pietp

Piet Perlemoen

“Het jy al gehoor van Riviersonderend?” vra Mossieman nonchalant vir Geronkie die donkie terwyl hulle pens en pootjies op hul rũe vir die wolke lê en kyk. Wolke in die Vrystaat is wonderlike dinge, omdat hulle allerhande vorme en patrone aanneem en baie keer soos drake of husse met lang ore lyk.

“Riviersonderend? ʼn Rivier sonder ʼn einde?”

“Ja Geronkie,” sê Mossieman en hy skuif sy bril op sy neus rond. “Riviersonderend is langs Grabouw naby die malende Botrivier, verby Caledon, aan die anderkant van die Hottentots-Hollandberge.”

“Wat is so spesiaal aan Riviersonderend en sy rivier sonder ʼn einde?”

“Dit is waar Piet Perlemoen vandaan kom.”

“Piet Perlemoen! Nog nooit van hom gehoor nie.”

“Dit verbaas my nie,” sug Mossieman bedeesd, terwyl hy sy bril op sy kop sit en sy rooi strikdassie regtrek. “Riviersonderend is ʼn plek waar baie dinge nie gebeur nie.”

“Nou, hoe bedoel jy nou, Mossieman? vra Geronkie agterdogtig.

“Die goeie nuus oor Riviersonderend is dat dit baie slegter kon gegaan het.”

“Ag, Mossieman, vertel my liewer die storie van Piet Perlemoen,” sê Geronkie nuuskierig. “Jy is besig om my deurmekaar te maak.”

“Piet Perlemoen was die beste perlemoendief in die Wes-Kaap, maar niemand het nog ooit van hom gehoor nie. Hy was soos ʼn dief in die nag.”

“Jy meen hy is ʼn ou soos die Skim? Of Tarzan? Skaam en skugter en baie slim?”

“Presies ja,” sê Mossieman en hy loer bo-oor die onderkant van sy bril, “ʼn Hersenskim.”

“Ek het nog nooit van Piet Perlemoen gehoor nie. Hoekom sê jy dat hy ‘n goeie dief was?”

“Wel,” sê Mossieman nadenkend, “Piet Perlemoen het so baie perlemoen uit die see gesteel, dat daar later net arikreukel oor was.”

“Hoekom sou hy so iets doen, mens mag mos nie perlemoen steel nie!”

“Dit is hoekom Piet Perlemoen nou in die tronk sit.”

“Maar wie sê dit was hy?  Dit kon net sowel iemand anders gewees het.”

“Miskien, dit is moontlik. Iemand anders, soos ‘n hersenskim miskien,” wonder Mossieman. “Iemand wat jy nooit sien nie. Jy kom net later agter dat al die perlemoen weg is.”

“Maar toe vang hulle hom en sit hom in die tronk?”

“Ja, maar hy is nou vrygelaat, met ‘n vonnis. Die magistraat het gesê Piet Perlemoen moet al die skulpe van die perlemoen wat hy gesteel het, gaan optel en weer in die see terugsit.”

“Terugsit in die see? Waarom?”

“Sodat die perlemoene en die mossels weer kan groei.  Jy kan mos nie net goed uit die see haal nie, jy moet darem iets terugsit ook. A-nee-a!”

“Maar Mossieman,” vra Geronkie die donkie bekommerd, “hoe weet ons dit is Piet Perlemoen wat besig is om sy vonnis uit te dien? Hoe weet ons dit is hy wat die perlemoen terugsit in die see? Hy is dan ‘n skim – ʼn spook wat niemand nog ooit gesien het nie.”

“Aah,” sug Mossieman behaaglik en loer weer vir die wolke om te kyk of ʼn draak kan raaksien. “Dink aan die strand en die branders en al die seewiere wat daar lê.”

“Jaa…” sê Geronkie versigtig, “dit is daai grillerige groen goeters met lang arms en bene en snorbaarde. Hulle lyk vir my bietjie slymerig.”

“Dis hulle daardie. Jy sien, Geronkie, die magistraat het vir Piet Perlemoen gesê hy moet eers die see mooi skoonmaak, voordat hy weer die perlemoene in die see plant.  Dit is sy straf.”

“Daardie seewiere en anemone wat op die strand lê?”

“Ja,” sê Mossieman en hy loer ondeund na Geronkie. “Elke keer as jy die seewiere en mossels op die strand sien lê, moet jy maar weet Piet Perlemoen is besig om die perlemoene wat hy gesteel het, te plant. Dit is sy straf omdat hulle hom gevang het.”

“Hoe lank dink jy gaan dit duur, Mossieman? Hoe lank gaan Piet Perlemoen vat op weer al die perlemoene terug in die see te sit?” vra Geronkie agterdogtig.

“Ek dink dit gaan so honderd jaar vat,” se Mossieman en hy sit sy bril weer terug op sy neus. “Miskien twee honderd jaar lank, as Piet Perlemoen gou maak.”

“Dankie vir die mooi storie, Mossieman. Ek weet ʼn goeie begryper soos ek het net ʼn halwe woord nodig. Ek sal nooit as te nimmers iets uit die see steel nie. Die seeperdjies en mossels en arikreukel en perlemoene is kosbare geskenkies van die Here af. Al wat ons landdiere moet doen, is om die seediere te bewonder en hulle nooit ooit uit die see uit te steel nie.”

“Amen, Geronkie. Nou verstaan jy my storie,” sug Mossieman selfvoldaan en draai weer op sy rug om die wolke in die hemelruim te bewonder. “Kyk, Geronkie, daardie wolkie daar lyk net soos ʼn Vrystaatse seeperdjie. Sien jy hom?”

*

 

————-