lioutjie

Leeu wen eerste prys

Koning Leeu lê lekker onder ʼn groot ou populierboom langs die magtige Sandrivier en snork kliphard, soveel so dat hy al die diere van die Vrystaat wakker hou. Die diere knyp hul oë bot-toe en druk hulle vingers in hul ore, maar niks help nie. Eers krul Leeu op sy maag, toe op sy rug, toe draai hy onderstebo met sy stert en sy bene in die lug, alles sodat hy lekkerder kan slaap en beter kan snork.

Twee onnutsige karnallies wat van die Suid-Vrystaat af kom, Jakkals en Wolf, besluit om vir Leeu ʼn poets te bak. Versigtig sluip hulle agterom die groot ou populierboom en toe Leeu nog ʼn keer so lekker diep snork, maak hulle ʼn knoop in sy stert en sit ‘n mooi pienk strikkie op die puntjie.

Later word Leeu wakker en hy kyk verbaas rond, want al diere klap vir hom hande en lag en waai vir hom. Hy knip sy oë ʼn paar keer verward en loer om hom rond. Almal juig hom toe en Leeu glimlag verleë, asof hy die applous verdien. Leeu onthou niks wat gebeur het nie, maar hy stap ewe manhaftig deur die bos om die diere se toejuiging te erken. ‘Ek verdien dit,’ dink hy. “Ek is immers die koning van die diere en die miere.”

“Baie geluk, Leeu!” skree die diere entosiasties. “Jy is die beste en die mooiste leeu in die hele Vrystaat! Baie geluk! Jy het eerste prys gewen!”

Leeu glimlag meerderwaardig en erken die applous deur sy groot leeupoot stadig en elegant deur die lug te waai. Leeu het op televisie gesien die Koningin van Engeland doen dit met haar onderdane – dit is seker hoe ʼn koning moet optree. Veral een wat van Afrika af kom.

“Dink julle nie ek moet  ʼn koningskleed en ʼn kroon ook kry nie?” vra Leeu verwaand vir Jakkals en Wolf wat al agter hom aanloop en die hele tyd hul knieë buig om eer aan Leeu te betoon. Leeu loop so bietjie windskeef deur die bos, omdat die knoop in sy stert effens ongemaklik is en hom so nou en dan van balans af gooi.

“Ja, koning Leeu,” sê Jakkals vir hom en glimlag skelm. “Sodra die tyd reg is, maak ons vir jou ʼn manjefieke koningskleed. Intussen het ons solank vir jou ʼn kroon van blare gemaak. Hier is dit. Sit dit op jou kop, sodat jou onderdane kan sien dat jy die koning is.” Jakkals en Wolf sê nie vir Leeu dat die kroon van brandnetelblare gemaak is nie, want brandnetelblare brand eina en juk vreeslik as jy daaraan raak.

“ʼn Kroon van blare! Aitsa! Baie dankie, kêrels. Dit is baie vriendelik van julle!” Trots sit Leeu sit die blarekroon op sy kop en wuif weer in die rondte, net soos die koningin van Engeland. “Ek is deur die blare!” lag hy en wuif nog ʼn keer elegant vir sy onderdane.

Kort voor lank begin Leeu se kop juk en die knoop in sy stert laat hom al hoe meer kruppel loop, maar die diere juig en skree en waai en swaai in die bome. Soos ʼn dapper muis stap Koning voort deur die bos, trippe-trappe-trone. Hy wuif met sy poot én sy strikkie-stert om erkenning aan al die applous te verleen.

‘Hulle is so vriendelik, kyk net hoe lag hulle die hele tyd. Hulle is seker baie bly dat ek hulle koning en hulle my onderdane is,’ dink Leeu en hy waai vriendelik vir die voëls in die bome en die diere langs die magtige Sandrivier. Die diere lag en gesels en maak ʼn hele optog al agter Leeu aan. Party bobbejane loop net so kruppel en skeef soos hy en hou hulle sterte in die lug. So nou en dan krap Leeu met sy groot poot aan sy ore, want die brandnetels brand sy kop en sy hare. Met sy ander poot voel-voel hy so na die puntjie van sy stert.

En dit was die dag waarop die diere van die Vrystaat vir Leeu gekies het as hulle koning. Sommer koning van al die diere regoor die hele Suid-Afrika! Nie omdat Leeu so braaf en dapper is nie, maar omdat hy snaakserig loop en die hele tyd sy kop krap. So asof hy die hele tyd wonder oor iets.

Kyk maar mooi as julle weer in die Vrystaat kom en met die ou brug van Harmonie se kant af, oor die magtige Sandrivier ry. Tot vandag toe nog loop koning Leeu windmakerig daar rond met ʼn pienk strikkie op die puntjie van sy stert.

*