bulll

Die rooi bulletjie

Oom Gert was ʼn gesiene boer op sy plaas net duskant Heilbron se Uniefeesdam in die pragtige Vrystaat. Die Vrystaat is die mooiste en beste provinsie in die hele Suid-Afrika omdat die magtige Sandrivier reg in die middel van die geil mielielande deurkabbel – dit is waarom die Vrystaat die grootse geel mielies in die hele wêreld produseer. Daar is ook baie skape, bokke en beeste in die Vrystaat en rooi bulle wat rooi is omdat hulle omgekrap is en nou en dan baie kwaad kan word.

Eendag, so laat winter, kom daar ʼn belangrike inspekteur van die goewerment op oom Gert se plaas aan. Sy groot motor blink in die son en hy het selfs ʼn vername motorbestuuder wat deftig agter die stuurwiel bly sit.

“Dagsê, meneer die inspekteur,” se Oom Gert vriendelik en steek sy groot boerehand uit om blad te skud. “Welkom op my plaas waar die rooi bul bly.”

“Ek is ʼn belangrike en gesiene inspekteur, van die regering af,” sê die inspekteur uit die hoogte uit. “Ek is hier om jou plaas te inspekteer.”

“Nee, dis reg so, inspekteur,” sê oom Gert gemoedelik. “Waar wil jy begin met jou belangrike inspeksie?”

“Moenie bekommerd wees nie, oom Gert, ek sal begin waar en wanneer ek wil begin,” sê die belangrike regeringsamptenaar. “Ek weet baie van plase af. Gaan jy maar aan met jou werk, ek sal my inspeksie doen waar ek wil.”

“Reg so nefie,” sê oom Gert hulpvaardig. “Jy kan alles inspekteer. Bly net weg van daardie kamp langs die plaasdam af, want …”

“Luister, oom Gert, ek is ʼn belangrike en gesiene man, van die goewerment af. My pa was ʼn diaken en my oupa ʼn ouderling. Ek het ʼn belangrike identiteitskaart, om te wys wie ek is.”

“…want dit is waar die rooi bul bly,” maak oom Gert sy sinnetjie klaar. Hy kan sien dat die belangrike inspekteur nie baie tyd het om te luister nie, hy wil net doen-doen.

Die inspekteur haal sy belangrike identiteitskaart uit sy sak en wys vir Oom Koos. Sy kaart het imposante landswapens en indrukwekkende heraldiek op, met baie kleure en ʼn goue lourierkrans om die kante.

“Niemand gaan my keer nie, oom Gert. Ek loop waar ek wil. As ek daardie kamp langs die plaasdam met die rooi bul wil inspekteer, gaan niemand my keer nie. Nie my deftige  motorbestuurder of jy of die rooi bul nie.”

Oom Gert bekyk die inspekteur se identiteitskaart van naby.  Wrintiewaar, daar staan die belangrike inspekteur se naam, met sy vername foto daarby.

“Dis dan seker maar reg so, neef. Jy hoef nie kortgebaker te wees nie. Bly net weg van daai kampie, want my rooi bul ….”

‘Moenie my vertel hoe om my werk te doen nie, oom Gert,” knip die inspekteurtjie oom Gert ongeduldig kort. “Ek weet wat ek doen.”

“Nee, dit is dan reg so, nefie,” glimlag Oom Gert gemoedelik en stop sy pyp met ʼn frommeltjie tabak uit sy knapsak uit.

“Jy kan gaan net waar jy wil. Maar wees versigtig vir daai bulkamp langs die plaasdam, want …..”

“Luister nou mooi vir my, oom Gert. Ek gaan waar ek wil, ek het my identiteitskaart by my en ek inspekteer alles op jou plaas.” Die inspekteurtjie is nou lekker kort van draad en sy stem raak sommer driftig. “Moenie my probeer keer nie.”

“Nee dis reg neef, maar …” probeer Oom Gert weer, maar hy kan sien die kortgebonde inspekteurtjie luister nie.

