Frenchie

Monsieur De la Fontaine

In die middel van die somer word daar elke jaar ʼn mooiste Afrikaanse tuintjiekompetisie in die pragtige Vrystaat gehou. Al die inwoners van Virginia neem deel en elkeen kan sy tuintjie vir die kompetisie inskryf om ʼn groot prys te wen. En jou foto kom in die Volksblad! Die tuintjiekompetisie is ʼn baie groot okkasie in die Vrystaat, want die eeste prys is ʼn lekker glas rooiwyn en ʼn lang Franse baguette.

“Geronkie, praat jy Frans? vra Mossieman onnutsig en kam sy veredos met sy pootjie onder sy beret in.

“Ja en nee, Mossieman. Ek kan Frans verstaan, maar ek praat asof ek ʼn padda in my keel het. Waarom wil jy weet?”

“Ek het gehoor dat daardie Franse omie wat hier onder langs die rivier bly, sy tuintjie vir die mooiste Afrikaanse tuintjiekompetisie gaan inskryf.”

“Ek het baie Afrikaanse blomme en struike in my tuintjie, ek gaan ook ingeskryf,” lewer Geronkie kommentaar. “Dink jy die Franse omie kan die kompetisie wen? Sy tuintjie daar langs die rivier lyk vir my maar valerig en hy het baie min Afrikaanse plante en struike. Wat is sy naam in elk geval?”

“Monsieur De la Fontaine. Hy loop elke dag met sy loopraam langs die magtige Sandrivier om die visse in die water en die likkewane op die walle te tel.”

“Monsieur De la Fontaine? Grote griet! Wat ʼn vreemde naam!”

Oui,” sê Mossieman en wuif elegant een van sy stertvere. Hy het iewers gehoor Frans is die mooiste taal in die wêreld (behalwe vir Afrikaans) en dat jy jou stertvere deftig moet kam as jy Frans ordentlik wil begryp. “Maar vertel nou eers, Geronkie, verstaan jy darem as die Fransman met jou praat?”

“Ja. Ek hoor meer met my een oor as ander diere met twee ore.”

Mossieman skaterlag. “Geronkie, ek ken jou. Jy het donkiejare laas iets verstaan, wat praat jy nog van Frans.”

“Ek ken vir monsieur De la Fontaine,” praat Geronkie nukkerig terug. “Ons is albei bietjie hardhorend, daarom gesels ons met ʼn paar handgebare.”

“Net bietjie hardhorend? krap Mossieman sy kop. “Hy loop met sy loopraam rond en as ek met hom praat, dan hoor en verstaan hy niks nie.”

“Praat jy rêrig Frans, Mossieman? Of maak jy net of jy Frans verstaan?”

“So effens, Geronkie, net so effens, sê Mossieman beskeie. “Die Franse omie praat oor kos, dan herken ek die woorde. Hy eet ‘foie gras’ en padaboudjies.”

Geronkie skud sy kop en hou sy poot bakhand agter sy groot donkie-ore. “Wat? Het monsieur De la Fontaine paddaboudjies? Is dit hoekom hy so met sy loopraam sukkel?

Mossieman lag uit sy magie uit. “Ek het gedink hy loop so omdat hy oud is, nie omdat hy paddaboudjies het nie. Ek lag myself elke keer ʼn ertjie met ʼn boggel as ek daai paddaboudjies van hom sien.”

“Hy het darem ʼn baie mooi tuintjie daar by sy huis langs die Sandrivier.”

“Ek weet darem nie, Geronkie. Daai Franse omie is in sy genadejare – hy en sy tuintjie is  ewe stokoud. Helfte van sy blomme is verlep en die ander helfte is nie eers Afrikaans nie.”

“Dit is ʼn genade om in jou genadejare te wees, Mossieman, al is jy Frans. Wat is ʼn Afrikaanse tuintjie in elk geval?”

“Dit is ʼn tuintjie met Afrikanertjies, proteas en waterblommetjies. Jy weet, Afrikaanse blomme.”

“Die Franse omie is darem baie vriendelik. Elke keer as ek met hom praat, nooi hy my uit om saam met hom waterblommetjiebredie te eet. Die oom praat net Frans met my, maar hy hoor nie mooi as ek antwoord nie. Hy is dower as ʼn kwartel.”

