goudvis

Die morestond het ʼn goudvis in die mond

Hy kom elke dag hier na my glasbak toe – hy verander nooit sy roetine nie en hy doen elke dag dieselfde dinge. Sy lewe moet hoeka bra vervelig wees. Hy slaan nooit ʼn dag oor nie – ietsie waaroor ek bly is, want ek kry elke dag kos en my waterhuisie word mooi  skoongemaak. Partykeer vryf hy my glasbak met ʼn lappie skoon, sodat ek beter buitetoe kan sien. “Môre-môre,” groet hy opgewek, dan antwoord ek altyd: “die môrestond het goud in die mond,” maar ek dink nie hy hoor my tussen al die borrels deur nie.

Ek is nogal beïndruk met sy vlyt as hy so voor sy rekenaar sit en tik. Partykeer staar hy dromerig die verte in, ander kere slaan hy sy klawerbord dat die rook so trek. Partykeer speel hy met iets wat lyk soos ʼn muis, maar ek dink nie dit is ʼn regte muis nie. As dit ʼn regte egte muis was, het daardie gemmerkatjie wat elke dag hier rondlê, hom lankal opgeët. Hy hou van sy gemmerkat en hy kielie haar elke dag, amper so baie soos vir my. Hy hou egter baie meer van my as van daai gemmerkat, ek weet. Hy roep haar as sy haar kos moet kom eet en sy prrrrr... net, sy kan nie eers behoorlik praat nie.

Mens kan nie sê dat hy lui is nie, hy skryf elke dag getrou op sy rekenaar aan sy storietjies. Mens kan nie eintlik sê nie… maar, nou ja, ek is nie ʼn mens nie. Dit weet ek goed, want mense het sulke bleek velle en ek is pragtig oorgetrek met goud. Van kop tot toon of in my geval, van my kiewe tot by my stert. Wel, nie heeltemal nie, want my kiewe is vis nog vlees. Ek moet bietjie bieg en as ek eerlik is met julle, is net my kop van goud. My kiewe is mooi en rooi en groen en ʼn klein bietjie blou – so blou soos die see waar my ouma- en oupagrootjie vandaan kom.

Ek dink hy dink ek slaap meeste van die tyd. Hy dink seker ek dink hy sit net voor sy rekenaar en tik. Maar ek weet hy vertel stories, slaaptydstories, vir kinders, om hulle vaak te maak voordat hulle gaan slaap. Ek weet hy hou van stories, want partykeer kyk hy na stories op die televisie. Maar daai stories moet seker baie verveliger wees as sy eie stories, want hy raak altyd aan die slaap.

Terwyl hy slaap, is my een oog is wakker en as ek so rondswem, loer ek paraat vir hom onder my wimpers deur. Hy sien nie eers ek kyk vir hom nie, maar ek hou hom die hele tyd dop. Net soos ʼn groot wit haai wat sy prooi wil gryp. Miskien eet ek hom nog eendag op, maar daarvoor moet ek uit my glasbak klim. Ek wil dit nie eintlik doen nie, want dan voel ek so ongemaklik soos ʼn vis op droë grond.

Ons speel elke dag en partykeer maak hy of hy my jaag en hy gryp my stert so ʼn bietjie. Maar ek is te vinnig vir hom, ek woerts-warts die hele tyd in die rondte en hy sukkel om my te vang. En dan skryf hy weer. Hy is mal oor stories en oor boeke en sy neus is altyd in oeroue mites en legendes. Ek sien sy stories en ek lees hulle skelmpies deur my glaskas wanneer hy vir hom koffie in die kombuis gaan maak. Hy weet nie eers dat ek kan lees nie en dat ek van sy stories hou nie. Meeste van sy stories het pragtige prentjies by, kinderprentjies. Mooi prentjies met die asemrowendste kleure onder die reënboog, net soos my stert.

Dit is my geheim – moet hom nie vertel dat ek sy stories lees as hy nie kyk nie, want ek kry hom al jammer genoeg. Sy lewe lyk vir my maar vervelig, al wat hy doen is tik-tik en dan lees hy boeke. Nie soos my lewe hier binne in my glaskas nie. Hier swem ek blitsig rond, net soos ʼn groot wit haai in die oop see. Maar ek is vinniger as enige haai en ek kan enige prooi vang wat dit sou waag om hier rond te swem. Dit is my glaskas dié.

Ek is baie besig met my swemmery – vryslag, vlinderslag, rugslag en borslag. Ek hou die meeste van rugslag, want ek kan maar net op my rug lê en dryf. Niemand weet dit nie, so moet asseblief vir niemand vertel nie, hoor.

Maar nou moet julle my verskoon. Ek is vaak en ek het genoeg geklets. Ek wil gou nog ʼn rondte woerts-warts in my glasbak swem en dan moet ek ʼn uiltjie knip. Lekker slaap.

*