paddamanel

Padda se manél

Prins die Padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei en besluit om vir hom ʼn spoggerige nuwe baadjie by Virginia se klerewinkel te koop. Prins die Padda wou baie mooi lyk vir sy mooi nooi en ʼn nuwe rooi baadjie sou net die ding doen.

“Mys!” roep Prins die Padda vir sy boesemvriendjie, Mys die Muis. “Kom hoor bietjie hierso! Toe-toe, maak jou groot ore oop en hoor my lied.”

Mys die Muis staan nuuskierig nader en bekyk vir Prins die Padda op en af, van hoek tot kant, van kop tot toon. Ja-nee! Prins is darem ʼn baie mooi padda, met sy groen ore, rooi oë en pragtige gestreepte lyfie.

“Ek moet vir my ʼn nuwe baadjie gaan koop voordat ek vir my nooi in die vlei gaan kuier. Kom jy saam na Klaas se klerewinkel toe?”

“Natuurlik,’ spring Mys die Muis gretig van sy klip af. “Natuurlik kom ek saam, Prins. Ek wil sien watter baadjie jy by Klaas gaan koop.” En ʼn opsitkers het jy ook nodig, ons moet sommer een daar by oom Calitz se winkel koop.” Die twee maters vat in die kronkelpad dorp toe om na oom Calitz en Klaas se klerewinkel te gaan soek.

“Maar weet jy wat, Prins?” gesels Mys die Muis onnutsig saam, toe hulle in die pad val. “Jy moet eintlik nie ʼn nuwe baadjie koop nie.”

“Hoekom nie?” vra Prins die Padda verbaas. “Ek wil darem baie spoggerig lyk vir my nooi in die vlei.”

“Ek dink jy moet ʼn rooi manél koop,” gee Mys die Muis flink sy opinie.

“ʼn Rooi manél! Wat op aarde is dit?” vra Prins die Padda verbaas. “Ek het nog nooit in my lewe van ʼn rooi manél gehoor nie.”

“Dit is amper soos ʼn nuwe baadjie,” verduidelik Mys die Muis toe hulle al hoe nader aan die dorp kom. “Net baie mooier en meer windmakerig.”

“Reg so,” stem Prins die Padda in, “dan koop ek vir my ʼn elegante rooi manél-baadjie.”

By die klerewinkel help Klaas die kleremaker vir Prins die Padda om ʼn nuwe manél uit te soek. Mys die Muis sit gemaklik agteroor op ʼn stoel in die klerewinkel, reg om die hele petalje voor hom dop te hou.

Eers pas Padda ʼn swart baadjie aan, en toe ʼn pienke met frilletjies. “Nie goed genoeg nie, nie mooi genoeg nie,” sê hy vir die kleremaker. “Te lank. Te kort. Te rond, nie goed genoeg nie. Bring nog, bring baie. Onthou, ek moet pragtig lyk vir my nooi in die vlei. Ek het ʼn opsitkers wat my na haar toe sal lei.”

Klaas die kleremaker dra geduldig nog baadjies aan, ʼn groene met ʼn pragtige pers kraag en een van hemelblou. Paddamanél kyk in die spieël en draai so bietjie in die rondte. “Nie mooi genoeg nie,” sê hy. “Nie spoggerig genoeg nie.”

Toe bring die geduldige Klaas ʼn geel baadjie aan, met blou moue en ʼn oranje kraag. “Nie mooi genoeg nie,” sê Paddamanél ontevrede. “Bring nog baadjies. Onthou, ek moet my mooi tooi vir my nooi in die vlei.”

Die arme kleremaker dra nog baadjies aan, oranje en bruin en swart en wit en geel en groen, lank en kort, groot en klein, fluweel en satyn. Maar niks stel Paddamanél tevrede nie, met elke baadjie is daar iets skort. Niks is goed genoeg nie, hier te kort en daar te lank.

Klaas die kleremaker is raadop en radeloos. Hy het nie meer baie baadjies om vir Paddamanél te wys nie. Hy is met niks tevrede nie en hy loop ongeduldig voor die spieël op en af. Mys die Muis sit die storie sò en kyk, baie geamuseerd om te sien hoe Paddamanél op en af paradeer.

“Paddamanél,” sê Klaas naderhand moedeloos en gaan sit plat op die grond, “ek het niks meer baadjies om vir jou te wys nie. Nie eers my beste rooi manél is goed genoeg vir jou nie.”

Paddamanél kyk bewonderend vir homself in die spieël, eers van voor af, toe van agter af, toe van links na regs en kop tot tone.

“Mys?”

“Ja?”

“Weet jy wat, Mys? Ek sien nou iets vir die eerste keer iets raak.”

Mys die Muis spits sy ore nuuskierig en Klaas die kleremaker staan ook skoorvoetend nader.

“Sien julle wat ek sien?” Paddamanél staan sonder ʼn draad klere aan voor die spieël, in sy adamsgewaad!

“Nee, wat sien jy?”

Paddamanél bewonder homself in die spieël, van kop tot tone.

“Ek dink ek lyk te pragtig vir woorde, net soos ek is, in my adamsgewaad.”

“Weet jy, Paddamanél, jy is reg. Jy lyk asemrowend sonder enige klere aan. Ons kan nou sommer al jou kleure sien, van bo tot onder, groen en geel en rooi en blou. Jy is regtig verruklik mooi, net soos jy is.”

“Ek dink ook ek is pragtig, net soos ek is,” beaam Paddamanél trots. “Kyk hoe mooi  getooi is ek, reg vir my nooi in die vlei.”

Prins die Padda staan sy adamsgewaad nog so in die spieël bewonder, toe Klaas die kleremaker nader kom met sy rekening.

“Dit sal tien rand wees, asseblief, Paddamanél.”

“Waarvoor moet ek tien rand betaal?’ wil Paddamanél omgekrap weet.

“Vir jou adamsgewaad, Paddamanél, vir jou adamsgewaad. Dit is die mooiste  padda adamsgewaad in die hele wêreld, selfs beter as my beste manèlpak. Stem jy nie saam nie?” vra Klaas die kleremaker en staan bakhand nader.

“Mys die Muis, stem jy saam met Klaas, oor hoe mooi my adamsgewaad is?”

“Ek stem saam met Klaas, Paddamanél, hy is heeltemal reg. Jou nuwe adamsgewaad is definitief meer as tien rand werd.”

“Goed so,” sê Paddamanél instemmend en hy haal sy beursie uit. “Hier is jou tien rand, Klaas die kleremaker.” Dankbaar druk Klaas die tien rand is sy sak en kyk tevrede agterna hoe Paddamanél in sy splinternuwe adamsgewaad by die klerewinkel uitstap.

Windmakerig op pad na sy nooi in die vlei, met sy opsitkers wat hom na haar toe sal lei.

*