blackie

Mossieman kry ʼn swartbessie

“Vandag is ʼn groot dag, Geronkie, ʼn belangrike dag in die annale van die Vrystaat ” sê Mossieman vernaam en skuif sy knypbrilletjie behendig op sy neus rond. “Vandag is die dag dat ek vir my ʼn blackberry koop.”

“Waarom is dit nou nodig om Engels te praat, Mossieman? Ons praat mos trots Afrikaans in die Vrystaat, die Engelse het ons genoeg moeilikheid gegee. Of verstaan daardie nuwe blackberry wat jy wil koop, nie Afrikaans nie? Wat is ʼn blackberry in elk geval? “

“Jammer, Geronkie, ek sal nie weer Engels praat nie. Ek verstaan as iemand vir my iets in Engels sê, maar hier in die Vrystaat praat ons ons eie taal. Viva Afrikaans, viva!”

“Vir wat het jy ʼn blackberry nodig, Mossieman? Hier is mos genoeg rooi en oranje bessies beskikbaar om te eet. Die hele Vrystaat is vol bessies – swart bessies, oranje bessies en groot ronde rooi bessies wat daar van Ficksburg af kom.”

“Geronkie, sê Mossieman vererg, “daai groot sappige rooi bessies is kersies. Kersies, nie bessies nie.”

“Kersies? Soos kersies op my verjaardagkoek?”

“Gelukkig verjaar jy net een keer elke jaar, Geronkie,” sê Mossieman ietwat ergerlik. “Ek wil nie die swartbessie eet nie, ek wil met hom praat.”

‘Waaroor wil jy met hom praat, Mossieman?” vra Geronkie geammuseerd en kyk skalks na sy ou vriend. “Hier is mos genoeg swart en rooi en bruin bessies om mee te praat.”  Geronkie krap sy donkie-ore verward – hy verstaan nie altyd sy ou maat nie. Waarom is die kleur van die bessies dan nou so belangrik?”

“Nee Geronkie, hierdie blackberry is ʼn selfoon, so ‘n ding wat mens in jou hand ronddra en met ander diere in die bos praat.”

“As jy nou vir jou ʼn swartbessie-telefoon koop Mossieman, kan jy sommer met almal gelyk praat?’

‘Nee, Geronkie. Ek kan net met een ander dier op ‘n slag praat, nie almal gelyk nie. As ek dit wou doen, sal ek met al die diere oor die draadloos praat, tydens my gereelde middagprogram ‘Diere met maniere’ op Radio Rosestad.”

“Verskoon maar tog, Mossieman, maar dit is ʼn simpel idee. Waarom wil jy met ʼn swartbessie selfoon rondloop? Dit gaan mos baie moeilik wees om daardie lang telefoondraad agter jou aan te sleep.”

“Swartbesses het lugdrade, Geronkie, soos die lugdraad van jou motor se draadloos. Jy hoef nie meer daardie lang telefoondraad agter jou aan te trek nie.”

Nie te lank daarna nie, kom Mossieman van die selfoonwinkel langs Costa Mastoroudes se kafee in Virginia af terug, swartbessie in ʼn wit boksie stewig in sy poot. Geronkie kan nie wag om te sien hoe Mossieman se nuwe swartbessie lyk nie. “Maak oop, maak oop!” balk hy opgewonde, “laat ek sien!”

Mossieman vroetel die swartbessie uit sy plastieksakkie en draai die vreemde swart dingetjie al in die rondte. Mens sien net knoppies en goeters waar jy kyk. “Maar Mossieman,” roep Geronkie uit, “die ding is so lelik soos die nag! Dit is nou vir jou ʼn volksvreemde gedoente, ek wed jou niemand in die hele Vrystaat het so ʼn ding nie. En hy het nie eers ʼn lugdraad soos ʼn draadloos nie.”

