wag

Die wag-ʼn-bietjie-bos

“Bosse en struike is darem die mooiste goed in die hele wêreld,” sê Geronkie die donkie alwetend, terwyl hy en sy boesemvriend Mossieman rustig deur die pragtige Vrystaatse woude drentel. Hulle kon gestap het, maar drentel is baie lekkerder en sy sien baie meer dinge langs die pad raak.

Die Vrystaatse woude, êrens langs die pad tussen Virginia en Bloemfontein, is die mooiste woude in die hele Suid-Afrika, met hoë populierbome, hemelblou riviere en koel, helder waterstroompies, magtige berge, koppies wat alleen staan en geil groen mielielande. Baie mense wat al die Vrystaat besoek het, het gesê dat hulle nog nooit so ʼn verruklike mooi plek gesien het nie. Nie in Venezuela of Japan nie, ook nie in Ghana of Tasmanië nie, of in Denemarke en Argentinië nie.

“Ek stem ʼn bietjie met jou saam,” sê Mossieman en hy skud sy swierige kuif so een of twee keer heen en weer. “Maar nie heeltemal nie. Want as ek heeltemal met jou saamstem, Geronkie, is ons altwee dalk verkeerd. Daar is darem bosse wat mooier as bome en struike is.”

“Soos wat,” verneem Geronkie skepties, soos net ʼn donkie kan. Vir hom is alles wat in die Vrystaat groei, asemrowend en mooi en pragtig, veral mielielande en die grou-grys mynskagte wat towerend langs die mynhope staan.

“Soos ʼn wag-ʼn-bietjie bos.”

“Vir wie wag hy?” verneem Geronkie skepties. “Hoekom wag hy vir iemand?”

“Nee man, hy wag vir niemand nie, jy wag vir hom. Kom ek gaan wys jou.”

“Hoe lyk so ʼn wag-ʼn-bietjie-bos nogal? vra Geronkie agterdogtig, maar hy drentel nietemin saam met Mossieman na die rivier se kant toe.

“Hy het skerp dorings en krom tentakels en as hy jou vang, dan sit jy vas. Hy los jou nie uit nie, al spartel jy. Mens kan maar sê jou doppie is geklink.”

“Hoekom? Ek bedoel, waarom, Mossieman?”

“Hoe meer jy baklei om los te kom, hoe meer draai hy jou vas in sy doringtakke.”

Mossieman en Geronkie sit af na die Sandrivier toe, die mooiste rivier in die hele wêreld wat deur die middel-Vrystaat vloei. Die Sandrivier is selfs mooier as die Blou Donau in Oostenryk en Pole, die Rooi See in Israel, die Swartsee in Rusland en die Oranje Rivier in die Kalahari. Op die walle van die magtige Sandrivier gaan staan Mossieman en hy kyk bietjie rond.  “Hier moet ʼn wag-ʼn-bietjie-bos hier iewers wees. Kom ons gaan soek hom, Geronkie, volg my.”  Mossieman stap fluks weg, op en af langs die Sandrivier, op soek na die bos. Hier en daar jaag hy ʼn oorlamse likkewaan uit die pad uit om beter te kan drentel en soek na ʼn wag-ʼn-bietjie-bos om vir Geronkie te wys.

Ewe skielik hoor Mossieman ʼn onaardse gil hier kort agter hom, naby die rivier. “Help! Help! Mossieman, help my!”

Geronkie balk kliphard en Mossieman vlieg vervaard om. “Wat nou, wat gaan aan? Waarom raas jy so, Geronkie?”

“Help Mossieman! Help my!”

“Wat gaan aan, Geronkie? Wag, ek kom help jou!”

“Ek sit vas! Help my, ek sit vas! Iemand het my gegryp, ek kan nie loskom nie! Miskien ʼn monster of ʼn spook, ek sit vas! Yeeeeaaalpp!”

Mossieman vlieg terug na die rivier se wal toe en daar sien hy ʼn angswekkende gesig. Geronkie sit vas in ʼn bos en hy spartel vir al wat hy werd is om los te kom. “Help my” balk hy verontwaardig. “My stert kan nie beweeg nie!” Geronkie sit vasgestrengel, die takke van die bos het hom gegryp en die dorings hak aan sy boude. “Ek kan nie loskom nie, ek kan nie loskom nie! Eina!”

Mossieman kan sy lag nie hou nie. “Die wag-ʼn-bietjie-bos het jou beet, Geronkie! Moenie spartel nie, hy knoop jou net vaster.”

“Yeeeeaaalpp!”

“Hou op spartel, Geronkie,” korswil Mossieman. “Ek maak jou gou-gou los, staan net doodstil. Die dorings slaan in jou vel vas, as jy ruk en pluk knyp hulle jou nog meer.”

“Ek het nie ʼn vel nie,” kerm Geronkie vies, “ek het maanhare.”

“Wel, die wag-ʼn-bietjie-bos voel vere vir jou, hy draai jou net vaster en vaster.”

“Ag, Mossieman,” kla Geronkie eina-eina, “waarom het jy my net vertel van die wag-ʼn-bietjie-bos nie? Jy hoef my mos nie te kom wys nie, ek het nie ʼn demonstrasie nodig gehad nie.”

“ʼn Wag-ʼn-bietjie-bos laat nie op hom wag nie, Geronkie. As jy by hom verbyloop, omarm hy jou sodat jy bietjie langer moet wag, jy kan nie net sommer verbystap nie. Dit is ongeskik om in die Vrystaat net verby ʼn wag-ʼn-bietjie-bos te stap, sonder om ʼn wyle te talm.”

“Maar waarom, Mossieman? “Waarom het die wag-ʼn-bietjie-bos my gevang?”

“Sodat jy nie so haastig moet wees nie en ʼn bietjie meer tyd in moeder natuur moet deurbring, Geronkie. Die wag-ʼn-bietjie-bos sê maar net vir jou moeder natuur is mooier as die lewe in die stad en dat jy nie so haastig en ongeduldig moet wees nie. Die wag-ʼn-bietjie-bos is die aarde se manier om vir jou te fluister: ‘nie so haastig nie, vriend. Kyk na my, ek is mooier as wat jy dink.’ Moeder natuur gee vir jou ‘n boodskappie, Geronkie. Sy sê, loop stadiger, haal diep asem, ruik die aarde en die blomme, trap met jou hakke in die grond, kyk op na die hemel en luister na elke klein voëltjie se môrelied. Vryf die reën oor jou gesig, glimlag vir die son en die maan en die sterre en hamba gahlé, Geronkie. Loop stadiger deur die lewe, my vriend. Loop saggies.”

 _