old man, young boy

Die ou man het die seuntjie al vroeg daardie oggend gewaar, alleen op die afgeskilferde houtbankie wat oor Gordonsbaai se onstuimige see uitkyk. Gewoonlik is die see oorkant die stowwerige ou boekwinkel kalm en bedaard, maar daardie Oktober-oggend was die branders net so ontstuimig soos die seuntjie se gemoed.

As jy ʼn wyse ou man is wat lankal in jou huisie by die see afgetree het, is daar nie baie dinge vir jou ledige ure nie, behalwe om elke oggend met jou houtkierie en hondjie Avo langs die see af te wandel. Alleen. Altyd alleen. ʼn Afgeleefde houtbankie word jou koninkryk en vir ʼn rukkie sit jy daar en kyk hoe die mense en die lewe rustig verbygaan. Met ʼn glimlag en ʼn groet hier en daar knik die mense jou ʼn goeiedag toe – en dit is genoeg om van elke dag ʼn goeie dag te maak.

“Kan ek maar sit?” vra die ou man beleefd en beduie effens met sy kierie na die oop plekkie langs die seuntjie op die houtbankie. “Ek is bietjie moeg van al die stap en Avo se bene is ook maar nie meer wat dit was nie.” Stadig haal hy sy moeë laphoedjie van sy kop af en plaas hom versigtig op sy skoot. “Avo is my liefling hondjie, sy was nou-die-ander-dag twaalf jaar oud gewees. In mensejare is dit al oor die tagtig, sy is nou ʼn bejaarde ou dame.”

Die seuntjie kyk nie rêrig op nie, maar vryf Avo se ore toe sy haar haar stert swaai en haar snoet ongevraagd in sy warm hande indruk. Hy loer skuinsweg toe sy haar luierig onder die bankie neerplof. ‘Seker maar die boek wat hy lees wat hom so treurig maak,’ dink die ou man en kyk onder sy ruie wenkbroue deur na die verweerde ou geel storieboek wat langs die seuntjie op die bank lê. Hans Christian Andersen se Versamelde Sprokies, lees hy oor die verbleikte voorblad.

Andersen

“Ek hou ook van stories,” merk die grysaard saggies op, terwyl hy ver oor die branders tuur. “Veral kinderstories.”

“Ou mense hou mos nie van kinderstories, oom.”

“Miskien. Miskien ook nie. Wat is jou naam, jong man?”

“My naam is Joshua, net soos in die Bybel.”

Die wyse ou man se oë dwaal oor die sagte sonstrale wat die blink water van Valsbaai tot by Tafelberg in die verte streel. Sy gedagtes sweef na Andersen se donkie-oor ou geel boek wat bo-op sy hopie op sy tafeltjie by die huis lê. Soos goeie ou vriende wat altyd byderhand is as jy hulle nodig het. Sy afgeleefde hopie boeke is maar altyd op die tafeltjie, binne reikafstand as hy lus is vir Uilspieël, of Sagmoedige Neelsie se Brolloks en Bittergal, Eugene Marais se bobbejaanstories, een van die Boksombende se avonture of Don Quixote of Herman Charles Bosman se bosveldstories. Ou tantetjie Harper Lee se To kill a mockingbird  is maar altyd so in die middel van die skewe stapeltjie.

“Ou mense soos ons hou ook van kinderstories.”

Die seuntjie loer na die wyse ou uil met die grys hare wat langs hom op die bankie sit. Vir die eerste keer sien hy die leerbundeltjie wat tussen sy houtkierie en Avo se leiband uitsteek.

“Is dit waarom oom ʼn boek saam dra as oom hier langs die see kom stap?”

“Boeke is my vriende en ja, ek stap elke dag met my bundeltjie en my hondjie hier langs die see. Dan kom sit ek op die bankie om ʼn mooi storie te lees.”

“Waarom lees oom so baie?”

“Stories het vleuels en laat jou gedagtes regoor die wêreld vlieg, Joshua. Na vreemde lande en kulture en avonture van vreemde mense en diere. Stories het nie einde nie – die hele wêreld daarbuite is vol stories wat net wag om gelees te word. Die lewe self is net soos ʼn boek, Joshua. Elke dag is ʼn nuwe bladsy, elke maand ʼn nuwe hoofstuk, elke jaar ʼn geleentheid om nuwe boeke te lees. En weet jy wat die heel beste ding van stories is?”

“Nee, oom, vertel my asseblief,” vra Joshua opgewonde.

“Jy kan jou eie stories skryf. Dit is ʼn lekker manier om nuwe vriende te maak, want alle kinders hou van stories, maak nie saak hoe oud hulle is nie.”

“Net soos die stories in my geel boek. Kinderstorietjies. Ek het nog nooit daaraan gedink nie.”

Die wyse ou man haal sy bundeltjie versigtig tussen sy kierie en Avo die hondjie se leiband uit en gee hom vir die seuntjie. “Dit is my kinderbybel en hy is vol pragtige stories oor ʼn land Israel en ʼn man met die naam van Jesus. Ek het hierdie boekie al baie kere deurgelees en ek ken nou al die stories. Dit is die mooiste stories oor die hemel en die aarde en van gelykenisse en wonderwerke. Te pragtig vir woorde. Nou is my kinderbybeltjie joune.”

Josua neem die kinderbybel en streel saggies met sy hande oor die swart leeromslag wat al so bietjie stukkend om die kante is. Hy het nog nooit so ‘n bybeltjie gesien nie en hy weeg hom op en af om uit te vind waarom hy so ʼn bietjie swaarder is as wat hy lyk.

“Elke storie in hierdie bybeltjie is waar, Josua. Ek was daar, in Israel en ek het in Jesus se voetspore met die Via de la Rosa in die ou stad van Jerusalem gestap. Ek was langs die see van Galilea en Tiberias, by Golgota en die tuingraf van Jesus en die bokamer waar die laaste Avondmaal met sy dissipels plaasgevind het. Ek was by die tuin van Gethsemani met sy oeroue olyfbome, waar Jesus by die klip gekniel en gebid het. Alles is daar, Joshua. Mens kan hierdie dinge sien en beleef en met jou eie hande aan alles raak en ruik. Alles is nog daar en alles is waar. Ek het dit met my eie oë gesien en dit was wonderlik.”

Die gryse ou man vryf Avo se ore en sy oë dwaal weer so oor die silwer see, Tafelberg se kant toe. “Sien jy die drie blaartjies op hierdie bladsy in die bybeltjie, die drietjies wat so netjies langs mekaar lê? Die drie blaartjies kom uit die Tuin van Gethsemani en hulle is meer as twee duisend jaar oud. Ek en Belinda het hulle daar opgetel toe ʼn sagte windjie op die Olyfberg oor ons paadjie geritsel het.”

66071463-8f53-4ed4-9828-4fda5dc91eb0

“Ek is baie dankbaar vir die groot geskenk, oom. Ek sal my nuwe bybeltjie mooi oppas en elke dag die stories daarin lees. En nou weet ek waarom oom se oë so helder blink.”

Stram en stadig beur die wyse ou man orent en sit sy moeë laphoedjie stewig op sy gryse kop. Met sy een hand neem hy sy houtkierie en met die ander, sy langsame ou hond Avo se leiband. “Sterkte vir jou en seën vorentoe, jong man. Ek hoop dat elke storie wat jy lees, vir jou ʼn liggie op jou wandelpad deur die lewe sal wees. Net soos Joshua van die Bybel.”

*