eilat vissies

Die Eilat-storie  

Lindi en Renè is twee engel-vissies wat in die Rooi See, naby Eilat in Israel, vakansie gaan hou het. Eilat is ʼn unieke dorpie op die randjie van Egipte se Sinai-woestyn aan die een kant en die pragtige diepblou Rooi See aan die ander. As jy op ‘n koppie naby Eilat staan, kan jy drie lande, Israel, Jordanië en Egipte, gelyk sien. Lindi en Renè het elke dag in die Rooi See geswem – die een dag in die warm water van Israel, die volgende dag Egipte toe. Daarna het hulle ʼn draai in Jordanië gemaak en elke tweede aand in die see naby Saoedi-Arabië oorgeslaap. Te lekker – die Rooi See is soos ʼn paradys vir klein vissies.

Eendag het Lindi en Renè se pa, ʼn groot ou engelvis met allemintige kiewe, ʼn verassing vir hulle vakansiedag gehad.

“Kinders,” sê pa geheimsinnig, “vandag vat ek julle na die mensenarium toe!”

“Pa, vra Renè nuuskierig, “wat is ʼn mensenarium?”

“Dit is ʼn plek met groot vensters, onder in die see, amper net soos ʼn akwarium vir visse.”

“Wat doen visse en mense daar, pa?” vra die twee klein vissies opgewonde. “Wat gaan ons daar sien?”

“Ons gaan na mense kyk, onderwater! Die mensenarium is ʼn plek waar visse na die mense kyk.”

Die twee klein vissies is baie opgewonde en klap hulle vinne. “Ons gaan na mense kyk, ons gaan sowaar na mense kyk!” gesels hulle opgewek. “Regte mense onder die water!”

Lindi en Renè, ma en pa en die hele familie engelvisse swem in die rigting van die mensenarium. Almal gesels opgewonde, want die laaste keer toe hulle regte mense gesien het, was toe hulle strand toe was en mense in die branders sien swem het. Party mense het selfs branderplank gery.

“Mense is snaakse goed,” sê Renè vir Lindi, “hulle swem net so ʼn bietjie in die water en dan gaan sit hulle op die strand onder ʼn sambreel. Later speel met hul grafies en emertjies en bou sandkastele. Hulle eet baie roomys en dan kom swem hulle weer ʼn bietjie in die see.”

By die mensenarium betaal pa-engelvis die toegangsfooi uit ʼn sakkie sheckels wat hy onder sy dorsale fin wegsteek. Daar is baie visse wat in die ry wag om by die mensenarium in te gaan, omdat al die vis-families in Israel gedurende Desember in Eilat vakansie hou. 

By die deur van die mensenarium swem ʼn groot ou seekat met ʼn pet op sy kop, al in die rondte. “Kaartjies asseblief,” borrel hy streng, “onthou om julle audiofone aan te sit om die mense te sien en hoor.”

“Audiofone! Wat op aarde is dit?” Lindi is skoon verward en kyk na Renè. “Kom ons gaan vind uit,” sê Renè en die twee klein engelvissies swem na die audiofoon-toonbank toe. “Twee audiofone asseblief.”

“Daar’s hy,” sê die groot tunavis wat agter die toonbank werk, “twee audiofone sodat julle kan hoor wat onder die water aangaan. Kom ek verduidelik vir julle hoe die audiofone werk. Elke keer as julle ʼn mensekind deur die mensenarium se venster sien, druk jy net die knoppie op die foontjie en hou hom teen jou oor. Die foontjie vertel dan vir jou watter soort mens dit is, waar hy vandaan kom, watter soort kos hy eet en hoe hy lewe. Die foontjie werk vir mannetjie en vroutjie-tipe mense.”

“Lekker,” sê Renè vir Lindi. “Kom ons gaan onderwater en kyk na die mense deur die vensters.”

“Ek kan nie wag om te sien hoe mense van naderby lyk nie,” sê Lindi en sy swem vinnig by die trappe af. Op die trappe van die mensenarium bly krappe, allerhande soorte krappe wat die hele tyd kossies met hulle kloue van die vloer af optel en die bodem van die see opruim. “Hulle is die skoonmakers van die see,” fluister Lindi grootoog vir Renè, “dit is waarom hulle so skeef loop. Ek dink nie krappe slaap ooit nie.”

Hulle swem haastig tot by die naaste venster en sien sommer vinnig die eerste mense van naderby. “Hulle lyk snaaks,” sê Renè,“dit lyk of hulle vinne aan die einde van hulle arms en bene sit. En kyk die seegras op hulle koppe.”

“Dis nie seegras nie, man,” fluister Lindi. “Dit is hulle hare.”

