ddd

“En nou, Geronkie my ou maat, as jy so moedersielalleen hier op die wal van die rivier sit en droom?”

“Ek droom nie, Mossieman, ek dink. Donkies met lang ore soos ek het baie dinge om oor te dink.”

“Vertel my alles, Geronkie,” sug Mossieman simpatiek en maak hom gemaklik tuis langs Geronkie op die walle van die magtige Sandrivier. Die koel water kabbel by hulle pote verby en maak rustige klankies in hulle ore. Daar is geen plek in die wêreld waar dit so lekker is om te sit en droom en nonsens praat soos langs die Vrystaat se malende Sandrivier nie. Die wilgebome op die walle is ruig en vleg hul takke in ʼn groene lower waar die mossies neste maak en die vinke onderstebo aan die takke hang. Mossieman en Geronkie die donkie boer elke dag op die walle van die rivier, want dit is waar die meeste diere rondhang en vergaderings hou.

“Mossieman, wat is ʼn luiperd? Ek dink deesdae nogal baie aan luiperde. Ek wonder oor tiere ook, maar ek wonder meesal oor luiperde.”

Mossieman krap sy kop en dink ʼn bietjie na. “ʼn Luiperd is ʼn perd wat onfiks is. Hy wil nie sy oefeninge doen nie en hy is sommer ʼn niksnut. Mens kan hom eintlik maar ʼn rondloper leeglêer noem.”

“Dit is presies wat my bekommer oor die diere in die Vrystaat, Mossieman. Hulle is amper soos Forest Gump se boksie sjokkelade, mens weet nooit wat jy gaan kry of hoe die diere gaan lyk nie. Die Vrystaat se diere het vreemde maniere.”

“Wel, die meeste van hulle is nogal vriendelik, as jy hulle eers beter leer ken.”

“Soos ʼn kameelperd?”

“Kameelperde is ʼn buitengewone spesie, Geronkie, dit is perde wat soos ʼn kamele lyk. Die luiperd en kameelperd is broers en hulle is altwee lede van die perde-familie. Mens kry lui kameelperde in die Vrystaat, maar nie hier by die Sandrivier rond nie. Party van die lui kameelperde is nogal fluks as jy hulle eers aan die draf kry.”

“Het jy al gehoor van ʼn jagluiperd, Mossieman?”

“Natuurlik, dit is ʼn baie lui perd wat deur ander perde gejaag word. Hy word gejag. Daarom is sy naam jagluiperd.”

“Klink vir my soos ʼn wolhaarstorie, Mossieman. Is jy seker van jou feite en geite?”

‘Ja, ek is. Somtyds stem my feite met die waarheid ooreen, ander kere nie. Ek is nie altyd honderd persent reg nie, Geronkie, maar ek is nooit verkeerd nie.”

“Op ons plaas is daar baie beeste en koeie, Mossieman, maar het jy al ooit van seekoeie gehoor.”

“Natuurlik, ʼn seekoei is ʼn plaasdier wat baie melk gee en in die see swem. Met ander woorde, hulle hou baie van water. Soos waterbabas. As jy ʼn koei in die see sien swem, dan is dit ʼn seekoei. Maar nie hier by ons in die Vrystaat nie. Die koeie wat op die plase in die Vrystaat rondloop, is landkoeie. ”

“Krokodille swem ook in die see, of hoe, Mossieman? Net soos die seekoeie. Ek is seker dat ek al ʼn paar krokodille sien branderplankry, of swem hulle net in damme?”

“ʼn Krokodil is ʼn perd van ʼn ander kleur, Geronkie. Dit is ʼn soort dil wat heeltemal gebreek is. Hy is ʼn ou krok, soos ʼn likkewaan wat moed verloor het. Party mense praat van krokkies.”

“Wat van muishonde, Mossieman? Hier is mos baie muishonde op ons plaas.”

“ʼn Muishond is ʼn baie klein hondjie wat met ʼn piepstem blaf. Soos ʼn muis. En as daai muishond baie arm is, noem ons hom ʼn kerkmuishond.”

Geronkie krap sy kop ingedagte met sy voorpoot en dink diep aan ʼn vreemde gedierte om Mossieman mee uit te vang. “Ha! Nou het ek jou! Wat is ʼn bobbejaanspinnekop?”

“Maklik, Geronkie, maklik. Ek wil nie nou die bobbejaan agter die berg gaan haal nie, maar ʼn bobbejaanspinnekop is ʼn spinnekop wat vol streke is. Soos ʼn kees, saam met sy vriend Adoons. Hulle is vol bobbejaanstreke, dra goue ringe en sing altyd liedjies. Soos ‘bobbejaan klim die berg, so hastig en so lastig, bobbejaan klim die berg, hoera vir die jolly bobbejaan.”

“Hier op die plaas is ook baie olifante, Mossieman.”

“ʼn Olifant is eintlik maar net ʼn soort seekoei, Geronkie. Met ʼn stertjie van agter en ʼn stertjie van voor. ”

“En ʼn waterbuffel?”

“ʼn Waterbuffel is ʼn buffel wat goed kan swem. Maar hulle hou nie van die see nie, mens sien hulle meesal hier in die Vrystaat se plaasdamme. Hulle is nogal befoeterde ouens en hulle hou daarvan om leeus rond te jaag.”

“Het jy al ooit ʼn miervreter gesien, Geronkie?”

“Net in Suid-Amerika, toe ek ʼn bietjie daar rondgetoer het. Miervreters is altyd honger en dit is hoekom daardie klein swart miertjies in jou kombuis rondhardloop. Hulle kruip vir die miervreters weg.”

“En ʼn eekhoring?”

“Eekhorings is baie klein ekies, so skerp soos messe, slimmer as die houtjie van die galg! Ekies is intellektuele reuse onder die diere van die Vrystaat, want hulle is baie vernuftig en giftig. En weet jy waarom, Geronkie? Hulle maak altyd kos en neute vir die winter bymekaar en begrawe dit oral, maar nie waar die ander diere dit in die hande kan kry nie.”

“Wat van walvisse, Mossieman? Jy gaan jok as jy sê dat jy al walvisse in die Vrystaat gesien het. Of haaie!”

Mossieman gaap en vryf sy oë – dit is al laat in die middag en tyd dat hy gaan slaap. Hy is al effens moeg vir Geronkie se vrae en al die antwoorde wat hy moet uitdink.

“Haaie is baie vriendelike visse wat almal groet, Geronkie. Hulle grynlag altyd vir jou – hi!, hi!, hoe gaan dit! Kom bietjie nader! Walvisse is visse wat bang is om te swem. Hulle sit bangerig op die wal langs die sloot en kyk grootoog vir die water, te bang om nat te word. Dit is waarom hulle walvisse genoem word.”

“Mossieman, al wat jy doen is om my van die wal af in die sloot te help met al jou slimstories. Dit is tyd dat jy vir klaasvakie nagsê en gaan slaap.”

“Jy is reg, Geronkie, die son sak en dit is bedtoegaantyd. Nag, Geronkie.”

“Nag, Mossieman, lekker slaap.”

“Nag, klaasvakie.”

*