mars

Die marsmannetjies

Dit was laat winter in Ficksburg in die Oos Vrystaat, waar Mossieman en Geronkie die donkie ʼn wyle vertoef het om die jaarlikse kersiefees by te woon. Ficksburg is regoor die hele wêreld bekend vir sy lekker sappige rooi kersies en een keer per jaar hou die inwoners ʼn groot fees waar almal kersies eet, totdat hulle trommeldik is.

Alle Vrystaters is elke jaar welkom om die fees by te woon, ook ʼn paar marsmannetjies wat toevallig daardie tyd met hulle maantuig oor die Oos Vrystaat gesweef het. “Kom ons land daar – daar onder, op hierdie planeet. Die planeet se naam is Aarde, maar sommige van ons landgenote noem hom die blou planeet. Kom ons land in die middel van die Aarde, dan kyk ons wat daar aangaan. Miskien is daar lewe en mense daaronder.”

Ook nie links nie, toe land die marsmannetjies se maantuig net langs Ficksburg se skougronde waar die kersiefees gehou word. Orals is daar mense en diere en stalletjies en sambrele. Almal hou fees en eet rooi kersies, todat hul magies koëlrond is. Die marsmannetjies trek hul maantuig se handbriek vas en klim belangrik met ʼn klein silwer leertjie by die deur uit. Niemand sien hulle raak nie, behalwe vir Mossieman en Geronkie wat rustig onder een van die Vrystaat se groot kersiebome ʼn middagslapie geniet. Die twee van hulle het te veel kersies geëet en nou lê hulle in die skaduwee van die bome hul roes en afslaap. Altwee snork dat die biesies bewe, dit klink of hulle balke saag terwyl hulle ʼn uiltjie knip.

“Goeiemiddag,” groet die eerste marsmannetjie vriendelik en trek onnutsig aan een van Geronkie se lang donkie-ore. “Ons kom van Mars af! Wie is julle?”

Geronkie beweeg nie ʼn ooglid nie en snork vir die vale. Mossieman is self in kersie- droomland en so nou en dan sug hy tevrede in sy slaap.

“Waarom antwoord hierdie aardbewoners ons nie?’ verneem die marsmannetjie vieserig en skud sy kop. “Verstaan hulle nie Afrikaans nie?”

“Ek begryp nie waarom hulle nie met ons wil kommunikeer nie,” kla die tweede marsmannetjie. Moedswillig trek hy aan Geronkie se stert en druk sy vinger in Geronkie se oor, maar niks gebeur nie. Geronkie is in droomland. Hy roer nie eers ʼn ooglid nie, so diep slaap hy.

“Neewat, hierdie aardbewoners reageer nie eers as ons met hulle praat nie,” kla die eerste marsmannetjie. “Hulle is nogal ongeskik, ongepoets, geen maniere nie. Ek het gedink hierdie aardse wesens sal darem bietjie vriendelikder wees, maar nee. Hulle ignoreer ons heeltemal. Seker maar omdat ons so snaaks lyk.”

“Wat-wou snaaks lyk! Ons?” wil die tweede marsmannetjie nors weet. “Ons lyk nie snaaks nie, almal op Mars lyk dan dieselfde. Dit is hulle wat snaaks lyk. Kyk net hierdie een wat so snork. Sy ore is lank en flapperig – hy het ʼn krom stert en tamaaie tande, net soos ʼn krokodil.”

“Daar’s nie krokodille op Mars nie! Hoe weet jy hoe ʼn krokodil lyk?”

“Ek het fotos in ʼn ensiklopedie in ons skoolbiblioteek gesien. Ek weet hoe hulle lyk. Ek sê nou vir jou, hierdie koddige een met die flenter-ore is nie ʼn krokodil nie.”

“Wat van hierdie klein enetjie? Hy sit net en slaap, hy lê nie eers nie.” Versigtig voel die marsmannetjie aan Mossieman se snawel en trek sy stertvere, maar hy kry geen reaksie van Mossieman se kant af nie. Mossieman droom rustig van al die sappige rooi kersies wat hy nog gaan eet en steur hom glad nie aan die marsmannetjie nie. Daarvoor is kersie-droomland te lekker.

“Nee-wat, hierdie een wil ook nie met ons praat nie. Hy sit net doodstil, toe-oog. Die ongeskikte vent. Hy ignoreer ons heeltemal.”

“Ek moet sê,” merk die tweede marsmannetjie lakonies op, “ek is nogal teleurgesteld in die aarde se mense. Hulle is regtig nie baie vriendelik en tegemoetkomend nie. Mens sou dink omdat ons van ʼn ander planeet af kom, spesiaal om vir hulle te kom kuier, dat hulle darem vriendeliker sal wees en mens ʼn koppie boeretroos sou aanbied. Met ʼn stukkie boerbeskuit en Vrystaatse koeksisters. Maar nee, hulle wil niks van ons af weet nie.”

