G wil nie bad nie

Geronkie die donkie wil nie bad nie

“Geronkie, jou stout donkie, waar is jy?”

Mossieman en sy vriendjie Mys die muis loop deur die Vrystaatse bos en roep na Geronkie die donkie, maar Geronkie is skoonveld.

“Die stouterd kruip vir ons weg,” beduie Mossieman vir Mys die muis wat dapper langs hom stap.

“Waarom kruip hy weg, Mossieman? Waarvoor trek hy kleinkoppie?”

“Hy wil nie bad nie, Mys. Geronkie weet dit is tyd vir sy jaarlikse bad, maar hy wil nie bad nie, omdat hy weet die water in die Vrystaat is yskoud. Nou kruip hy iewers in die bos agter ʼn populierboom vir ons weg. Of langs die magtige Sandrivier, onder ʼn wilgeboom. Of in ʼn grot.”

“Ons moet hom kry,” sê Mys die muis heldhaftig. Hy soek met sy skrefies-oë deur die bos en fynkam elke boom en struik. Mossieman en Mys soek en soek en loop die hele dag deur die bos, maar hulle kry Geronkie nêrens nie. Die karnallie is skoonveld.

‘Julle gaan nie vir Geronkie kry nie,’ skree Bobby bobbejaan vermakerig vir Mossieman en Mys bo uit sy boom uit. “Hy weet goed julle wil hom bad, hy kruip vir julle weg. Julle gaan hom nooit as te nimmer kry nie!”

Nà ure se gesoek is Mossieman en Mys die muis baie moeg gesoek en hulle gaan sit onder ʼn groot moerbeiboom se skaduwee. Fluks bring Spinnie spinnekop vir hulle elkeen ʼn creamsoda met ʼn papier-strooitjie om hul dors te les. In die Vrystaat gebruik niemand meer plastiekstrooitjies nie, want plastiekstrooitjies is nie omgewingsvriendelik nie.

“Ons sal ʼn plan moet maak,” dink Mossieman radeloos hardop. “Ons sal vir Geronkie om die bos moet lei en vir hom ʼn lokval stel om hom sy bad te gee. Ons sal vir Ollie olifant in die hande moet kry, hy moet kom handjie bysit.”

“Wat het jy in gedagte?” vra Mys sameswerend.

“Waar is Ollie olifant? Hy moet kom help.”

“Ollie olifant? Wat wil jy met Ollie olifant doen Mossieman?”

“Gaan roep hom net, Mys, ek sal later verduidelik. Toe, hardloop.”

Mys spring met ʼn dolle vaart daar weg, op soek na Ollie olifant wat gewoonlik in die digte bosse rustig staan en blare vreet. Mys kom versigtig nader en roep vir Ollie.  “Mossieman soek jou, Ollie! Jy moet by hom gaan rapporteer, anders kry jy brandboude.”

“Waarvoor,” vra Ollie doodluiters en hou aan om blare van die takke van die bome af te vreet.

“Ollie, jy beter opskud. Jy weet as Mossieman jou soek moet jy spring, hy is die baas. Maak gou anders kom jy in die moeilikheid by Mossieman. Toe, roer jou.”

“Maar waaroor gaan dit, Mys? Waarom is dit so dringend?”

“Jong, ek mag nie uitpraat nie, maar dit het iets met Geronkie se jaarlikse bad te doen. Hy wil alweer nie bad nie en jy moet kom help.”

“Reg so,” sê Ollie onderdanig en hy bêre met sy lang slurp die laaste groen blare in sy kies. “Ek kom, ek is oppad.”

Mossieman sit intussen slim planne en beraam en hy roep vir Bobby bobbejaan nader. “Bobby, gaan sê jy vir Geronkie dat Ollie olifant na hom soek.”

“Ek maak so, Mossieman,” jil Bobby bobbejaan van plesier en spring rats die bome in.  Bobbejaan is ʼn bok vir sports en hy hou van poetse te bak. Nie te lank nie, of Bobby bobbejaan kry vir Geronkie die donkie waar hy agter ʼn bloekombos wegkruip.

“Aha! Nou het ek jou, Geronkie! Uitgevang!” jil Bobby bobbejaan opgewonde.

“Hoe het jy my so gou gekry, jou bobbejaan?” kla Geronkie mismoedig en loer benoud om hom rond, bang dat Mossieman naby is en hom gaan dwing om te gaan bad.

“Nee wat, Geronkie, jy kan nie meer wegkruip nie,” lag Bobby bobbejaan. “Jou ore is te lank en hulle steek agter die bloekomblare uit.”

“Ja, ek weet,” teem Geronkie mismoedig en probeer sy ore skaam verberg. “My ore is sò lank, ek weet nie waar om hulle weg te steek nie.”

