Kees en die Bô-gom-orkes

Ek wil nou nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, maar in die Vrystaat is daar baie ape wat gewoon stout is en in die boere se mielielande baljaar. Dit is nou nie asof die bobbejane se aapstreke krimineel of misdadig van aard is nie – hulle beskou die mielielande bloot as die boere se bydrae om hul lewens vreedsaam en hul magies trommeldik te maak. Daarby is bobbejane in die Vrystaat  bekend daarvoor dat hulle musikaal is en baie goed kan sing, alhoewel nie almal ewe noodvas nie. Dit is nogal ʼn aardige gesig om ʼn bobbejaankoor met hul pragtige falsetto-stemme te hoor sing, veral vroegoggend as die sonnetjie so oor die Vrystaatse mynhope en mielande opkom.

Bob1

Dit is wat gebeur het toe die voorwiel van die Groottoon Boere-orkes langs die grootpad tussen Virginia en Welkom pap geword het. ʼn Spyker het die pap wiel veroorsaak en die hele Groottoon-orkes was radeloos, hande in die hare, voete in die broeksakke. Noodgedwonge moes hulle maar Virginia-dorp toe stap om ʼn nuwe wiel vir die bakkie te gaan haal. Al die musiekinstrumente is agter op die bakkie gelaai en ʼn splinternuwe wiel was die enigste oplossing. Anders speel hulle nooit vanaand die Kalfiewals by die boeremusiekkonsert op Virginia se skougronde nie – ʼn nuwe wiel moes hulle kry.

Bob2

Hoog teen die hellings van die mynhope het die brandwag Kees en sy Bô-gombende die bakkie se wiel onder in die pad sien pap word. “Bôgom! Bôg, bôg, bôgom,” blaf Kees om die res van die trop se aandag te trek en die volgende oomblik hoor jy net takke kraak en blare brul, soos die bobbejane nader kom om te sien wat gebeur.

Terwyl die Groottone so aanstap dorp se kant toe om die nuwe wiel te gaan aankoop, sit die hele troppie bobbejane hoog in die rakke die spulletjie daaronder en aankyk. Die Groottone stap weg dorp toe en al die kitare en tromme en trompette blink op die agterkant van die bakkie, te aanloklik vir bobbejaan se kind.

Bob3

“Kees,” onthou jy nog hoe om kitaar te speel?” vra mevrou Kees, die elegantste bobbejaanwyfie in die trop. “Jy was laas so ʼn klein kannetjie toe jy kitaar gespeel het, ek dink jy het al vergeet hoe klink die klanke.”

Kees is die grootste en lelikste mannetjie in die trop en ook die dapperste bobbejaan in die Vrystaat, daarom is hy die brandwag. Hy is ʼn waaghals, vol streke en huiwer nie om aan enige avontuur deel te neem nie. Die instrumente lyk vir hom heel aanloklik, veral omdat die Groottone weg is en daar niemand is om hom te verwilder nie. Al die bobbejane en hul eggenotes en ʼn hele string klein bobbejaantjies sit hoog in die takke van die boom en toekyk. “Hou op met julle bobbejaanstreke,” raas die bobbejaanwyfies met die string kleintjies, “en luister mooi. Julle pappas gaan vir julle ramkiekie op hul kitare speel.”

“Ek is nie so seker nie,” sê Kees terwyl hy so met sy een oog na die instrumente op die bakkie loer. “Ek het donkiejare laas gespeel, ek is bietjie verroes.”

Bob4

“Alle grappies op ʼn stokkie, Kees! Gaan speel nou! Ek en die kinders wil hoor hoe speel jy kitaar.”

“Goed, ek gaan speel. Watter liedjie wil julle hoor?”

“Speel daai treffer uit die tagtigs; Bobbejaan klim die berg, om die boere te vererg.”

Kees is ook nie links nie en roep ʼn paar van sy manne bymekaar om in die orkes te speel. “Komaan Mees, moet nie net daar soos ʼn uil op ʼn kluit sit nie, kom speel saam!” Blitsvinnig swaai al wat bobbejaan is, uit die bome en spring agter op die bakkie. Kees gryp die kitaar en trek los met ʼn kakafoniese geraas. Mees kry ʼn goue trompet in sy harige kloue beet en begin aan die verkeerde kant blaas. Gees slaat die tromme dat altwee sy ore doof word en Hees begin viool speel asof die Vrystaat-stadion afbrand. Een van die klein bobbejaantjies (Mevrou Kees het hom Adoons gedoop), kry ʼn bekfluitjie in die hande en suig vir die vale.

“Adoonsie,” skree Kees, “jy moet daai bekfluitjie blaas, man, nie suig nie.” Adoons begin huil en sanik oordat hy raas gekry het. “Mààà, mààà – pa se ramkiekie het net een snaar!”

