papegaai

Die stoere Afrikaner en sy papegaai met net een been

So dertig, veertig jaar gelede was daar ʼn stoere Afrikaner wat ʼn skipbreukeling was, net soos Robinson Crusoe. Die arme man se bootjie is aan flarde geskeur en stukkend geslaan deur reuse branders en ‘n onstuimige see net langs die kus van Somalië in Noord-Afrika. Die skipbreukeling was egter ʼn tawwe Vrystater en nogal ‘n boer daarby – en ʼn Vrystaatse boer maak altyd ʼn plan om te oorleef. Om te voorkom dat hy ʼn drenkeling word, swem die stoere Afrikaner toe maar vlinderslag na die naaste verlate eiland toe en spoel uitgeput op die strand uit. Net soos Robinson Crusoe. Half-dood, doodmoeg, vodde, met net ʼn bietjie seewater en ʼn paar piepklein pienk krappies wat by sy ore uitkom.

Die stoere Afrikaner was ongedeerd, maar sy kamaste, knapsak, buskruit en boerbeskuit was papsopnat. In sy knapsak was ʼn ou Kerkbode, maar dié het gelukkig nie baie nat geword nie. Ná so ʼn rukkie van leeglê op die strand in die lekker sonnetjie, het die oorlewende boer nuwe moed gekry, opgestaan en begin rondsoek vir boumateriaal om ‘n huis mee te bou. Nie net enige huis nie, maar ʼn drieslaapkamer met ʼn rooi skoorsteen en ʼn breë stoep om hom aan sy plaashuis in die Vrystaat te herinner. In die ou dae, voor sy skip gesink het, het hy altyd op sy breë stoep gesit en boeretroos gedrink. Vandaar kon hy oor sy mielielande en die pragtige Vrystaatse vlaktes sien, tot by die magtige Sandrivier in die verte.

Die stoere Afrikaner was maar baie eensaam so op die eiland en hy het naderhand ʼn hele boerderytjie aan die gang gehad – mielies, koring, hawermout, druiwe, perskes en veral turksvye, omdat hy in murg en been ʼn Vrystater was en baie van turksvye gehou het. Hy het langsamerhand vriende gemaak met ʼn verdwaalde Somaliese papegaai met net een been, wat ʼn vreemde swart pap seerowershoed gedra het. Die papegaai het hom naderhand heel tuisgemaak op die boer se skouer en oral op die eiland saamgery. Dié twee was nogal geheg aan mekaar, groot vriende wat die hele dag gesels het en grappe vertel, behalwe as die turksvye ryp was. Altwee was ewe lief vir turksvye en dan was dit elke man vir homself, om soveel as moontlik te pluk en vir die ander een weg te steek. Die papegaai met net een been was ʼn slim papegaai wat mooi geluister het as ons skipbreukeling vir hom stories uit Suid-Afrika vertel. Naderhand was die papegaai vlot in Afrikaans, ʼn merkwaardige prestasie vir ʼn Somaliese papegaai met net een been.

En so het die boer maar op die eilandjie gebly, maand na maand, jaar in en jaar uit. Alleen, verlore en verstote, ʼn eensame man. Niemand het eers na hom kom soek nie en hy het gewonder of selfs sy plaashond Vlekkie van hom vergeet het. Hy was depressief ook, omdat hy nie meer die verloortellings van sy geliefde Cheetahs in die Volksblad kon lees nie. Niemand het die Kerkbode en Volksblad by sy huis afgelewer nie. Sy klere het al hoe meer verslete geword, sy baard al hoe langer en sy wenkbroue ruier, sy skoene het hy van die binnekant af deurgetrap en sy broek het naderhand van ouderdom afgeval. Die arme man. Selfs sy Somaliese papegaai met net een been se pap seerowershoed het later al hoe skewer op sy kop gesit.

So dertig jaar later (ek vergeet nou watter jaar dit was), sien ons stoere Afrikaner eendag ʼn vreemde gesig in die verte. Seile, verbeel hy hom opgewonde, miskien ʼn skip of ʼn boot of ʼn luukse seiljag van een of ander aard. In die verte sien ons man ʼn skuitjie nader kom, met roeispanne in-en-uit die water en die kaptein se Napoleon-hoed net-net sigbaar oor die branders. “My mede Vrystaters het ʼn skip gestuur om my te kom red!” skree hy opgewonde vir die papegaai op sy skouer en hy draf nader om die kaptein op die strand te verwelkom. Die skuit se bemanning gooi fluks ʼn ankertou in die vlak water en die volgende oomblik stap Kaptein Napoleon aan wal, blink swart kamaste en al. “Met sulke blik kamaste en daai tamaai wit veer in sy hoed kan hy seker goed perdry,” fluister ons man vir sy papegaai, terwyl hy en die kaptein blad skud.