“Ek moet nou verkas en terugrapporteeer aan Mossieman,” skree Bobby bobbejaan en hy spring weer die bome in. “Onthou om vir Ollie olifant te gaan soek.”

“Ek maak so, Bobby,” sê Geronkie en kom voetjie vir voetjie uit sy wegkruipplek tevoorskyn. “Solank Mossieman my nie in die hande kry nie. Ek is bang vir hom, ek wil nie bad nie.”

Uiteindelik kom Ollie olifant by Mossieman aan waar hy rustig op ʼn tak langs die rivier sit en dink.

“Waarmee kan ek help, Mossieman?”

“Ek is bly jy het gekom, Ollie. Geronkie is stout en hy wil nie sy jaarlikse bad vat nie. Jy moet ons help.”

“Wat moet ek doen?”

“Maak jou maag vol water met jou lang slurp – drink soveel water as wat jy kan en bêre al daardie water in jou maag.”

“Dit kan ek maklik doen,” sê Ollie en stap af rivier toe. Ollie drink sy maag knuppeldik vol water en swaai sy slurp heen en weer van pure plesier.

“Reg,” sê Mossieman tevrede toe hy sien dat Ollie Olifant se maag vol water is.  “Nou moet jy wakker wees, Ollie. Geronkie gaan na jou kom soek en as hy naby kom, moet jy hom met jou lang slurp afspuit. Gee hom ʼn lekker stewige stort.”

“Dis maklik, Mossieman, “ek het soveel water in my maag dat ek vir Geronkie sommer ʼn papnat stort gaan gee.”

Al die diere van die bos kom nuuskierig nader om te kyk wat gaan gebeur. “Ollie! Ollie!” hoor hulle Geronkie se stem deur die bos weergalm. “Wàààr is jy?”

“Hierso, Geronkie,” bulder Ollie olifant en lig sy slurp hoog in die lug. “Soek jy na my?”

“Ollie, Ollie, ek soek jou!” Geronkie kom al hoe nader en sien vir Olie raak.  “Bobby bobbejaan sê jy het ʼn boodskappie vir my Ollie. Hier is ek! Wat is die boodskappie?”

Ollie olifant trompet met sy slurp hoog in die lug en kyk vir Geronkie. “Geronkie, staan bietjie so skuins teen die boom, ek gaan nou vir jou die boodskappie gee.” Voor Geronkie besef wat aangaan, suig Ollie olifant sy slurp vol water en spuit vir Geronkie papnat. Ollie het soveel water in sy maag dat hy sommer vir Geronkie tien tien minute lank natspuit. Geronkie probeer eers wegkruip en toe spring hy rond soos ʼn kat op ʼn warm sinkplaat, maar wegkom kan hy nie en Ollie hou net aan spuit en spuit met sy lang slurp. Naderhand is Geronkie en die boom en al die diere om hulle, waternat.

Uiteindelik hou Ollie op en al die diere van die bos lag vir Geronkie waar hy sopnat-druipstert staan, sy ore hang sommer halfmas. Alles is nat, Geronkie se ore, sy vel, sy hare en sy stert.

Toe Geronkie nà sy besprinkeling klaar afgedroog het, kyk hy verwytend na Ollie Olifant wat weer lustig aan die bome se blare vreet.

“Ag sies Ollie, hoekom spuit jy my so papsopnat? Dit is soos ʼn afrantseling, met water. Wat is die boodskappie wat jy vir my wil gee?”

“Geronkie, my ou maat” lag Ollie olifant, “die boodskappie is dat jy moet onthou om elke jaar jou bad te vat. Anders sproei ek jou weer sopnat.”

“Maar, Ollie” kla Geronkie beteuterd en maak agter sy lang ore droog, “ek bad mos elke jaar een keer in die somer en bietjie minder in die winter.”

ʼn Rukkie later sit Mossieman, Ollie olifant en Mys die muis behaaglik en uitspan onder ʼn groot ou Vrystaatse vyeboom, elkeen met ʼn beker boeretroos in die poot en baie bly dat die groot werk om vir Geronkie gebad te kry, vir nog ʼn jaar verby is.

Mys die muis lig sy bekertjie boeretroos om ʼn heildronk op Olie olifant in te stel.  “Wel gedaan, Ollie!”

“Ja, knap gedaan Ollie,” beaam Mossieman Mys se wyse woorde. “Jy moet daaraan dink om ʼn stort- en sproeibesigheid te begin.”

“Ek het al klaar, Mossieman,” lag Ollie olifant tevrede. “My nuwe besigheid se naam is Papnat Besproeïng en ek beplan om al die diere van die Vrystaat een keer ʼn jaar ʼn lekker gratis sopnat stort te gee. Hulle moet net hulle eie snorkels en handoeke saambring.”

*