“Hou op met julle aapstreke, manne! Speel!”

“Volgende versoek? Wat moet ons speel?” skree Kees vir al die toeskouers en bewonderaars wat soos ape op ʼn stokkie sit. “Laat die aap uit die mou! Of speel daai nommertjie ‘Al dra ʼn aap ʼn goue ring.’ “Nee!” speel ‘Laat die aap uit die mou!” skree die gehoor en sing lustig saam. Sò ʼn groot konsert en soveel sports het hulle lanklaas in die Vrystaat gesien.

Hees is die heel beste bobbejaan in die orkes en hy speel ʼn viool concerto dat die biesies bewe. Die viool skree soos ʼn brandmaer varkie en die voëls in die vlei vlieg verskrik op om elders te gaan skuiling soek. Die klankgolwe van die Bô-gom-orkes trek oor die hele Vrystaat en al die diere begin saam bulk en krys en runnik dat die kranse antwoord gee. Party kan die geraas nie verdra nie en druk hulle ore met hul pote toe.

Bob6

Die gehoor is ook nie links nie en begin die riel dans dat die stof so staan. Die hele lot bobbejane dans en skree en lag en gesels. Hier en daar is selfs ʼn paar bobbejane wat die  tja-tja doen en lostrek met ʼn paar opera arias. Al die diere van die bos kom nader om te sien waaroor die groot lawaai gaan en hoe vernuftig die bobbejane hulle danspassies uitvoer. Nou en dan bars daar spontane applous los – in hulle leeftyd het hulle nog nooit so ʼn oulike konsert gesien nie. Van die ouer bobbejane onthou nog hoe om te twist en hulle gooi hulle boude links en regs op die maat van die Bô-gomorkes se musiek. Almal geniet hulle gate uit, dit is die grootste partytjie wat die Vrystaat nog ooit gesien het. Later-aan begin die son sak agter koppie-alleen, maar die bobbejane se orkes speel nog asof hulle elkeen met ʼn sak mielies betaal word.

Uiteindelik kom die Groottoon-orkes teruggestap van die dorp af, met ʼn nuwe opgepomde pap wiel om aan die bakke te sit. Van ver af hoor hulle die kabaal en toe hulle om die draai kom, hoor hulle ʼn verskriklik lawaai wat van die bakkie af kom. Al die bobbejane in die Vrystaat drom om die bakkie rond om die bobbejaanorkes te hoor speel en niemand sien die Groottoon-orkes aankom nie.

Bob7

Die Groottone kan hulle oë nie glo nie. “Sien julle wat ek sien?” vra die orkesleier van die Groottone. “Die bobbejane maak musiek, hulle slaat die kitare en dans al in die rondte.”

“Het jy gesien hoe daardie bobbejaan kitaar speel? En daardie een slaan daai tromme dat die dennebome dreun!” lag die Groottone.

“Ek sien en ek hoor,” brom die orkesleier. “Hulle speel vals en die koor sing die verkeerde deuntjie. Daai lotjie bobbejane weet soveel van musiek af as ʼn aap van godsdiens en ʼn kat van safraan. ”

“Watter liedjies speel hulle?”

“Weet nie, maar dit het vir my geklink na ‘bobbejaan klim die berg,’ met hier en daar ʼn sitees tussen-in. Die kese speel sitese.”

“Klink vir my daardie bobbejane maak net geraas,” kla die leier van die Groottoon-orkes. “Jaag hulle weg!”

“Maar waarom moet ons hulle wegjaag, hulle klink dan so mooi as hulle van noot af is.”

“Nee-wat, hulle speel vals en die bobbejaankoor kan ook nie ordentlik noot hou nie. Party sing opera en die ander langvergete boereliedjies, almal gelyk. Jaag hulle weg!”

Toe die Bô-gom-orkes en die bobbejaankoor die Goottoon-orkeslede sien nader kom, los hulle die instrumente net daar en spaander die bome in. Die hele spulletjie klouter en klim en kwetter soos voëls oor die groot partytjie wat hulle gehou het. Die Groottone pak maar gedweë hul kitare en tromme en viool weer terug op die bakkie en ruil die papwiel om. Van die bobbejane is daar geen spoor nie – hulle het soos mis voor die son verdwyn. Al wat van die groot konsert oorgebly het, is ʼn paar bobbejaanspore in die sand.

Bob8

“Tjaa…” peins mevrou Kees, toe die Groottone se bakkie met sy opgepomde papwiel in die verte wegry. “Al dra ʼn aap ʼn goue ring, bly hy maar ʼn lelike ding.”

*