troukoors

Troukoors is nie perde koop nie

Mossieman en Geronkie die donkie hou een jaar vakansie by die see, naby Gordonsbaai, sodat hulle in Bikini Beach se koue water kan swem.

“Mossieman,” vra Geronkie skoorsoekerig, “waarom moet ons elke keer Gordonsbaai toe kom vir ons vakansie? Waarom kan ons nie in die pragtige Vrystaat bly nie, daar is mos baie plaasdamme om in te swem. Party van die damme het selfs paddas in. Dit maak die swemmery meer gesellig as om net in die see te swem.”

“Want die see is so mooi. Ek hou daarvan om in die see te swem en na die branders te kyk en te voel hoe wriemel die seekatjies tussen my tone. Bowendien, Geronkie, jy kan in die see op jou branderplank ry. Jy lyk altyd effens koddig met jou branderplank op daai plaasdamme in die Vrystaat se branders.”

“Waarom?”

“Want elke brander het ʼn silwer randjie.”

“Ag nee, Mossieman, raak jy nie nou deurmekaar met jou idiome nie? Is dit nie dalk wolke wat silwer randjies het nie?”

“Miskien,” mymer Mossieman, “maar beslis nie in die Vrystaat nie. Weet jy wat maak my nou rêrig deurmekaar?”

“Nee Mossieman,” sug Geronkie gelate, “vertel maar vir my jou storie.”

“Koors.”

“Koors?”

“Ja, Geronkie. Het jy enige idee hoeveel soorte koors daar is?”

“Nie rêrig nie, Mossieman.”

“Wel,” sê Mossieman en hy skuif reg vir een van sy tandetrekker-stories. “Koors is nou vir jou ‘n interessante ding, amper soos sneeu in die somer in die middel van die Karoo. As dit in die somer sneeu, kry die skape hooikoors.”

“Wanneer kry mens hooikoors?”

“As jy baie hooi op jou vurk het, want dit laat jou baie nies en hoes en proes.”

“En dan?” vra Geronkie nuuskierig.

“Dan word jy siek en jy moet in jou kooi klim. Anders kry jy skarlakenkoors.”

“Nog nooit daarvan gehoor nie, wat is dit?”

“Nee, ek weet self nie so mooi nie,” beduie Mossieman, “maar ek weet dit het iets met ʼn laken te doen.”

“Soos beddegoed?”

“Ja, soos lakens en komberse en kussings.”

“So, mens kry skarlakenkoors, komberskoors en kussingkoors?”

“Ek dink so,” sê Mossieman ingedagte, “of bosluiskoors.”

“Wat is bosluiskoors, Mossieman?” vra Geronkie besorg, bang dat hy dit ook gaan kry. Hy sidder so ʼn bietjie en wonder of donkies, net soos bosluise, kan siek word van koors.

“Toemaar, Geronkie,” troos Mossieman, “dit is net bosluise wat daai koors kry, nie donkies nie. As jy bosluiskoors onder lede het, kry jy baie koud. Hulle noem dit kouekoors.”

“In die somer ook?” vra Geronkie benoud. “In die Vrystaat is dit baie warm in die somer.”

“Moenie laf wees nie, Geronkie, “mens kry net in die winter kouekoors. In die somer gaap die kraaie.”

“Mossieman, jy maak my darem baie bang met al hierdie koorse van jou. Is jy seker dit is al? Kan jy nou einde kry met al jou koors stories?”

“Nee, Geronkie, daar is nog ʼn koors wat baie erger as al die ander koorse is.”

“En dit is?”’ vra Geronkie benoud.

“Troukoors. Dit is erger as rugbykoors.”

“Troukoors?”

“Dit is die gevaarlikse koors van almal,” fluister Mossieman en hy loer versigtig rond om te kyk of iemand hom afluister. “Want trou is nie perde koop nie. As jy eers troukoors het, is dit neusie verby met jou.”

“Hoekom Mossieman,’ vra Geronkie bangerig, “hoekom is troukoors so erg?”

“Want,” antwoord Mossieman geheimsinnig, “as jy troukoors het, word jy nooit weer gesond nie. Jy bly net altyd verlief en daardie paar sekretarisbene van jou bly altyd lam. Jy kan maar medisyne drink, dit help alles niks nie. Jy kan ʼn koorspennetjie in jou mond sit, niks verander nie, jou temperatuur bly altyd hoog. Troukoors is permanent.”

“Jitte, dit is darem baie erg, Mossieman,” sug Geronkie senuweeagtig. “Ek hoop nie ek kry eendag troukoors nie, veral nie noudat ek weet daar is geen donkie-medisyne daarvoor nie.”

“Jy kan maar pille ook drink,” lag Mossieman, “dit help alles niks vir troukoors nie. Ek het gesien hoe loer ʼn paar van daardie meisie-donkies vir jou. En as meisie-donkies vir jou ogies maak, is jy in groot moeilikheid.”

“Ek weet, Mossieman,” sug Geronkie mistroostig. “Pille maak jou siek, meisie-donkies maak my bang.”

“Alles wat ek jou vertel, is min of meer die waarheid, Geronkie. Mense kry troukoors en dan herstel hulle nooit daarvan nie. Mense ly daaraan en dan moet hulle met mekaar trou,” lag Mossieman in sy mou. “As jy trou, dan gaan jou koors effens weg, maar jou bene bly nog lam. Die goeie nuus is dat jou hartjie altyd warm bly en dat jy die hele tyd bly glimlag, sommer vir geen rede nie.”

Skielik spring Geronkie kiertsregop en vat die pad, stert in die lug. Hy galop weg dat jy net stof sien staan. ʼn Swetterjoel voels wat vir Mossieman en Geronkie sit en afluister het, vlieg vervaard die wolke in.

“Waarnatoe gaan jy nou, Geronkie,” verneem Mossieman agterna.

“Ek gaan dorp toe!” balk Geronkie so deur die galoppery, ore flappende in die wind. “Ek gaan perde koop!”

“Maar waarom, Geronkie, waarom? roep Mossieman in die rigting van Geronkie se stofwolk.

“Want as ek perde het, gaan daardie meisiedonkies my nooit vang nie!”

“Maar waarom, Geronkie, waarom? roep Mossieman.

“Want ʼn eseltjie stamp sy kop nie twee keer teen dieselfde klip nie, Mossieman!”

“Maar meisie-donkies is nie klippe nie, Geronkie.”

Soos ʼn uil op ʼn kluit gaan sit Geronkie uitasem op sy hurke. “Miskien is jy reg, Mossieman. Ek moet nie so bang wees vir meisie-donkies met troukoors nie.”

“Toemaar, Geronkie, alles reg. Maar jy lyk vir my effens blekerig van al die galoppery. Jy lyk vir my effens olik.”

Regtig, Mossieman? Wat dink jy makeer ek? Is ek bleek en siek?”

“Tyd dat jy in die bed klim, Geronkie. Ek dink jy het papelellekoors.”

“Papelellekoors! Wat is dit?”

“Papelellekoors is net soos ipekonders, Geronkie. Net soos ipekonders.”

“Wat is ipekonders, dan?”

“Ek weet ook nie einlik nie, Geronkie,” sug Mossieman swaar, moeg van storievertel. “Ek dink ipekonders is wanneer jy bang is vir jou eie skaduwee.”

*