“Dagsê, skripbreukeling,” groet die kaptein beleefd en lig sy Napoleon-hoed met die wit veer.

“Welkom, kaptein, welkom op my eiland! Ai, dit is lekker om weer Afrikaans te hoor!”

“Hoe lank bly jy op hierdie eiland, my vriend?” vra die kaptein besorg terwyl hy ondersoekend rondkyk. “Bly jy alleen? Hoeveel mense bly op jou eiland, is daar ander mense hier?”

“Nee kaptein, dit is net ek wat hier bly. Alleen. En my Somaliese papegaai met net een been wat Afrikaans kan praat. Net ons twee.”

“Hoe lank bly jy op die eiland, my vriend,” vra die kaptein besorg. “Kan jy onthou?”

“Ja, kaptein, so dertig of veertig jaar. Die jaar toe ek hier uitgespoel het, was die jaar toe die Vrystaat laas die Curriebeker gewen het.”

“Ai, my vriend, dit was baie lank gelede. Wat het jy die hele veertig hier gedoen, hoe het jy besig gebly?”

“My Kerkbode het darem saam met my uitgespoel, kaptein. So, ek het darem iets gehad om te lees, so tussen die bouery deur. Ek en die papegaai het vir mekaar baie stories in Afrikaans vertel.”

“Waarom het hy net een been?”

“Hy was ʼn seerower, kaptein, toe raak hy beenaf op ʼn mamegaai.”

“Tjaa, interessant. “Ek sien hier staan twee kerke op die eiland,” merk die kaptein op. En jou huis met die mooi rooi skoorsteen en breë stoep staan daar in die middel, tussen die twee.”

“Ja, kaptein, ek het spesiaal die stoep so breed gebou sodat ek in die toekoms kon insien. En die verte in. Ek wou kyk of ek die magtige Sandrivier daar in die Vrystaat kon raaksien. Maar dit was bietjie tè ver.”

“Ek sien altwee die kerke wat jy so eiehandig gebou het, is rond, my vriend. Daar in Suid-Afrika is die drie susterskerke reghoekig, met baie gange en vensters en vertrekke binne-in. Hoekom is jou twee kerke so rond?”

“Nee, dit is so Kaptein, my kerke is maar rond sodat die dominee my nie in ‘n hoek kan vaskeer met moeilike bybelkennis vrae nie. Ek het nooit goed gedoen in die Kinderkrans nie.”

“Maar hier is mos nie ʼn dominee nie?”

“Dit is waar ja, kaptein. Meeste Sondae het ek maar die preke self behartig. Die preke was nog reg so, maar dit het bietjie vervelig begin raak met die sing van die psalms en gesange saam. En daai papegaai met net een been is nie baie nootvas nie – die singery het maar droewig gegaan.”

“Ai, my vriend,” skud die kaptein sy kop simpatiek. “Maar hoekom is hier twee kerke, jy is dan alleen op die eiland? Wie se kerk is daardie een daar aan die linkerkant, daar links langs jou huis?”

“Maar dit is my kerk, kaptein!”

“Ai, my vriend,” sug die kaptein. “En daardie een daar aan die anderkant, regs van jou huis?”

“Dit is ook my kerk, kaptein,” kug ons stoere Afrikaner verleë.”

“Ook jou kerk?”

“Ja, kaptein.  Dit is die kerk waaraan ek voorheen behoort het.”

“My vriend,” sê die kaptein, “pak jou klere en knapsak en jou Kerkbode. Jy sit te lank op hierdie eiland, dit is tyd dat ons jou terugneem Vrystaat toe. Jou plaashond Vlekkie wag vir jou.”

“Baie dankie, kaptein. Kan ek maar my Somaliese papegaai met net een been saambring huis toe?”

“Ja, natuurlik my vriend,” antwoord die kaptein gemoedelik. “Wie anders gaan vir Vlekkie daar op jou plaas Afrikaans leer?”

*

Advertisements