Vrolik en olik.PNG

Vrolik en olik

“Olik, kom ons gaan swem!”

“Nee! Ons kan nie gaan swem nie, ek gaan nat word.”

Vrolik en Olik is twee dogtertjie-maatjies wat elke dag saam gespeel het, alhoewel Vrolik altyd wou speel en Olik nooit rêrig wou speel nie. Vrolik is vol energie en stoutigheid, ʼn bok vir sports en altyd reg vir ʼn nuwe avontuur. Olik soek altyd verskonings om iets nie te doen nie en probeer enige oefening of pret vermy deur vir alles en almal nee te sê. Vrolik se glasie was elke dag half vol en Olik se glasie altyd half leeg.

“Olik, ons kan in die plaasdam gaan swem! Dit is lekker en daar is ʼn windpomp om op te speel!”

“O nee, O wee! Netnou is daar paddas in die plaasdam, of eende, of dalk ʼn monster onder die water. Nee, ek is te bang. My arms word seer as ek swem, netnou sink ek.”

“Aitog. Reg so, Olik. Dan speel ons op die windpomp.”

“Nee, net-nou slaan sy windmeulens my onderstebo.”

“Olik, kom ons klim boom. Agter ons ou plaashuis is ʼn reuse boom, met vinkneste en mossies en kwettervoëltjies wat tjirp en fladder en vlieg.”

“O nee, O wee. Ons kan nie boomklim nie, netnou val ek uit! Op my kop en wat dan?”

“Dan is jou kop vol knoppe, maar ons klim weer in die boom en speel verder. Olik, dit begin reën buite. Kom ons gaan speel in die reën – die druppels gaan op ons koppe val! Ons hare word sopnat en ons kan al die ander kinders papnat spat!”

“Nee Vrolik, nee. Jy weet hoe gou kry ek ʼn verkoue, dan nies en hoes en proes ek. Dink net hoe lank dit gaan vat om ons klere en ons hare droog te kry.”

“Olik, kom ons gaan swaai op die skoppelmaai, onder die groot ou boom, saam met ons maatjies.”

“Agge nee, Vrolik. As ek op daai skoppelmaai vroetel en swaai, gaan my hare mos deurmekaar waai!”

“Nou maar goed so, Olik. Wat daarvan as ons ʼn entjie gaan stap, hier na die koppie toe op die plaas. Ons kan tot bo loop en die hele wêreld sien. Die toppie van die koppie is so hoog, ons kan amper aan die wolke en die hemel raak. Dan staan ons daar bo en ons lag en sing en dans, net soos Klaredyn.”

“Nee, Vrolik, nee. My bene is seer.”

“Nou goed dan, Olik. Kom ons gaan lê op ons rue en kyk vir die wolke. Dan verbeel ons ons is voëltjies wat bokant die wolke vlieg, tot teenaan die hemel.”

“O nee, O wee,” kla Olik, “Ek het hoogtevrees. Ek word boonop duiselig as ek boëntoe kyk.”

“Nou maar goed, Olik, vanaand kyk ons na die sterre daar bo in die hemelruim, dan sien ons die melkweg en die uitspansel, so wyd soos die Heer se genade.”

“O nee, O wee, ek is bang vir die donker.”

“Kom ons gaan steel soetkoekies uit ouma se spens. En kondensmelk!”

“Nee, nee Vrolik. Laas keer het ek maagpyn gekry van al die soetgoed.”

“Nou goed dan, Olik, kom ons speel wegkruipertjie!”

“Nee, Vrolik. Dit maak my baie angstig. Sê nou net niemand kry my ooit weer nie. Dan is ek vir altyd en ewig weg en verlore. Ek sal baie mismoedig raak as niemand my ooit weer kry nie.”

“Toemaar, Olik. Kinders raak nie so maklik weg nie.”

Ons twee maatjies kyk grootoog na mekaar, die een wonder en die ander een vol wonder. “Maar raak jy dan nooit bang nie, Vrolik? Jy is altyd so opgeruimd en opgewonde en jy lag en gesels met almal. Waarom word jy nooit bang nie?”

“Jy is verkeerd, Olik, ek word baie bang. So bang dat my tande klap en my broek bewe. Ek is baie bang dat daar nie genoeg tyd is om al die boeke in die wêreld te lees nie. Of om al die liedjies te sing wat ouma vir ons geleer het nie, of saam met oupa beeskraal toe te gaan nie. Ek is bang die winter kom te gou en ek nie gaan sien hoe al die lammertjies op die plaas gebore word nie. Ek is bang dat ek nooit op ʼn vliegtuig gaan vlieg Alaska toe nie, dat ek nooit ʼn ysbeer gaan sien nie of saam met dolfyne kan swem nie. Ek is bang dat ek nooit weer my voete in ʼn yskoue kabbelende waterstroompie kan sit nie, of met my hande in die sneeu kan vroetel nie. Ek is bang dat ek nie genoeg in die see kan baljaar nie.”

“Dit is ʼn ander soort bang as my bang, Vrolik. Ek is sommer bang vir alles.”

“Dit is okei om bang te wees, Olik. Maar dan moet mens vir die regte dinge bang wees.”

“Wat kan ek doen om nie meer bang te wees nie, Vrolik? As ek dan moet bang wees, wil ek vir die regte dinge bang wees.”

Vrolik sit haar arms vetroostend om Olik se skouers en streel haar hare. “Ek weet presies wat ons gaan doen om jou bangheid weg te jaag, Olik. Kom saam met my – ons gaan saam met die paddas in die plaasdam swem en dan dans ons in die reën, net soos Klaredyn. Daarna hardloop ons tot bo-op die koppie om die hemel te sien, dan klim ons boom en kwetter saam met die voëltjies en kwaak saam met die paddas daar onder in die vlei.”

Olik spring kiertsregop en gryp Vrolik se hand. “Kom, Vrolik, kom! Ons moet wikkel, daar is so baie dinge om te doen! Ons moet opskud – ek is bang ons kry nie klaar met alles nie! Dit is tyd vir pret en plesier – kom ons gaan dans en baljaar, net soos Klaredyn.”

*