jAKALAS

“Wolf! Wolf? Waar is jy?”

“Hierso!” skree Wolf en kruip vervaard uit sy jakkalsgat om te sien wat aangaan. Jakkals staan reg voor sy gat, gereed om ʼn lang storie te vertel. Wolf is nog half aan die slaap, maar Jakkals is so opgewonde om te vertel, dat hy sommer met die deur in die huis val.

“Wolfie, het jy al van ʼn valdeur-spinnekop gehoor?”

Wolf vryf die slaap uit sy oe en krap sy kop. “Eish …. Nee Jakkals, ek het nog nooit van ʼn vallende spinnekop gehoor nie, maar ek dink dit moet die een of ander soort spinnekop wees.”

“Natuurlik is dit ʼn spinnekop! ʼn Wyfie-spinnekop daarby, wat ʼn valdeur bou en dan haar prooi vang as hulle deur die valdeur val.”

“Hoe doen sy dit?”

“Sy maak ʼn gat onder die grond, dan bou sy ʼn deurtjie bo-op en gaan lê onder die deurtjie. Dan wag sy dat ʼn kriek of ʼn gogga of ʼn muskiet of ʼn muggie verbyloop en dan vang sy hulle, tjoef-tjaf!”

“Dis nou ʼn slim plan,” sê Wolf, wat glad nie so slim soos Jakkals is nie. “Ek gaan dit ook probeer.”

“Hoe nou, Wolfie,” lag Jakkals. “Jy is te lig in die broek om ʼn valdeur te bou. Waar gaan jy in elk geval jou valdeur maak?”

“Daar langs die boom!” beduie Wolf. Daar kom baie muise en rotte en springkane verby, wat ek kan vang as ek onder die valdeur wegkruip.”

Jakkals lag sommer hardop, maar Wolf steur hom nie daaraan nie en draf weg om vir hom ʼn stuk tou by die hardewarewinkel te gaan koop. Na ʼn rukkie kom hy met die tou terug. “Nou moet ek net ʼn paar boomtakke kry en hulle aanmekaar knoop om die valdeur te maak.

“Moet nie tou opgooi nie, Wolf!” lag Jakkals en die ander diere van die bos, wat ʼn kringetjie om Wolf se valdeur maak om te sien wat gebeur.

Wolf werk sommer die hele middag aan sy valdeur. Hy knip en plak en vleg die tou en die takke aanmekaar. Tussendeur sit hy blare en stokkies in om die valdeur dig te maak.  So elke nou en dan staan hy terug, poot onder die ken, om sy eie handewerk te bewonder.

“Ag, ek is darem oulik,” sê Wolf vir die ander diere in die bos. “Kyk net hoe mooi lyk die valdeur wat ek gebou het.” Al die diere kyk nuuskierig en drom om die valdeur saam. Almal, ook die muise en rotte en springkane wat Wolf hoop om te vang, staan nader om na die nuwe valdeur te kyk. Wolf is baie in sy noppies met homself en verduidelik opgewonde vir al die diere hoe om ʼn ordentlike valdeur te bou.

“Jitte Wolf,” sê Jakkals, “dit is ʼn pragtige valdeur man, uistekend! Welgedaan! Dit lyk op ‘n druppel net soos die Spinne Spinnekop sin.”

“Dankie, baie dankie,” sê Wolf. “Ek verdien al die komplimente. Baie dankie.”

“Nou maar Wolf,” vra Jakkals, “vertel bietjie, hoe gaan die valdeur werk?”

“Kom ek verduidelik stap vir stap vir julle,” spog Wolf selfvoldaan. “Ek vat die valdeur, dan gaan staan ek daar onder die boom en dan kruip ek agter die valdeur weg en wag vir my prooie om verby te kom. Dan val hulle in die gate en ek vang hulle!”

“Indrukwekkend, fabelagtig, wonderlik, Wolfie!” sê Jakkals lakonies en hy kyk na al die muise en springkane wat saam met hom na die valdeur staan en kyk. “En wie is jou prooie nogal, Wolf?”

Wolf krap sy ken en kyk bietjie radeloos om hom rond.

“Nee, ek dink dit is nou julle,” mompel hy verleë en hy kyk so onderlangs skamerig na sy valdeur.

“Dankie Wolf,” sê Jakkals en hy beduie vir die rotte en springkane om te loop. “Dankie dat jy so mooi van die valdeur verduidelik het man, ons verstaan nou baie beter hoe jy ons wou vang.”

“Ek dink nie nou meer dat dit so ʼn goeie plan was nie,” kla Wolf en gaan sit effens moedeloos op die grond.

“Die beste ding wat jy kan doen, Wolfie, is om vir ons die hele ding te demonstreer. Dan kan ons mos mooi sien hoe jou valdeur gaan werk.

“Dit is ʼn goeie plan,” se Wolf opgwonde en hy spring orent. Vinning draf hy na die valdeur toe. “Kyk nou mooi,” spog hy selfvoldaan, “dan wys ek hoe dit werk. Ek maak maak die valdeur oop, so… dan lê ek op die grond onder in die donker en dan maak julle die valdeur toe. Reg so, goed so?” Wolf wriemel homself onder die grond in en steek sy stert onder die grond weg. “Reg! Reg? Maak toe die deur!”

Wolf is in ʼn japtrap onder die grond en met die stuitige Jakkals voor in die koor, help al die diere gretig om die valdeur toe te maak. Dit is doodstil onder die grond en hulle hoor nie eers ʼn piepgeluid van Wolf se kant af nie. “Bring ʼn paar groot klippe en pak dit hier op Wolf se valdeur. Dan is die valdeur stewig toe en ons help vir Wolfie van die wal af  tot in die sloot. Hy gaan nooit as te nimmer alleen daar uitkom nie.”

Die diere kerjakker uitbundig en help om ʼn paar groot klippe aan te dra wat hulle op Wolf se valdeur pak. Naderhand is daar ʼn hoop klippe op die valdeur en al die diere sit in ʼn kring om te sien wat Wolf nou gaan maak.

“Wolf, wolf, hoe laat is dit?” skree die diere in ʼn koor. “Waar is jy, Wolfie?”

“Ek is onder die grond!” skree Wolf benoud. “Help my, dit is donker hier! Ek kan nie sien hoe laat dit is nie! Help!”

Jakkals en al die diere verkneuter hulle aan Wolf se penarie. “Kom ons los hom ʼn rukkie daar onder die grond dat hy aan sy sondes kan dink,” spot hulle. “Hy kan vanaand maar in die koue in sy donker gat onder sy valdeur slaap.”

“Al die diere jil en gil van plesier. “Boontjie kry sy loontjie! Slim vang sy eie baas, kleinste potte maak die meeste geraas!”

Die volgende oggend douvoordag pak al die diere die hopie klippe van Wolf se valdeur af en Jakkals maak die valdeur oop. “Jy kan maar uitkom, Wolf!”

Koud en bedremmeld klouter Wolf uit sy gat en gaan sit bewend in die sonnetjie om warm te word.

“Ek is jammer, almal, dat ek julle met my valdeur wou vang. Ek het my les geleer!”

“Dit is reg so, Wolfie, spyt kom altyd te laat. Maar ons het ook iets by jou geleer,” terg die diere hom verder.

“Wat het julle geleer?” vra Wolf moedeloos.

Jakkals en die diere lag alte lekker. “Vir jou, vriend Wolf, maak ons nooit skaapwagter nie.”

*