“Bedoel jy alle mense is toe onder die hare?”

“Wel, nie almal nie. Party het niks hare nie, hulle word bleskop-mense genoem. Ander dra hulle hare bo-op hulle koppe en dan kam hulle die hare om netjies te lyk.”

“Ek is darem bly ons visse het nie hare nie,” lewer Lindi kommentaar op die vreemde wesens wat hulle deur hul venstertjies gewaar. “Dit lyk vir my darem baie  moeilik om hare onder die water te kam.”

“Kyk daardie een,” beduie Renè opgewonde. “Hy lyk darem baie eienaardig, ek wonder watter soort mens is dit?”

“Kom ons luister na hom op ons audiofone.”

Lindi rig haar audiofoon in die rigting van die mensie aan die anderkant van die venster, druk die knoppie en toe hoor sy ʼn diep stem: “Daardie mens wat daar staan is ʼn Japanees. Japanese kom van Japan af en hulle eet baie sushi.”

“Wat is sushi ? vra Lindi ongemaklik.

“Rou vis.”

“Bedoel jy hulle eet visse soos ons?”

“Ja, maar net as jy rou is.”

“SIESA !”

“Lindi,” roep Renè, “kom kyk gou na hierdie snaakse een!”

Die twee vissies loer met bewondering deur die venster na die mens wat hulle sien.  Die mens het swart hare, ʼn wit toga en sandale aan sy voete en hy loop net soos Michael Jackson.

“Gou,” sê Renè, “rig die audiofoon op hom! Kom ons luister!”

Ewe skielik hoor Lindi en Renè die stem oor die audiofoon wat sê: “Hierdie mens is ʼn Egiptenaar wat in die land van Egipte woon en piramides uitklim. Egiptenare ry op kamele rond en hulle swem in die Nyl-rivier.”

“Vreemd,” sê Lindi ingedagte. “Mense is vreemde wesens.” Nuuskierig swem die twee vissies na die volgende venster toe.

“Kom kyk na hierdie een,” sê Renè en beduie met haar stertvin na die venster.

Die vissies sien ʼn mens, ʼn baie lang mens met ʼn sweetband om sy kop. Hy het snaakse skoene aan sy voete en ʼn blou nommer op sy frokkie. In sy hande het hy ʼn groot ronde rooi bal wat hy op en af op die aarde bons.

“Watse soort mens is dit?” wonder Lindi hardop en sy rig haar audiofoon op die mens met die snaakse skoene en ronde rooi bal.

Toe sê die aankondiger oor die audiofoon: “Die mens wat jy deur die venster sien, is ʼn Amerikaner. Hy is sewe voet lank, nie baie slim nie en hy speel basketbal. Hierdie mense hardloop almal in die rondte en dan gooi hulle die bal ʼn net. Daarvoor verdien hulle baie geld.”

“Ek wonder wat is geld?” vra Lindi nuuskierig vir Renè.

“Geld? Dit is klein stukkies papier wat mense daarbo op die land ronddra en muntstukke wat hulle in hulle Sheckel-sakkies sit. Hulle ruil dan die papier en die munte vir kos en klere.”

“Dis nou dom,” sê Lindi vies. “Hulle moet hier by ons onder in die see kom bly, hier is alles verniet.”

Voor Lindi en Renè staan een van die snaakste en buitengewone mense wat hulle nog ooit gesien het. Die mens het ʼn kopskerm aan en ʼn trui en toks en hy dra ʼn ovaalvormige bal in sy hande.

“Wat is dit?” vra Lindi verwonderd.

“Dit,” sê Renè beterweterig, “is ʼn Vrystaatse rugbyspeler. Rig gou die audiofoon op hom, kom ons hoor wat hy sê!”

Lindi rig haar audiofoon en voordat jy kan sê GEDORIEWAAR, ontplof die mikrofoon.

“GAAAA-DOEMP!!”  

“Wow!” roep Lindi verbaas uit. “Die audiofoon het sowaar ontplof! Ek wonder wat daardie rugbyspeler gesê het?”

Renè vryf nadenkend oor haar kiewe. “Ek dink hy het gesê dat die Cheetahs van die Vrystaat vir ewig en altyd die beste rugbyspan in die wêreld is.”

“Ek stem saam,” beaam Lindi. “Dit wys jou wat kan gebeur as jy die waarheid praat.”

Renè haal haar audiofoon van haar kop af en gee dit vir die seekat by die deur. “Lindi, kom ons swem huistoe, ek het genoeg dinge in hierdie mensenarium gesien. Ek is nou moeg vir vreemde mense en hul dinge. Veral mense wat hier onder in die Rooi See rondswem, net soos visse.”

*