cartoon-313601_640

Henriëtta se eier dilemma

Henriëtta was nie meer ʼn jong hoenderhennetjie nie, haar jare het aangestap en die ouderdom het haar stadig maar seker ingehaal. Dit is nie maklik om oud te word nie, dink sy dikwels, terwyl sy in haar hoenderhok sit en broei, langs knorrige oom Gert se groot ou plaashuis in die middel van die Vrystaat. Dit is ook nie maklik vir Henriëtta om haar grys vere weg te steek nie, of elke dag twee groot geel vrylopende eiers te lê nie. Stadig maar seker het Henriëtta se eiertjies opgedroog en sy het al hoe meer bekommerd begin raak. Elke week was daar minder eiertjies in haar hoenderhok…tot daar eendag niks meer eiers was nie.

Henriëtta skrik groot en loer angstig om haar rond, wat nou gemaak? As knorrige oom Gert agterkom sy lê nie meer eiers nie, gaan hy haar slag, dan word sy Sondagmiddagete op sy groot ou plaastafel. Henriëtta voel-voel so aan haar tenger hoendernekkie – sy is nie baie lus om nou al ʼn smaaklike gereg saam met aartappels en geelrys te word nie. As ʼn boer ʼn plan kan maak, kan sy seker ook.

Vinnig hardloop Henriëtta oor die straat na die plaaswinkel toe en koop twee lekker groot eiers en steek hulle onder haar vlerke weg. Koes-koes nael sy terug hoenderhok toe en skelmpies sit sy die eiers onder haar maag. Daar’s hy, dink Henriëtta verlig. Ek maak nou net of ek die eiers gelê het, dan sal die knorrige plaasboer my nie kom afslag nie. Hy is tog te dom om enigiets agter te kom.

Die volgende oggend douvoordag kom oom Gert die eiers onder die henne in die hoenderhok uithaal. Soos ʼn samajoor stap hy die rye op en af en maak al die eiers bymekaar. “My magtig, Henriëtta !” sê oom Gert verbaas toe hy die twee groot geel eiers sien. “Allemintig! Wel gedaan! Jy is ʼn voorbeeld vir al die ander hoenders op die plaas.”

ʼn Paar dae gaan verby en Henriëtta probeer weer kliphard om nuwe eiers te lê, maar niks gebeur nie. ‘Ek sal maar weer by die plaaswinkel moet gaan eiers koop,’ dink sy bekommerd. ‘Anders het ek niks eiers nie en die knorrige plaasboer gaan my sommer afslag.’ Kierts-karts hardloop Henriëtta weer oor die straat om ʼn nuwe paar eiers te koop. Maar hierdie keer verloop dinge nie so vlot nie. “Ek is jammer,” sê die plaastannie agter die toonbank, “ons het nie vandag hoendereiers om te verkoop nie, Henriëtta. Al die hoendereiers is uitverkoop. Al wat oor is, is daardie spikkel-vinkeiers in die hoekie.”

O, wee. Wat nou gemaak? “Maar ek moet eiers hê,” kla Henriëtta, “anders…anders gaan die boer middagete van my maak. Ek sal maar van daai spikkel-vinkeiers moet koop.”

Skelmpies steek Henriëtta die spikkel-vinkeiers onder haar vlerke weg en dartel weer oor die straat, terug na haar hoenderhok toe. Vinnig sit sy die gespikkelde eiertjies onder haar maag en maak of sy hard aan die broei is. Al die ander hennetjies loer vir Henriëtta en wonder waarmee sy besig is, maar hulle sê niks nie. Hulle konsentreer kliphard om hul eie eiers uit te broei.

Die volgende oggend kom die knorrige oom Koos weer en hy versamel al die eiers een vir een by die hennetjies. Hy loer vir Henriëtta en skrik se effentjies toe hy die spikkel-vinkeiers sien. “My maggies, Henriëtta, kyk nou net! Gedorie, jy verbaas my elke dag meer en meer. Dit is ʼn wonderwerk!” Trots haal oom Gert die vinkeiers onder Henriëtta uit en wys dit vir die ander henne.

“Ooh-aah Henriëtta,” swymel die ander henne, “wat het jy gedoen om sulke pragtige gespikkelde eiers te lê?”

Henriëtta kyk so effens verskrik na die gespikkelde eiers. “Nee,” stamel sy, “ek het een geel mieliepit geëet, toe ʼn bruin mieliepit, toe ʼn geel mieliepit, toe weer ʼn bruin mieliepit. Dit is waarom die eiers sulke spikkeltjies het.”

Die volgende dag kan Henriëtta weer nie eiers lê nie. Vinnig glip sy weer oor die straat, terug plaaswinkel toe. ‘Ek hoop hulle het vandag hoendereiers,’ bekommer sy. Gister het sy ʼn noue ontkoming gehad met daardie gespikkelde-vinkeiers.

“Jammer, Henriëtta,” simpatiseer die tante agter die toonbank by die plaaswinel. “Ek het vandag niks hoendereiers nie, alles is uitverkoop.”

“Wat van gespikkelde-vinkeiers, tante? Soos gister?”

“Jammer, Henriëtta. Al die vinkeiers is ook uitverkoop. Al wat oor is, is daardie kalkoeneiers in die hoekie.”

