vegetables-2117315_640

Vrugtesmous en die groentegees

“Ek weet jy het altyd ʼn appeltjie met my te skil, Mossieman, maar ek het baie vrae oor vrugte en groente. Ek sien altyd al die groente en vrugte by die groentegees se winkel in Tamatiestraat en dan wonder ek oor hulle. Dink jy die vrugtesmous mag net vrugte verkoop en niks groente nie? Of kan die groentegees vrugte èn groente verkoop? Jy is mos ʼn slim mossie, Mossieman, baie slimmer met raaisels as die wyse ou uil wat in daardie groot ou populierboom langs die magtige Sandrivier bly. Weet jy dalk wat al die antwoorde is?”

“Ek sou nou nie sê ek is baie slim nie, Geronkie, maar ek is beslis nie dom nie. Ek is nie altyd reg nie, maar ek is nooit verkeerd nie. Waarmee kan ek help?”

Geronkie is nie onder die Vrystaatse diere bekend as ʼn baie diep denker nie. ʼn Filosoof oor donkie-sake ja, maar nie ʼn intellektuele reus oor vrugte en groente nie. “Nou goed dan, Mossieman, watter soort vrug dra sy pitte aan die buitekant?”

Mossieman pik-pik aan ʼn mieliestronk en kyk nie eers op nie. “Aarbeie,” antwoord hy nonchalant.

“Is tamaties vrugte of groente?”

“Groente,” antwoord Mossieman ongeërg en pik nog ʼn sappige mieliepit raak.

“Waarom sê jy tamaties is groente? En jy mag nie verduidelik dat tamaties groente is, net omdat die groentegees dit verkoop nie.”

“Het jy al ooit ʼn tamatie in ʼn vrugteslaai gesien, Geronkie?”

“Nee,” bieg Geronkie eerlik.

“Daarom is tamaties groente. Net soos beet, ertjies, broccoli en boontjies.”

“Ja, ek ken jou storie, Mossieman. Boontjie kry sy loontjie, daarom is dit groente en nie vrugte nie. Wie het die pitte binne-in perskes gesit?”

Dit is ʼn baie moeilike vraag en Mossieman peins ʼn bietjie, pootjie onder sy ken. “Dit was ouma. Want oumas hou daarvan om goeters binne-in ander goeters te sit, soos sakke, of yskaste en bottels en kaste. Hulle pak altyd goed weg en dit was hulle wat die pitte binne-in die perskes weggesteek het. Dit is wat oumas doen, as jy nie kyk nie.”

Geronkie die donkie is nie seker of hy al Mossieman se stories moet glo nie. Hulle is nou wel boesemvriende van geboorte af, maar Geronkie is altyd bietjie skepties oor Mossieman se integriteit wanneer hy sy fabels en verhale oor die Vrystaat vertel. Geronkie kyk so om hom rond en sien dat hy nie die enigste lid van die diereryk is wat grootoog na Mossieman sit en luister nie. Orals is daar diere in die gehoor en hulle oë is ewe groot, groter as hul mae, maar twee keer so klein soos hulle ore.

“Watter vrugte kom van hoenders af, Mossieman? Nou het ek jou! Ek wed jy ken nie dié antwoord nie!”

“Maklik, Geronkie, maklik! Eiervrugte! Hoenders lê eiers wat die vrug van hulle arbeid is. Daarom eiervrugte.”

“Jy jok darem nou, Mossieman. Hoenders lê nie eiers nie, dit is henne.”

“Maar henne is hoenders, is hulle nie, Geronkie? Hane is ook hoenders, maar hulle kan nie eiers lê nie.”

“Sê jy hane lê eiers?”

“Aikona, nie almal nie, net sommiges,” skud Mossieman sy kop beslis. “Jy het verkeerd gehoor, Geronkie. Dit is net die haan wat op die kerktoring staan wat nie eiers kan lê nie.”

“Mossieman, is rosyntjies druiwe se oumas en oupas?”

“Natuurlik, Geronkie! Hulle is ewe vol plooie.”

“Wie? Die rosyntjies?”

“Nee man, Geronkie. Die oumas en oupas is vol plooie.”

“Watter vrugte kan jy eet terwyl jy sing?”

“Pie-sang.”

“Watter tipe vrugte kom van jou ma af? verneem Geronkie angstig.”

“Ma-roelas.”

“En jou pa?”

“Papajas, Geronkie, papajas.”

“En jou ouma met die plooie?”

“Niks nie, Geronkie. Oumas maak nie vrugte nie, maar hulle bak net die lekkerste beskuit en melktert op aarde. Nou gaan ek slaap, ek het genoeg van jou vrae geantwoord.” Mossieman skud sy vlerkies reg en gaap ʼn paar keer. “Ek staan nou kooi se kant toe om ʼn uiltjie te knip. Nag almal, lekker slaap. Nag Geronkie.”

“Nag, Mossieman, lekker slaap. Nag klaasvakie.”

*