Uiteindelik breek die groot aand aan, die aand waarop die prysuitdeling van die mooiste Afrikaanse tuintjiekompetisie by Virginia se groot spuitfontein plaasvind. Die hele dorp se inwoners en hulle kinders is daar. Mense en diere kom van heinde en verre, almal wat tuintjies het – die dowe Franse omie, boomplanters, tuiniers, blomplanters en gras snyers. Almal is nuuskierig om te hoor wie die mooiste Afrikaanse tuintjie in die hele Virginia het. Wie gaan die lekker glas rooiwyn en ʼn lang Franse baguette wen?

Mossieman is voorsitter van die mooiste tuintjie-komitee en hy doen die aankondiginge. “Kom nader almal, kom nader. Kom sit hier by die spuitfontein, ons gaan binnekort met die prysuitdeling begin.” Al die mense en diere is angstig om die uitslag van die kompetisie te hoor en drom om die spuitfontein saam.

Op die muurtjie langs die fontein sit monsieur De la Fontaine en hy spits sy ore bakhand om beter te hoor. “Qua,” vra hy. “Ou?”

“Kom nader, monsieur De la Fontaine,’ probeer Geronkie hand bysit. “Mossieman is die voorsitter en hy het gesê almal moet hier by die fontein kom sit.”

“Fontein? Fontaine?” Monsieur De la Fontaine spring kiertsregop en gooi sy hande oorstelp van blydskap in die lug.

Geronkie die donkie probeer keer, maar monsieur De la Fontaine hoor nie mooi nie. “Nee, monsieur De la Fontaine, Mossieman het maar net gesê al die mense moet om die spuitfontein kom sit. Die prysuitdeling gaan nou begin.” Maar monsieur De la Fontaine is siende blind en horende doof. Opgewonde klap hy hande en spring in die lug.

“Fontaine!  Fontaine. Ce’st moi! Dit is ek! Dit is ek!” Die Franse omie gooi sy loopraam dat hy daar trek en begin ʼn riel dans dat die stof so staan.

Mossieman kyk benoud hoe monsieur De la Fontaine skree en rondom die fontein dans. “Keer hom, Geronkie! Keer hom!”

Maar die Franse omie is ratser as Springboksenter Brendan Venter en hy bestorm die komiteetafel met mening. Vernuftig systap hy vir Mossieman en blitsvinnig gryp hy die lekker glas rooiwyn en vat ʼn slukkie. Toe gryp hy die lang Franse baguette en daar trek hy!

“Keer hom!” skree Mossieman benoud. “Hy sit die pot mis, hy blaf vir die verkeerde boom, hy kry nie die kluitjie by die oor nie, hy het die verkeerde kant van die stokkie beet! Keer hom! Vang hom! “

Geronkie galop vir al wat hy werd is, agter monsieur De la Fontaine se paddaboudjies aan. “Hy dink hy het gewen!” gil Geronkie benoud vir al die toeskouers. “Vang hom!” Al die dorpsmense spring vervaard orent en hardloop al agter Geronkie en monsieur De la Fontaine aan.

“Keer hom! tjirp Mossieman, hande in die hare. “Hy dink hy’t gewen. Keer hom! Ek het nog nie eers die aankondiging gedoen nie. Gee terug die trofee!”

Geronkie galop kliphard agter monsieur De la Fontaine aan, maar die Franse omie maak dat hy wegkom. “Je suis le champion!” skree hy luidkeels en verdwyn met windmeul-arms die verte in.

ʼn Uur later kom Geronkie moeg teruggestrompel na die fonteintjie toe, sy lippe sleep op die klippe. Die prysuitdeling vir Virginia se mooiste tuintjiekompetisie is verby en al die mense en diere is mismoedig besig om huis toe te gaan. Treurig sit Mossieman en Geronkie langs die  fonteintjie, uitgeput van die dag se gebeure. “Ek dog julle sê die Fransman is horende doof, Geronkie,” kla Mossieman verslae.

“Hy is horende doof, Mossieman. Behalwe as hy sy eie naam hoor. Dan spits hy sy ore en hoor beter as enigiemand anders in die hele dorp. Nou sit hy daar onder langs die magtige Sandrivier se kabblende blou waters, gelukkig en tevrede omdat hy Virginia se tuintjie-kampioen is. Salig drink hy nog ʼn lekker glasie rooiwyn en eet hy sy lang Franse baguette. Hy is voorwaar ʼn Franse kampioen.”

*