“Ag nee,” dink Henriëtta benoud, “wat doen ek nou? Eers vinkeiers, nou kalkoeneiers. “Gee maar die kalkoeneiers tante, ek het nie ʼn keuse nie.” Vinnig-vinnig bêre Henriëtta die kalkoeneiers onder haar vlerke en hardloop oor die straat, terug na haar hoenderhokkie toe.

Die volgende oggend kyk knorrige oom Gert vir kyk Henriëtta net so, maar hy vat naderhand die kalkoeneiers en hy sit hulle by die ander hoendereiers in die mandjie. “Interessante eiers, Henriëtta,” merk oom Gert lakonies op, “maar baie dankie daarvoor.” Henriëtta loer benoud na die ander hennetjies en sy kan sien hoe hulle almal vraend na haar kyk. Maar nie een sê ʼn woord nie.

Die volgende dag is Henriëtta weer by die plaaswinkel om eiers te koop. Dit raak nou ʼn gewoonte om nie eiers te le nie en om elke tweede dag plaasvervangers by die plaaswinkel te koop. “Jammer, Henriëtta, ek het niks hoendereiers om aan jou te verkoop nie. Ook nie gespikkelde vinkeiers nie. En die kalkoeneiers is ook almal uitverkoop.”

O wee! ‘Ag nee,’ dink Henriëtta benoud, ‘wat doen ek nou?’

“Al wat ek oor het, Henriëtta, is volstruiseiers.” Die plaastannie druk ʼn breinaald deur haal bolla en loer ondersoekend na Henriëtta.

“Volstruitseiers! Maar ek kan nie volstruiseiers lê nie! Hulle is te groot!”

Eers gespikkelde vinkeiers, toe kalkoeneiers, nou volstruiseiers. Henriëtta weet dat sy in ʼn groot penarie is en sy kyk die twee volstuiseiers met groot oë aan. ‘Ek het nie ʼn keuse nie, anders gaan die plaasboer my afslag.  Sy koop toe maar en steek die twee tamaaie volstruiseiers onder haar vlerke weg. Vinnig-vinnig hardloop sy oor die straat, terug na haar hoenderhokkie toe. Versigtig pak sy die twee reuse volstruiseiers langs mekaar en klim bo-op. Die twee tamaaie eiers is seepglad en sy gly-gly die hele tyd af. Uiteindelik kry sy haar balans en sit windskeef op die twee eiers. Hulle is só groot dat Henriëtta hulle nie met haar vlerke kan toemaak nie. ‘Ai tog,’ dink sy angstig, ‘nou gaan die knorrige ou boer agerkom dat dit nie my eiers is nie. Hy gaan sommer weet ek het nie die eiers gelê nie.’

Die volgende oggend verwag Henriëtta die ergste en sy bewe van vrees. Hier en daar pêrel ʼn sweetdruppeltjie teen haar voorkop. ‘Ek is so bang! Die knorrige boer gaan weet dit is nie my eiertjies nie en hy gaan my afslag vir Sondagmiddagete! Ai toggie-toggie.’

Douvoordag kom knorrige oom Gert nader om al die eiers bymekaar te maak. Toe hy by Henriëtta kom, gaan staan hy stil van stomme verbasing. “Gedorie, Henriëtta, kyk nou net! Jou eiers is skouspelagtig groot! Jy is ʼn kampioen. Mooi so! Fantasties! Nog nooit in die geskiedenis van hierdie plaas het een van my hennetjies ooit sulke enorme hoendereiers gelê nie. Baie geluk! Wonderlik! Jy is ʼn fenomenale hoenderhennetjie, die beste een wat daar nog ooit was!”

Oom Gert is so beïndruk met Henriëtta se tamaaie hoendereiers dat hy sommer die plaastannie en al die werkers op die plaas roep om te kom kyk. Almal staar bewonderend na Henriëtta en toe begin hulle vir haar hande klap. “Mooi so, Henriëtta! Welgedaan! Jy is ʼn kampioen eierlêer! Die beste hennetjie in die hele wêreld!” Die applous is oorverdowend en die gejuig kan tot op die volgende plaas gehoor word.

Henriëtta loer benoud na oom Gert om te sien wat hy volgende gaan doen, want sy is seker hy weet dat dit nie haar volstruiseiertjies is nie. Maar oom Gert maak keelskoon en steek ʼn belangrike toespraak af. “Henriëtta,” sê hy vernaam, “te danke aan jou geweldige groot bydrae tot die eier-oes van hierdie plaas die afgelope paar weke, gaan ek vir jou ‘n groot geskenk gee. As beloning kan jy nou maar aftree. Jy hoef nooit weer in jou hoenderlewe ʼn eier te lê nie, jy het nou genoeg gedoen. Jou produksiesyfers is briljant en jy kan nou rustig aftree. Jy hoef nooit weer eierstjies te lê nie en elke dag kan jy soveel mieliepitte eet as wat jy wil. Die ander hennetjies moet nou al die eiers lê, want jy is nou afgetree. Welgedaan, Henriëtta! Jy is die beste hennetjie van alle tye!”

Sò het Henriëtta die hoenderhennetjie ʼn legende in haar eie tyd op oom Gert se plaas in die Vrystaat geword. Sy woon vandag nog daar… rustig op oom Gert se plaas, oorkant die plaaswinkel, in die middel van die Vrystaat, langs die magtige Sandrivier met sy kabbelende waterstrome.

*