scarecrow-958834_640

Ai-ai die witborskraaie

Die Witbos in die Oos Vrystaat is wêreldberoemd vir sy jaarlikse voëltjie skoonheidskompetisie, selfs mense in Transvaal het al gehoor daarvan. Baie Vrystaters  sê omdat die voëls van die Witbos die mooiste voëls in die wêreld is, moet daar elke jaar ‘n skoonheidskompetisie gehou word om vas te stel wie die mooiste voëltjie van almal is. So met die jare saam het die voëltjie skoonheidskompetisie meer en meer gewild geword en die  voëls het van heinde en verre gekom om deel te neem – soveel so dat die Witbos kompetisie vandag nog die grootste en belangrikste  voëltjie skoonheidskompetisie in die hele Vrystaat is.

Mossieman en Geronkie die Donkie sit die spulletjie so en kyk, want Mossieman is soos gewoonlik voorsitter van die paneel van beoordeelaars. Voëls van oral-oor daag op vir die skoonheidskompetisie en die een lyk mooier as die ander. “Ek het ʼn voëltjie hoor  fluit dat al die geveerdes van die Vrystaat vir die skoonheidskompetisie gaan inskryf, Geronkie, van die grootste volstruis tot die kleinste tintinkie, van die statigste reier tot die onhebbelikste vink.”

“Hmm… ja, Mossieman, volstuise en tintinkies loop altyd saam, somtyds vlieg hulle saam ook. Hulle is voëls van eenderse vere. Al die voëls lyk vir my pragtig, ek dink almal is ewe mooi getooi.”

“Elke voëltjie fluit soos hy gebek is, Geronkie. Kyk na daardie een, die een met die lang vere-stert. Dit is ʼn parkiet en hy lyk vir my mooier as die ander voëls.”

“Net omdat sy stert so lank is?” vra Geronkie verbaas.”

“Nee man, kyk al die kleure in sy stert, geel en rooi en groen en blou, almal inmekaar gevleg. Te mooi vir woorde.”

“Mossieman!”

“Ja, Geronkie?”

Geronkie tik Mossieman liggies teen die skouer en hy wys met sy vinger. “Kyk daardie een, kyk daar, dit is seker die mooiste voël in die wêreld daardie. Wat is dit?”

Mossieman loer na die boom langs hulle, en daar sit hy, ʼn fabelagtige voël met groot ronde oë en ʼn swierige kuif, net so lank en indrukwekkend soos sy asemrowende stert. “Dit is ‘n papegaai, Geronkie. Kyk net sy kleure. Sy bek is geel, sy neus rooi, sy voorkoop blou en al die vere op sy kop groen, dit lyk of hy ʼn reënboog op sy kop dra.”

“Waarom,” wil Geronkie nuuskierig weet.

“Want hy is ʼn immigrant uit Suid-Amerika. Sy naam is Macaw en hy kom uit die Brasiliaanse reënwoude. Hy het hom so ʼn paar jaar gelede hier in Virginia langs die magtige Sandrivier kom vestig en nou staan hy bekend as ʼn Vrystaatse papegaai .”

“Kyk daardie een Mossieman. Geronkie loer so uit die kant van sy oë na ʼn pragtige voëltjie wat trots op ʼn takkie langs hulle sit, uitgevat vir die groot skoonheidskompetisie.

“Dit is ʼn Piet-my-vrou. Sy kwetter altyd, ‘Piet, Piet, ek soek vir jou, want ek is jou vrou.’ Ek soek vir jou, Piet-my-vrou.”

“Kyk daar bo, Mossieman, daar bokant die wolke! Daar kom ʼn hele swerm voëls aan en hulle raas geweldig. Hoor net hoe kwetter en lawaai die lotjie, die hele tyd, sonder ophou. Ek wonder watter soort voëls is dit?”

“Dit is nou mossies, Geronkie. Mossies, net soos ek. Dit is my aangetroude familie,” brom Mossieman.

“Maggies, Mossieman! Ek moet sê, dit is ʼn besonderse lelike en raserige lotjie daai, mens kan hulle nou nie as besonder aantreklik beskryf nie. Ek hoop nie hulle is hier om aan die skoonheidskompetisie deel te neem nie. Raas hulle altyd so?”

“Net as hulle iets sien om te eet. Sien jy daardie klomp wit en swart voëls wat in daardie wilgeboom langs die magtige Sandrivier sit? Dit is kraaie, witborskraaie en hulle het nie ʼn baie goeie reputasie nie. Hulle is moeilikheidmakers van die eerste water en nogal baie stout.”

Geronkie loer na die beoordeelaarstafel waar al die trofeë en pryse vir die voëltjie skoonheidskompetisie staan. “Mossieman,” hyg hy verbaas, “kyk daar, die trofee is weg!”

“Agge nee,” sug Mossieman moedeloos. “Waar is die trofee, wie sou hom gesteel het?”

“Dit is ons, dit is ons!” krys die witborskraaie terwyl hulle wegvlieg, die trofee stewig in hul groot swart kloue. “Dit is ons wat die trofee gesteel het!” krys hulle. “Dit is ons!”

“Sulke vabonde! Maaifoedies! Karnallies!” Geronkie die donkie en Mossieman raas en skree, maar die stoute witborskraaie vlieg net verder en verder weg met die trofee.

Mossieman,” peins Geronkie die donkie, “ek verstaan nou vir die eerste keer waarom daar geen voëlverskrikkers in die Vrystaat is nie.”

Mossieman staar die voortvlugtige witborskraaie moedeloos agterna. So nou en dan blink die trofee wat hulle gesteel het, in die verte deur die wolke. “Waarom nie, Geronkie?” sug hy mismoedig.

“Daardie witborskraaie is stout en lelik en onnutsig genoeg om al die ander voëls van die Vrystaat die skrik op die lyf te jaag. Neewat, voëlverskrikkers het ons nie nodig nie.”

“Ek stem saam, Geronkie. Ek wonder net of daardie klomp stout witborskraaie die trofee betyds gaan terugbring vir volgende jaar se voëltjie skoonheidskompetisie?”

*