spieeltjie

GERONKIE SE SPOOK

“Mossieman! Help, Mossieman, help! Help my!”

Geronkie die donkie kom met ʼn stink spoed om die hoek van die skuur op die plaas gegalop, witgeskrik en windverwaaid, asof hy ʼn spook gesien het. Sy perdestert staan kiertsregop van bangheid en sy gebeendere bewe van vrees.

Mossieman lees rustig die Volksblad en kyk gesteurd op na Geronkie wat so aangegalop kom, ore flappend in die wind en sy ogies koëlrond van die skrik. “Waarmee kan ek help, Geronkie?” vra Mossieman besadig, terwyl hy in die sportblaaie oor die Cheetahs se jongste sege op die rugbyveld lees. “Dit lyk of jy ʼn spook gesien het.”

“Ek het, Mossieman, ek het! ʼn Baie lelike spook!” verduidelik Geronkie uitasem. “Hy is vreesaanjaend, leliker as die nag, witter as ʼn dubbelbedsatynlaken, met vreeslike goot tande wat my amper middeldeur kan byt! Ek kon die wasem van sy spookasem sien!”

“Stadig nou oor die klippe, Geronkie, kalmeer. Kom sit hier langs my onder die koelteboom en verduidelik stadig wat gebeur het. Jy is wasbleek, jong. Ek bring solank vir jou  ʼn koppie eg Vrystaatse boeretroos en ʼn vars boerbeskuit om jou senuwees te laaf. Haal diep asem, ontspan, dan vertel jy my alles.” Mossieman is baie simpatiek en sit ʼn koel asynlappie op Geronkie se voorkop om te help met sy senuwees. “Hier, neem my snoetpoetsertjie, Geronkie, blaas jou neus en vertel my hoe die spook lyk.”

Geronkie haal diep asem en vertel angstig van die spook. “Net hier agter die plaashuis, in die skuur, Mossieman, deur die venster. Dit is waar ek die spook gesien het! Hy is skrikwekkend, baie kwaai, met  ʼn lang rooi tong en twee tamaai blou ore, so lelik soos die nag. Hy lyk soos ʼn voëlverskrikker en hy het deur die donker venster vir my geloer. Dit het gelyk of hy my wil opvreet. Ek is so bang!”

“Hmm… Mossieman krap diep ingedagte sy kop met sy verepoot. “Spoke sweef deur vensters en deure en kosyne en mure, so dit is heeltemal moontlik dat jy ʼn spook deur die skuur se venster gesien het, Geronkie. Onwaarskynlik, maar heel moontlik, want spoke word gesien, maar nooit gehoor nie.”

“Dit is pikdonker daarbinne, Mossieman! Ek kon nie baie mooi sien nie, maar daardie spook is nie baie aantreklik nie. Hy het sulke groot tande en flappende ore, net soos een van daai eseltjies wat hier in die onderste kampie op die plaas rondloop. Dit het gelyk of hy gryslag en hy het vreeslike geluide gemaak, amper soos ʼn perd wat runnik. Sy oë was groot en sy tande het op mekaar geklap! Dit was ʼn vreeslike onaardige geluid!”

“Drink klaar jou boeretroos, Geronkie, dan kom wys jy my waar jy die spook gesien het. Ek moet sê, dit is baie spokerig in daardie skuur,” dik Mossieman aan.”

“Goed so, Mossieman, maar ek is baie skrikkerig. Kyk hoe bewe my boude.”

“Toemaar, Geronkie, ek gaan saam met jou, ek sal jou pootjie vashou en jou beskerm teen die spook. Moet nie ʼn bangbroek wees nie.”

“Mossieman, ek dra nie eers ʼn broek nie. En ek is liewer bang jan as dooie jan,” fluister Geronkie.

Voetjie vir voetjie, trippe-trappe-trone, soetjies-soetjies sluip Mossieman en Geronkie om die plaashuis se hoek na die skuur se kant toe. Die brawe Mossieman loop manhaftig voor, Geronkie kom senuagtig agterna en probeer agter Mossieman se broekspype wegkruip sodat die spook hom nie sien nie. “Ek is baie bang, Mossieman,” fluister Geronkie angstig en loer benoud agter hom rond. “Is die spieël nog daar? Kan jy die spook sien?”

“Dit is donker daarbinne, Geronkie, ek sien niks nie, net bietjie spookasem. Ek dink ons moet gelyk ons koppe deur die venster druk, miskien sien ons dan die spook.”

Geronkie se broek bewe en sy lang ore draai al in die rondte. “Dink jy so, Mossieman? Sê nou net hy gryp ons! As daai spook deur die venster spring, gaan die poppe dans!”

“Steek jy jou kop links-om deur die venster, dan steek ek myne regs-om. Miskien skrik die spook as hy ons altwee gelyk deur die venster sien. Reg so, Geronkie? Gereed? Een-twee-drie!”

“WHAAAAAAA!! balk Geronkie benoud. “Daar’s hy! Daar’s hy! Ek sien hom, in die spieël!”

Mossieman kyk vir al wat hy werd is deur die donker venster, maar hy sien niks nie. “Daars niks daar binne nie, Geronkie, net ʼn ou spieël.”

“Ek sien iets, Mossieman, kyk daar! Daar’s hy! Daar’s twee van hulle, die lelike een en nog een! Hy lyk net soos jy, Mossieman! Help! Die spook lyk soos ʼn mossie! Kyk daar! Hy het ʼn rooi strikdas en ʼn knypbrilletjie, net soos jy, Mossieman! Help iemand, help! Hier is twee spoke! Help!”

“Geronkie, kalmeer, kalmeer. Kyk deur die venster, daar is net ʼn ou spieël. Daardie spook wat jy sien, is jy!”

“Wat! Wie? Ek? Ek, Mossieman? Ek? Ek is nie ʼn spook nie.”

“Geronkie,” lag Mossieman, “daardie spook in die spieël lyk dan net soos jy. En die ander mossie-spook lyk net soos ek.”

Versigtig loer Geronkie om die hoekie, deur die donker venster om die spook in die spieël van nader te bestudeer. Al wat hy sien is twee lang flappende ore en twee rye blink tande wat vir hom terugloer. Geronkie knipoog met sy regteroog en gedorie, die spook doen dit ook. Toe knipoog hy met sy linkeroog en wraggies doen die spook dit ook. “Hy maak my na, Mossieman,” brom Geronkie en laat sak sy een oor halfmas. Toe doen dit spook dit ook en Geronkie laat sak sy regtoor ook. Die spook in die spieël doen dieselfde. “Hy maak my na, Mossieman, hy is ʼn regte terggees. So ʼn karnallie!”

“Ek sê jou mos, Geronkie, die spook in die spieël is jy.”

“Neewat, Mossieman, daai spook in die spieël is nie ek nie.”

‘Geronkie, sê Mossieman streng, “ek is nie altyd reg nie, maar ek is nooit verkeerd nie. Jy is die spook in die spieël.”

“Ek dink nie so nie, geen manier nie. Dit kan nie ek wees nie, Mossieman. Ek is nie sò lelik nie.”

*