“Wag nou, Geronkie. Jy is te haastig,” maan Mossieman terwyl hy die swartbessie op en af kyk en links en regs en onderstebo na hom loer. Versigtig skakel Mossieman die swartbessie aan en sommer onmiddellik sien hy ʼn vreemde mossiegesig op die skerm wat vir hom terugloer. “Dit kan nie my foontjie hierdie wees nie, Geronkie,” wip Mossieman hom. “Hier is dan ʼn vreemde mossie se kiekie op die skerm. En buitendien, ek is nie so lelik soos daai mossie op die kiekie nie.”

“Ek dink iemand moet jou eers bel, Mossieman, voordat die swartbessie behoorlik werk.”

“Wat?” roep Mossieman verbaas uit en loer benoud na die swartbessie. “Wat bedoel jy, Geronkie? Moet ek elke keer antwoord as iemand my bel?”

“Maar natuurlik, Mossieman,” lag Geronkie. “Dit is soos ʼn swartbessie werk. Elke keer as iemand jou bel, dan antwoord jy!”

“Nee, man, Geronkie. Dit kan nie waar wees nie,” brom Mossieman en pak die swartbessie vies terug in sy boksie. “Want as dit waar is, weet jy wat dit beteken?”

‘Nee, Mossieman,” korswil Geronkie. “Wat beteken dit?”

Mossieman staar na die swartbessie asof hy na ʼn giftige swart mamba kyk wat hom wil pik. Stadig draai hy die lint weer om die swartbessie se boksie en maak ʼn swierige strik. “Dit beteken, Geronkie, dat mense, en diere, my die hele tyd in die hande kan kry. Altyd. Netnou-netnou moet ek altyd beskikbaar wees en almal gaan my die hele tyd bel.”

“Dit is maar soos selfone werk, Mossieman,” merk Geronkie met min simpatie op. As mense (en diere), selfone wil koop, moet hulle maar die gevolge dra. Geronkie het nogal altyd geglo dat as iets nou regtig, egtig, plegtig belangrik is, hulle vir hom ʼn telegram sal stuur. As die telegram nie opdaag nie, sal hulle hom wel met ʼn riemtelegram in die hande kry.

“Ek wil nie die hele tyd in die hande gekry word nie, Geronkie. Dit is sommer nonsens. Sê nou net ek wil ʼn uiltjie knip, of bietjie in die plaasdam gaan swem, of in stilte en vrede die Volksblad lees – en dan bel mense my! Of as ek my geel hoed op my kop sit en oukraal-liedjies op my mooi rooi trekklavier speel. Hulle verwag almal ek moet die telefoon optel! Dit is mos verregaande, á-nee-á!” Mossieman is sommer lekker omgekrap en skud sy stertvere driftig reguit. “Geronkie, roep daardie sekretaris van my!”

“Sekretarisvoël! Sekretarisvoël, waar is jy? Kom hiernatoe, die baas soek jou!”

Stadig en elegant kom Mossieman se sekretaris aangestap om te hoor wat sy baas wil hê. “Ja, meneer?” verneem die vername sekretarisvoel.”

“Sien jy hierdie boksie met die swartbessie binne-in? Nou-ja, dit is ʼn volksvreemde ding wat nie in die Vrystaat onder ordentlike mense en diere hoort nie. Raak ontslae van die ding, gooi hom weg. Asblik toe met hom.”

“Ja, meneer,” knik die sekretarisvoel inskiklik en druk sy snawel deur die boksie se strik. Statig maar seker stap hy met die swartbessie asblik toe en woerts-warts gooi hy hom in die swart sak. ‘Dit sal daai swartbessie ʼn dure les leer. Hoe durf hy Mossieman se lewe deurmekaar krap en hom steur as hy ʼn uiltjie wil knip, of in die plaasdam wil swem of sy Volksblad in rus en vrede wil lees? Of sy geel hoed op sy kop sit en oukraal-liedjies op sy mooi rooi trekklavier wil speel?’

Dit was die laaste sien van die blik kantien in die Vrystaat. Die swartbessie was in die asblik, so dood soos ʼn mossie. Vandag nog, as daar groot nuus in die Vrystaat is, bel niemand mekaar nie. Hulle stuur vir jou ʼn riemtelegram.

*