muis en kat

Kat in ʼn sak

Mossieman en Geronkie is Saterdagoggend op pad Virginia dorp toe om bietjie inkopies te doen, toe hulle Mys die muis onder in die kronkelpad sien aankom.

Mys die muis loop elke Saterdag langs die magtige Sandrivier rond, met ʼn groot swart sak oor sy skouer. So nou en dan stop Mys om bietjie asem te skep – die sak is swaar en partykeer raak Mys moeg, dan moet hy maar die sak aansleep. Die diere van die Vrystaat terg Mys die muis baie, omdat hy so klein is en naby aan die grond loop, maar as dit by sak-dra kom, is Mys die kampioen. Daarby is die bos vol nuuskierige agies wat altyd by Mys die muis wil weet wat in sy sak is.

“Dis my geheim,” fluister Mys dan net geheimsinnig en loop verder op sy pad, al beurende met die allemintige swart sak. Naderhand is daar honderde diere, voëls, inskekte, brommers, hoenders en groen wurms wat al agter Mys die muis aantou. “Wat is in jou sak, Mys,” spot die diere, “waarom dra jy elke dag jou swart sak rond?”

“Want ek is bang vir slange,” antwoord Mys uitasem en loer so effens bangerig in die bos rond.

“Maar Mys,” lag al die diere vir hom, “behalwe vir Poffie Pofadder, is daar is nie slange in die Vrystaat nie.”

“Natuurlik is daar nie,” antwoord Mys vol selfvertroue, “my kat in my sak het al die slange gevang en opgevreet.” So af en toe lag Mys lekker in sy mou, want niemand weet regtig wat in sy sak is nie. ‘Ek is ʼn muis,’ dink hy, ‘dink hulle regtig ek kan ʼn groot kat in my sak roddra?”

Poffie Pofadder het die storie gehoor van al die ander slange uit die Vrystaat geëmigreer het, omdat hulle bang is vir Mys die muis en sy swart sak. Poffie is al lankal lus vir bietjie muisvleis en dreigend seil hy nader. ‘Vandag is my dag,’ dink hy gulsig en maak kop-orent gereed om vir Mys te pik.”

Maar Mys die muis is ʼn op en wakker muis en hy sien Poffie se plan om hom te pik, sommer van ver af raak. “Nie so vinnig nie, Poffie! Weet jy dat ek my kat in my sak oor my skouer ronddra? As jy my probeer pik, gaan ek die sak neersit en dan gaan die kat uitkom en jou vang en opvreet.”

Poffie Pofadder aarsel ʼn oomblik om aan Mys die muis se dreigement te dink. Hy is nie lus om katkos te word nie, vir katte is hy baie bang. In die Vrystaat het hy al baie groot katte gesien, rooikatte, leeus, luiperds, cheetahs, musseljaatkatte, seekatte, allerhande katte en hy is vir almal bang. Hy wil nie regtig deur ʼn kwaai kat opgeët word nie. Stadig-stadig begin hy agteruit seil, terug in sy bos in, stert tussen die bene.

“Het jy gesien, Mossieman?” klop Geronkie opgewonde vir Mossieman teen die skouer. “Kyk net hoe bang is daai Poffie Pofadder vir die kat binne-in Mys die muis se sak!”

Mossieman krap sy kop met sy veerpoot.”Ek het gesien, Geronkie, maar ek wonder of daar regtig ʼn kat in Mys se sak is. Net omdat hy sê daar is ʼn kat in sy sak, beteken nie dat daar rêrig ʼn katjie daarbinne is nie.”

Net toe kom leeu om die draai en hy sien vir Mys raak. Leeu is ʼn voormalige koning van die diere in die Vrystaat en ʼn lid van die Groot Vyf , totdat Ollie Olifant hom ontroon het. Van daardie dag af is hy net ʼn gewone leeu, alhoewel die ander vier hom toegelaat het om nog ʼn lid van die Groot Vyf te bly. Vandag is leeu egter lus vir muisvleis en hy brom en hy grom om Mys die muis se aandag te trek. “Vandag eet ek jou op, Mys! Sommer vir jou en alles binne-in die sak wat jy daar oor jou skouer dra.”

Mys kyk vir leeu op en af en sit sy sak op die grond neer om ʼn ruskansie te geniet. Vinnig-vinnig slaan Mys ʼn kampvuurtjie aanmekaar en kort voor lank prut sy beker boeretroos oor die kole. Mys haal ʼn stukkie boerbeskuit uit sy knapsak en begin stadig daaraan knaag, terwyl hy wag dat sy boeretroos kook. “Nee-wat leeu, daarvoor is jy te lig in die broek,” sê Mys nonchalant en maak sy skoenveters vas. “Jy sal dit nie waag nie, veral nie as jy sien wat ek in my sak het nie. Jy sal groot skrik, leeutjie. As ek jy is, maak ek dat ek wegkom, voordat dit te laat is.”

