beans

Boontjie kry sy loontjie

Die magtige Sandrivier vloei deur die middel van die Vrystaat en gee lewe en water aan die boere waarmee hulle die mooiste en beste geelmielies in die hele wêreld produseer. Geelmielies wat langs die magtige Sandrivier se kronkelende blou waters grootword, is die beste en sappigste mielies wat daar is en dit is die hoofrede waarom Geronkie die donkie en sy boesemvriend, Mossieman in die Vrystaat langs die rivier bly. Mossieman is die baas van al die diere en voëls in die Vrystaat en sy hoofkantoor is hoog in die takke van een van die reuse populierbome op die walle van die beroemde rivier. Hierso hou Mossieman belangrike vergaderings oor die diereryk en bekyk hy elke dag die manewales en kaskenades van sy onderdane met vaderlike oë.

“Kom kyk hierdie spulletjie, Geronkie,” roep Mossieman eendag vir Geronkie nader. “Hieronder, op die wal van die rivier. Kom kyk wat vang hulle aan.”

Geronkie staan nuuskierig nader en loer na drie ouens wat hy op die wal sien staan. “Wie is dit?” verneem hy belangstellend. Dit is nie dikwels dat daar besoekers deur die Vrystaat reis nie en die drie vriende op die wal maak sy belangstelling gaande.

“Ek ken daardie drie narre,” merk Mossieman lakonies op, “hulle is reisigers. Dit is Boontjie, Strooitjie en Kooltjie Vuur wat daar staan. Hulle is altyd op pad na nêrens.”

Geronkie bekyk die drie verdwaalde vriende op en af. “Hoe gaan hulle aan die anderkant van die rivier kom?” wonder hy hardop en Mossieman begin lag. “Nee-wat, ek weet nie, maar ek kan jou een ding belowe. Kort voor lank is al drie van hulle in die water. Kom ons kyk wat doen hulle. Ons kan lekker sit en kyk hier uit die boom uit.”

Na heelwat kopkrappery oor hoe om aan die anderkant van die Sandrivier te kom, bied Strooitjie aan om oor die water te lê sodat Boontjie en Kooltjie Vuur oor hom kan loop. Soos ʼn brug.

“Julle kan my vertrou,” belowe Strooitjie en hy strek sy arms en bene uit om aan albei walle van die rivier gelyk te raak. “Loop maar oor my, dan kom julle droog aan die anderkant uit. Niks sal gebeur nie.”

“Ek is nie so seker nie,” brom Boontjie, maar hy balanseer sy boude en loop benoud oor Strooitjie om oor die water te kom. “Kom Kooltjie, kom ons loop.”

In die middel van die rivier slaan Kooltjie Vuur aan die brand en voor jy kan sê; ‘Cheetahs druk ʼn drie,’ brand hy vir Strooitjie middeldeur. Woeps-waps beland Kooltjie Vuur en Boontjie pens en pootjies in die konkelende waters van die magtige Sandrivier. Boontjie dryf op die water, maar arme Kooltjie maak net ʼn sis-geluid voordat hy onder die water verdwyn. Kooltjie sink soos ʼn klip en kort voor lank lê hy saam met die paddavisse op die bodem van die rivier.

Boontjie lag hom ʼn papie, sò hard dat hy bars, sommer middeldeur. Altwee Strooitjie se bene is afgebrand, Kooltjie Vuur lê op die bodem van die rivier en Boontjie is middeldeur.

Geronkie die donkie en Mossieman lag so dat hul magies skud en oë traan. “Daar het jy dit nou, Geronkie. Kooltjie vuur betaal baie duur, Strooitjie sit in dieselfde bootjie en Boontjie kry sy loontjie.”

*