“Uit my pad uit, oom Gert. Ek gaan nou inspeksie doen! Moenie my weer pla nie.”

Die belangrike inspekteur van die goewerment stap ewe vernaam en kordaat daar weg, op pad na oom Gert se bulkampie langs die plaasdam toe. ʼn Rukkie lank is daar doodste stilte op die plaas, al wat mens hoor is hoe die sonbesies sing en die kraaie gaap. In die verte blêr ʼn verlore skapie op soek na sy mismoedige ma. Toe, ewe skielik, hoor oom Gert ʼn onaardige gebrul vanuit die rigting van die bulkampie langs die plaasdam.

“HEEEEELLLLLPP!”

Oom Gert trek ʼn brandhoudjie om sy pyp weer aan die rook te kry en loer nuuskierig oor die plaasdam se wal. Vir ʼn oomblik sien hy niks nie, toe ewe skielik skiet daar ʼn witblits by hom verby. Die belangrike inspekteur van die goewerment hardloop dat die stof so staan. Sovêr hy hardloop,  skree hy dat die berge antwoord gee.

“HEEEEELLLLLPP!”

Kort op die inspekteur se hakke storm oom Gert se spog rooi stoetbulletjie dat jy net stofwolke sien. Die rooi bulletjie jaag die inspekteur met mening en sy horings proe-proe net-net agter aan sy sitvlak.

‘YEEEEEALP ! YEEEEEEALP my!’ skree die inspekteur luidkeels. Hy hardloop so vinnig dat sy voete binne-in sy broeksakke trap.

Oom Gert slaan die spulletjie gade en lag uit sy maag uit dat sy snorpunte tril. Die rooi bul storm met mening en die arme inspekteur nael vir al wat hy werd is! “Help! My lewe is in gevaar! Help!”

“Wys hom jou kaart, inspekteur!  skree oom Gert behulpsaam. “Wys hom jou kaart!”

Die inspekteurtjie soek naarstig na sy kaart, maar toe storm die rooi bulletjie weer.

“HEEEEELLLLLPP!’ weergalm dit deur oom Gert se plaas se klowe. Die rooi bulletjie snork en sy gevaarlike horings swiep heer en weer. Sy hoewe kap in die grond en hy brul en raas, so kwaad is hy. Rook kom by sy trillende neusgate uit en sy bak ore uit.

Die inspekteur versnel en hardloop soos blits die grondpad af, jy sien net ‘n stofstrepie agterna. Hy hardloop skoon onder die kwaai rooi bulletjie uit en daar verdwyn hy in die verte.

Oom Gert gaan sit op sy stoep en drink solank ʼn lekker koppie boeretroos. Toe hy klaar is, leun hy behaaglik agteroor en stop weer sy pyp met ʼn frommeltjie tabak. Ag, die lewe is darem lekker, dink hy, veral as mens ʼn regeringsamptenaartjie so ʼn bietjie op sy plek kan sit. Die mannetjie het sommer gelyk in alle rigtings gehardloop, só groot het hy geskrik.

So ʼn uur later kom die inspekteurtjie stadig met die grondpad teruggestap na oom Gert se plaas toe. Sy broek is aan flarde geskeur en altwee sy broeksakke hang halfmas. Die man lyk gehawend en sy fut is heeltemal uit.

“En nou broer, wat het gebeur?”

“Nee, ek weet nie, oom Gert. Ek is jammer ek het so geskree. Die rooi bulletjie het my gejaag.”

“Jy was maar net bietjie roekeloos gewees, nefie. Jy moes vir die rooi bulletjie jou kaart gewys het,” korswil oom Gert.

“Ek het hom probeer wys, oom Gert,” antwoord die inspekteurtjie mismoedig. Die trane lê vlak in sy oë en nou en dan vee hy sy neus met sy snoetpoetsertjie af.

“Maar ek dink nie daai rooi bulletjie van jou kan lees nie, oom.”

*  – *  – *  – *  – * – * – * – * – *

Advertisements