op die kaggel?”

“Ja man, saam met die potrette en kiekies van ons voorouers en al die ander kaggeltwakkies.”

*