Net toe word Geronkie die donkie en Mossieman gelyk wakker van al die pratery om hulle. Mossieman kyk verbaas om hom rond en toe na die twee groen outjies wat hier langs hom staan. Op en af, kruis en dwars, beloer hy hulle, want sulke vreemde groen gedaantes het hy nog nooit gesien nie. “Wie is julle?” verneem Mossieman belangstellend, terwyl hy sy kop krap en sy oë uitvee. “Waar kom julle vandaan?”

“Ons kom van Mars af, ons is hier na julle planeet Aarde toe gestuur om te kyk of hier intelligente lewe is. Ons wil graag bilaterale verhoudinge met julle aanknoop.”

Geronkie kan sy flenter-ore nie glo nie en hy skaterlag. “Hoor jy dit, Mossieman! Hierdie twee jafels wil my vertel hulle kom van Mars af!” Ga-ga! balk Geronkie van die lag en Mossieman kan nie help om saam te lag nie, die twee koddige groen mannetjies is vir hom net so snaaks. Geronkie staan op en stof sy kortbroek af. “Kom, Mossieman, kom ons gaan soek nog kersies om te eet by die Kersiefees. En biejtie boeretroos om te drink.”

Altwee die marsmannetjies staar Geronkie sprakeloos aan, hulle oë groot van verbasing. Nie een van die twee kan ʼn woord uitkry nie.

“Reg so, Geronkie,” knipoog Mossieman. “Alles van die beste, manne, ons moet wikkel. Ons kan sommer sien julle twee laaities het ingeskryf vir die Kersiefees se ‘fênsie dress’ kompetisie. Met daardie snaakse groen klere behoort julle nogal te wen! Mooi loop, groen manne, groete! Ons gaan nou kersies eet.” Geronkie en Mossieman grinnik vir die marsmannetjies en stap laggend weg om boeretroos en ʼn snytjie kersiekoek te gaan soek.

Mossieman klop vir Geronkie op die skouer. “Vreemde wesentjies, daai twee. Het jy gesien die een ou het net een oog, in die middel van sy voorkop.”

“Ja, Mossieman,” lag Geronkie, “mense doen deesdae nogal wondere met grimmering.”

“Onvriendelike mense,” brom die eerste marsmannetjie toe hulle terugstap maantuig toe. “Ongepoetste lotjie,” kla hy verder, terwyl hy hom in sy sitplek vasgespe. “Maak gereed, ons gaan lanseer. Maak toe die deur van die kapsule! Veiligheidsgordels aan, skoenveters vas, ons styg binnekort op!”

“Moet jy nie eers terugrapporteer hoofkantoor toe nie? Net-nou wonder die ander ouens op Mars oor wat van ons geword het. Dalk is hulle al bekommerd oor ons.”

“Miskien is jy reg,” sê die tweede marsmannetjie en skuif sy gehoorstuk oor sy kop. “Aarde na Mars. Aarde na Mars! Kom in. Kom in, asseblief.”

“Marskantoor hierso. Ons hoor julle hard en duidelik. Gaan voort.”

“Mars, ons verlaat nou die aarde. Ons is besig om op te styg.”

“Waarom so vinnig, manne? Wil julle nie ʼn rukkie langer om die aarde vertoef nie?”

“Nee, Mars, die mense hier kommunikeer glad nie met ons nie. Hulle lê net onder die bome en slaap en hulle wil nie praat nie. Hulle oë is ook die hele tyd toe en hulle snork. En as hulle wakker is, grynslag hulle net vir ons en trek skewe gesigte.”

“Ai, dit is jammer, manne. Ons sou graag wou hoor wat hulle vir hulself te sê het.”

“Niks nie, Mars. Hulle sê niks nie, hulle lag net vir ons – hulle dink ons het ingeskryf vir die een of ander snaakse klere kompetisie. Dit is baie teleurstellend. Hulle lyk ook glad nie soos die fotos wat ons in ons biblioteek by die skool gesien het nie.”

 “Reg so, manne. Waarnatoe is julle nou op pad?”

“Die maan is die naaste aan die aarde, Mars, maar ons was al baie kere daar. Naas Mars is Venus die planeet naaste aan die aarde. Ons het gedink ons vlieg maar Venus of Pluto toe om te kyk of daar iets daar aangaan. Miskien is daar interessanter mense om mee te praat, hierdie lotjie op die planeet Aarde is maar bra vervelig. En hulle is lelik! Party het goot flenter-ore en andere klein vaal bekkies.”

“Reg so, marsmanne! Enigiets anders?”

“Ja, Mars, ons bring vir julle ʼn persentjie saam om te sien hoe goeters van die aarde af lyk. Twee reuse rooi bessies – hulle lyk amper soos die kersies wat ons daar op Mars het.”

“Reg so, marsmanne, veilige reis. Lekker sweef. Groete van planeet tot planeet.”

*