klippie

Mossieman en die wonderklippie

Net soos die meeste kinders in die Vrystaat, het Mossieman en Geronkie die donkie baie speelgoed gehad toe hulle kinders was. Die beste speelgoed in die hele wêreld kom van die Vrystaat af – dolosse, kleilatte en ketties om skaapappeltjies mee te skiet, slingervelle, ertjieroere, kennetjie-stokkies, ghoens en albasters en giffies. Soos Mossieman en Geronkie, speel die kinders in die Vrystaat nie al die speletjies gelyk nie. Nee, hulle speel stukkie vir stukkie, een op ʼn slag, van ná skool tot die sonder onder gaan. Want as dit skemer in die Vrystaat word en die son sak oor die mielielande en agter die mynskagte, moet al die kinders by die huis wees. Dan moet hulle vinnig in die bad spring, agter hulle ore was en aansit vir aandete.

Benewens al sy speelgoed en ketties, ertjieroere en albasters, het Mossieman ʼn baie spesiale speelding gehad – ʼn wonderklippie. Mossieman wou vir niemand sê waar die klippie vandaan kom nie, hy was baie geheimsinnig daaroor. Elke dag, net voor die son opkom, het hy die klippie met ʼn toutjie aan ʼn wilgerboom se tak opgehang. Geronkie die donkie en al die diere van die Bloembos in die middel van die Vrystaat het van Mossieman se wonderklippie geweet, maar nie geweet waarom Mossieman die wonderklippie aan die wilgerboom gehang het nie. Nog minder waarom hy die klippie aan die wilgerboomtak naby sy kantoor gehang het. Al die diere was baie nuuskierig oor Mossieman se klippie, maar hulle was te bang om te vra. Hul nuuskierigheid het die oorhand gekry en hulle het vir Mossieman se boesemvriend, Geronkie die donkie, aangepor om oor die klippie te vra. Geronkie het teësinnig ingestem en skoorvoetend nader gestaan om vir Mossieman uit te vra oor sy snaakse wit klippie.

“Mossieman, watse klippie hang jy daar in die wilgerboom?”

“Dit is my wonderklippie, Geronkie. Mense, en diere, wonder oor my klippie. Dit is waarom sy naam wonderklippie is.”

“Wonderklippie? Dit klink vir my na ʼn wolhaarstorie, Mossieman. Watse wonderlike goed kan die klippie nogal doen? Dit is maar net ʼn klippie en klippies kan mos nie eintlik iets doen nie? Hulle lê net stil.”

“Wel, Geronkie, kom ek verduidelik vir jou hoe werk my klippie. Maar jy moet mooi stip na die klippie kyk, jy moet fokus en die klippie stip dophou sodat hy nie sommer vanself beweeg nie.”

Geronkie knip sy oë ʼn paar keer en loer stip na die klippie, om seker te maak dat niks sy aandag ontgaan nie.

“Reg so. Kan sien dat die klippie so ʼn bietjie rondbeweeg, Geronkie. Hy swaai so ʼn bietjie heen en weer. Kan jy sien? Ja! As die klippie beweeg, beteken dit dat die wind waai.”

“Wraggies, ja Mossieman. Ek kan sien die klippie beweeg en dat die windjie waai.”

“Nou ja, Geronkie, dit is soos die wonderklippie werk. As ek sien dat die klippie nat is, beteken dit dat dit reën.”

Geronkie dink so ʼn bietjie na. Dit maak vir hom sin en klink heeltamal logies. As hy swaai, beteken dit dat die windjie waai. As die wonderklippie nat is, reën dit.

Mossieman is nou op sy stukke en vertel voort. “As die klippie wit is, sneeu dit.”

Sneeu? In die Vrystaat? Geronkie krap sy groot ore agterdogtig en wonder of Mossieman besig is om hom met ʼn kluitjie die riete in te stuur. Hy is ook nie heeltemal so seker of die klippie werklik ʼn wonderklippie is nie. Enige klippie kan mos natreën.

“En as jy nie klippie nie kan sien nie, is dit nag.”

Geronkie is baie agterdogtig en nie seker of hy Mossieman se stories moet glo nie. Hoewel dit nie baie sneeu nie en baie min reën, word dit wel nag in die Vrystaat. Die windjie waai ook nou en dan en dit laat seker die klippie swaai en draai.

Geronkie gaan sit onder die populierboom en staar na die wonderklippie wat aan die toutjie hang. Die klippie lyk vir hom maar na ʼn doodgewone Vrystaatse klippie, net soos al die ander klippies wat op die walle van die magtige Sandrivier lê.

“Maar Mossieman, sê nou net die klippie verdwyn, wat gaan jy dan maak? Hoe gaan jy weet wanneer die windjie waai, of wanneer dit sneeu in die Vrystaat, of wanneer dit nag is?”

Mossieman krap sy verekoppie en dink lank en diep oor Geronkie se vraag. Stadig krul ʼn onnutsige glimlaggie om sy bekkie en hy loer stouterig vir Geronkie.

“Ek weet nie eintlik nie, Geronkie. Al wat ek weet dat as die klippie weg is, het iemand hom gesteel. Dan hoef ek nooit weer oor die klippie te wonder nie.”

*