hond

My hond se fiets

Die burgers van Virginia in die Vrystaat en die dames van die Vroue Landbou-unie het ʼn ou gesegde wat lui dat kinders gehoor en nie gesien moet word nie. Alhoewel ek nou al oud en knorrig is, dink ek dit is die regte ding dat mens kinders nooit sien nie, jy moet hulle so nou en dan in die verte hoor. Net sodat jy kan weet dat hulle lekker buite speel. Kinders moet kaalvoet loop en bome klim, dan word hulle eendag intelligente grootmense en oulike Vrystaters. Nie dat alle grootmense oulik nie – hier en daar is een wat baie kwaai en befoeterd is. Soos die tannie met die oranje haarkrullers en skewe lipstiffie wat noudie-annerdag hier by my huis aangekom het, alweer kwaad vir my.

Dis nou die tante wie se kinders weggespoel het toe ek hulle uit my asblik gegooi het. Hulle gaan nie gou weer in my asblik swem nie – die dorp het mos ʼn gwarriegat naby die magtige Sandrivier en ʼn myndam om in te swem.

“Jou hond! Jou hond!” skree die kwaai tannie vir my, terwyl ek rustig op my stoep sit en my pypie rook. “Skobbejak!”

Ek weet ek is nie baie gewild in die buurt nie, maar om ʼn hond genoem te word, is nie reg nie. My eer is gekrenk, my reputasie in die buurt beskadig, my integriteit onder verdenking. En daai kwaai tannie is nie eintlik ʼn gewone huisvrou nie. Sy is meer soos ʼn plattelandse tannie wat die oggend vergeet het om haar jeugdeug aan te pleister. Haar kamerjapon het al beter dae geken en die gebleikte kleur pas nie meer heeltemal mooi by haar pienk Crocks of oranje haarkrullers nie. Die soom van haar japon was al bietjie gerinneweer, dit het gelyk of sy aan die uitrafel is. Mens kon die kwaatgeit sommer so in haar skraal ogies sien.

“Maar mevrou …”

“Jou hond het een van my kinders op sy fiets gejaag en hom amper gebyt! Deksels man, kan jy nie jou hond beheer nie?”

“Maar mevrou…” Ek kry ʼn hond se gedagte oor die kwaai tannie en wonder wat op aarde my arme hondjie nou weer aangevang het. My proteste val op dowe ore en die tannie staan dreigend op my voorstoep met haar groot houtlepel in die hand.

“Jou dekselse hond!”

“Maar mevrou, dit kannie wees nie!”

“Hoekom nie, ek het hom self gesien!” Sy staan skoorvoetend nader, die sigaret se rook kom by haar ore uit, so kwaad is sy. “Jou hond het een van my kinders op sy fiets gejaag!”

“Maar mevrou, dit kannie wees nie,” sê ek vir haar terwyl ek ʼn frommeltjie tabak in my pyp stop. “My hond het nie ʼn fiets nie. Hy hardloop sommer vanself rond en hy kan ook nie fietsry nie.” Ek loer skelmpies na my hond wat agter my beteuterd in sy hoekie lê, maar hy sê niks nie. My hond is ook ʼn beleefde hond, hy het nog nooit iemand gebyt as ʼn grom goed genoeg was nie.

Toe’s daai tannie eers kwaad, ʼn befoeterde vrou. Sy stamp haar pienk Crocs op die grond dat die stof so staan en swaai gevaarlik met haar houtlepel in my rigting. “Jou hond het een van my kinders op sy fiets gejaag! Hy is baie stout!”

“Nee, regtig tannie, my hond besit nie eers ʼn fiets nie. En ek kan nie help as jou kind stout is nie.”

“Jou, jou..” raas sy, baie kwaad. Vinnig druk ek my afstandbeheer sodat die motorhuis se deur toegaan. Sy staan toe maar alleen daar in die straat en raas soos ʼn brandweertrok se alarm.

Toe begin al die buurt se honde tjank en vir haar oranje haarkrullers blaf. Hulle klink soos ʼn kinderkranskoor wat Siembamba probeer sings sonder note. My ore tuit nou nog. My hele dag was bederf en my hond lei nou nog aan depressie.

Uit dié storietjie leer ek toe twee lesse wat mens maar vir jou kinders kan vertel. Kinders moet gehoor en nie gesien word nie. En moet tog nooit vir jou hond ʼn fiets koop nie.

 * * *

Advertisements