“Ek glo jou nie, Mys,” grom leeu en lek sy lippe af. “Wys my.”

Mys die muis maak eers sy ander skoenveter vas, toe drink hy die laaste slurpie van sy boeretroos en bêre die res van sy boerbeskuit-krummels in sy knapsak. “Kyk nou mooi, leeutjie, gee aandag en fokus. Ek gaan vir jou my groot kat se stert wys en dit is al. Jy gaan nie weet of my groot kat ʼn bergleeu is nie, of dalk ʼn bloedorstige Siberiese tier, ʼn kwaai luiperd, of ʼn vinnige cheetah of  ʼn pikswart puma uit Suid-Amerika nie. Maar elke een van hulle kan jou opvreet. Maklik opvreet.”

Leeu en Geronkie en Mossieman en al die diere staan bangerig nader om te sien wat in Mys die muis se sak is. Versigtig maak Mys sy sak so ʼn skrefie oop en skielik sien die diere ʼn stert binne-in die sak swiep en piets. “Pasop!” balk Geronkie beangs, sy oë so groot soos pierings. Al die diere skrik hulle wind uit en laat spaander vervaard in alle rigtings. “Help ons!” kwetter die diere vreesbange terwyl hulle met leeu vooraan weghardloop, sterte tussen die bene. Mys die muis grom sommer so bietjie by, net om die diere nog banger te maak en lag hom ʼn papie toe hy sien hoe hulle die hasepad kies.

Toe Mys die muis klaar die trane uit sy oë gevee het van al die laggery, pak hy sy koffiekan terug in sy knapsak en blaas sy kampvuurtjie dood. Tyd om die pad te vat, knapsak oor sy rug, vaarwel te sê vir die lewe in die stad. 

“Wàààg so ʼn bietjie Mys, nie so haastig nie! Waarnatoe dink jy is jy so vinnig oppad?” Verbaas kyk Mys op en sien vir Mossieman op ʼn tak in die boom sit, reg bokant sy kop. Mossieman is die enigste Vrystater wat nie weggevlug en weggevlieg het nie en hy sit rustig die kat uit die boom uit en kyk.

“Maak oop daai sak, Mys. Jy kan dalk hierdie hele spulletjie diere om die bos lei, maar nie vir my nie. Maak oop, ek wil sien wat regtig daarbinne is. En hou op grom, jy maak my nie bang nie. Buitendien, muise het piepstemme, julle kan nie grom om julle lewe te red nie. Maak oop daardie sak! Ek wil sien of jy vir jou ʼn kat in die sak gekoop het.”

Mys die Muis kyk versigtig rond en gedienstig maak hy maar die sak oop. Hy weet goed dat hy nie vir Mossieman om die bos kan lei nie, want Mossieman is die baas van die plaas. Eers sien Mossieman twee skraal ogies wat vir hom loer en toe hoor ʼn sagte, onsekere ‘miaauw’ uit die sak. Stadig maar seker klim daar ʼn fraaie klein katjie uit die sak en loer groot-oog rond. Sy is skaars groter as Mys die muis, wat self maar baksteen hoogte is.

“Wie is dit, Mys?” Mossieman bekyk die klein katjie vraend op en af.

“Dit is my maatjie, sy is ʼn katjie en haar naam is Katjiepiering. Ek dra haar in my knapsak rond, omdat sy nie so ver kan loop nie, haar bene is te kort.”

“Waar kom sy vandaan, Mys?”

Mys die muis krap sy kop en betrag Katjiepiering met bewondering in sy twee muisogies. “Ek weet nie regtig nie, ek dink sy kom van Safraan af.”

“So, jy sê vir almal wat jou wil vang en opeët, dat jy ʼn gevaarlike kat in die sak het, Mys? Nogal slim, moet ek sê,” lag Mossieman geammuseerd. ‘Jy is ʼn regte karnallie, Mys. En ʼn slim een daarby. Welkom hier by ons, Katjiepiering, ek hoop jy gaan lekker by ons in die pragtige Vrystaat bly. Maar Mys…”

“Ja, Mossieman?”

“Ek kan sien jy het muisneste. Jy moet versigtig wees, ou maat. Onthou, slim vang altyd sy baas.”

“Ek weet, Mossieman, maar moet nie bekommerd wees nie. Ek en Katjiepiering gaan trou en van daardie dag af, is sy altyd die baas.”

*