Mier

Die magtige mier

Daar het eendag, lank lank gelede, niks in die Vrystaat gebeur nie en al die diere in die Bloembos was maar bra verveeld. Die meeste diere het in die middagsonnetjie onder die wilgebome langs die magtige Sandrivier gesit en gaap en slaap. Nou en dan het ʼn paar verdwaalde sonbesies verbygevlieg, maar die meeste van hulle was so verveeld dat hulle sommer so terwyl hulle vlieg aan die slaap geraak het.

Mossieman en Geronkie het daar langs die Sandrivier onder ʼn groot ou koelteboom gesit en kyk hoe al die rooi miere rondhardloop om kos bymekaar te maak. Die miere maak elke keer ʼn skewe ry en dra die kos na hulle miernes toe, net om die hoekie. “Hulle kan maar kos aandra na daardie miernes toe, hulle kry net nie een van my mieliestronke om te eet nie,” merk Geronkie lakonies op.” Mieliestronke is Geronkie se stapelvoedsel en een van die vernaamste redes waarom hy in die Vrystaat tussen Virginia en Bothaville bly.

“Ek dink nie miere eet mieliestronkie nie, Geronkie. Hulle hou meer van blare en insekte.”

“Ek wonder waarom maak die miere so baie kos bymekaar as hulle so min eet? Kyk hoe maer is hulle.” Geronkie beloer die miere deur sy vergrootglas – nou en dan kielie hy hulle met ʼn graspalm totdat hulle skaterlag.

Mossieman strek hom behaaglik in die koelte van die wilgeboom uit. “Die miere se magies is maar klein, hulle kan nie baie kos eet nie.”

“Wat eet miere Mossieman,” vra Geronkie nuuskierig. “Rys, of miskien pizza of sushi?”

“Nee, ek dink nie hulle eet rys nie, die ryskorrels is dan groter as hulle. Net Japanese miere eet sushi.”

“Miskien eet hulle hotdogs, of pasta.”

“Warmhondjies, bedoel jy Geronkie? Dit is mooi Afrikaans vir hotdogs. Kyk hoe groot is ʼn warmhondjie is en hoe klein is ʼn mier. Hoe sal die miere dan elkeen ʼn warmhondjie eet as hulle nie eers ʼn ryskorrel kan inkry nie?”

“Ek dink ʼn hotdog is ʼn worsbroodjie in Afrikaans, Mossieman, nie ʼn warmhondjie nie” brom Geronkie. “Die miere eet die warmbroodjie een happie op ʼn slag, Mossieman. Een happie op ʼn slag, tot hulle klaar is.”

“Oom Eugene sê dat dat daar baie soorte miere in Afrika is, Geronkie, waarvan minder as die helfte in Suid-Afrika bly.”

“Waarom?”

“Ek dink dit is ʼn kultuurprobleem, ou maat. Afrikaans is nie ʼn maklike taal om aan te leer nie, veral as jy van Japan af kom.”

“Watter soort miere bly in Afrika?” vra Geronkie agterdogtig. “Ek weet maar net van rooi miere. Elke keer as ek onnutsig is of nie kan stilsit nie, is, dan sê my ma vir my ek het rooimiere. Eenkeer het ek van ʼn meisie-donkie gehou, toe sê my ma vir my ek het mierneste.”

“Muisneste, Geronkie, nie mierneste nie. Oom Eugene skryf van werkermiere, soldaatmiere, bespieders, skoonmakers, versamelaars en bouers. Al die miere wat in ʼn miernes bly, het ʼn werkie wat hulle elke dag moet doen. Party werkermiere dra elke dag vir die koningin-mier kos aan en ander versorg haar eiertjies. Sommiges bou die miernes, terwyl party net skoonmaak of kos gaan soek.”

Geronkie knaag sy geel mieliestronk dat net ʼn paar pitte oorbly en dink diep oor Mossieman se storie. Hy weet oom Eugene Marais het die mooiste gedigte en stories in die hele wêreld geskryf – hy ken Winternag uit sy kop uit. “O koud is die windjie, En skraal – En blink in die doflig, En kaal… In elke grashalm se vou, blink ʼn druppel van dou – en vinnig verblyk dit, tot ryp in die kou!” Te mooi vir woorde.

“Ek het darem nie geweet van oom Eugene en die miere nie, Mossieman.”

“Hy het vertel van die siel van miere, Geronkie, en dat hulle reuse miershope bou, party van hulle groter as mense. Al die miere bly daarbinne, tot die koningin wat haar eie paleis onder die grond het. Diep onder die aarde maak die miere ʼn holte vir haar en daar bly sy om haar eiertjies te lê, duisende en duisende klein eiertjies.”

“Wat gebeur met die eiertjies, Mossieman?”

“Hulle broei uit en word regte miere. Daar is baie onderdane wat die koningin versorg en hulle dra die eiertjies broeikaste toe. Daar broei hulle uit en as jy weer jou oë uitvee, is die hele wêreld vol miertjies.”

Geronkie peins lank oor Mossieman se storie, wat vir hom half en half waar klink. Miere is wonderlike goedjies en hulle bou miershope wat mens oral op plase en in die veld kan sien. Te mooi vir woorde.

“Ek wonder nou net oor een ding, Mossieman,” sê Geronkie terwyl hy sy laaste mieliepit insluk. “Het daardie klein miertjies in die miernes wat nie kan stilsit nie, ook rooimiere?”

*