donkey-1571349_640
Geronkie die donkie – die slimste donkie in die hele Vrystaat

My grond of jou grond?

Geronkie die donkie is die mooiste en aantreklikste donkie in die hele Vrystaat. En die slimste. Dit is ʼn feit ʼn koei, omdat Geronkie die enigste donkie in die Vrystaat is wat nog ooit matriek aan Goudveld Hoërskool geskryf het, met een onderskeiding in dierkunde.

Daar bly baie donkies in Vrystaat, veral op plase met mielielande en groot, blink windmeulens. Op die plase met mielielande kan die donkies lekker mielies en katoba-druiwe eet, wat hulle by die boere kry. In die winter, wanneer dit baie koud is en die ryp wit op die mielielande lê, gee die boere lekker warm krummelpap, saam met die mielies vir die donkies om te eet. Van die donkies is nogal vol fiemies en hulle wil nie die krummelpap eet nie, hulle hou eerder van poetoepap saam met hulle mielies striksvye. Of mieliepap saam met geelperskes en soet, sappige swart katoba-druifies.

Maar nie al die boere in die Vrystaat is ewe vriendelik nie en nie almal van hulle hou van donkies nie. Party boere is maar nors en skoorsoekerig, veral as daar donkies oor hulle plase loop of hulle mielies eet.

Geronkie stap eendag oor die Vrystaatse vlaktes met sy knopkierie en sy knapsak. In sy knapsak het hy sy waterbottel, sy beker vir boeretroos, een Creamsoda met kartonstrooitjie, twee piesangs, een perske en ʼn klein sakkie dadels. Hy is in ʼn besondere goeie bui omdat dit onlangs in die Vrystaat gereën het – al die mielies staan geil en Geronkie kan amper nie wag om ʼn paar lekker sappige mielies te pluk nie. Terwyl Geronkie nog so stap, hoor hy ewe skielik ʼn gromgeluid hier agter hom. Geronkie dink dit is ʼn leeu en skrik hom boeglam, altwee sy donkie-knieë begin sommer gelyk bewe. Stadig en onseker draai Geronkie om en loer oor sy skouer. Reg agter hom sien hy ʼn groot, kwaai boer, met ruie wenkbroue wat reguit na hom kyk. Die boer lyk nie baie vriendelik nie en gluur kwaai vir Geronkie.

“Waarom loop jy oor my grond?” vra die boer vies vir Geronkie. “Wat doen jy hier?” Geronkie hou sy kortbroek met sy linkerpoot vas om te probeer keer dat sy kniekoppe so bewe. Bangerig loer hy met sy regteroog na die boer se wenkbroue en tamaaie snor wat punt in die wind staan.

“Ek is jammer, meneer die boer,” pleit Geronkie verskonend. “Ek loop maar net oor die grond, ek doen niks daarmee nie.”

“Maar dit is mos nie jou grond nie. Jy mag nie oor die grond loop nie. Dit is my grond.”

“Ek maak nie die grond seer nie, meneer die boer. Ek loop saggies, soos ʼn trapsoetjies.”

“Jy mag nie oor my grond loop nie,” grom die boer. “Ek gee nie om of jy  ʼn trapsoetjies is nie. Ek weet waarmee jy besig is.”

“Maar ek doen niks nie, ek is met niks besig nie, meneer die boer. Ek wandel net.” Om te wys dat hy dit opreg bedoel, stap Geronkie dapper op en af en demonstreer sommer ʼn paar danspassies ook om te wys hoe goed hy kan wandel.

“Luister hier, donkie,” sê die ongedurige boer, “ek weet jy loer vir my lekker mielies. Ek dink jy wil my mielies steel. Miskien is jy ʼn dief.”

“Nooit as te nimmer ooit nie,” protesteer Geronkie. “Steel? Ekke? Hoekom sal ek nou mielies steel?”

“Om te eet,” grom die boer kwaai.

“Allemiskie,” runnik Geronkie, “nie ek nie. Ek loop maar net onskuldig oor die grond. Eintlik loop ek nie, ek trippel net. Soos trippel-trappe-tone.”

“Jy sit nie jou voete op my grond nie,” sê die boer boos. “Ook nie jou tone nie. Loop! Maak dat jy wegkom!”

“Ek is onskuldig. Ek loop maar net oor die grond,” pleit Geronkie verniet by die boer. “Ek het ook nie voete nie, ek het pote. Donkiepote. En ek het ʼn onderskeiding in dierkunde.”

“Loop! Basta!” beveel die boer. “Jy sit nie jou voete ooit weer op my grond nie. As jy ooit weer hier kom, gaan haal ek my dubbeloophaelgeweer en buskruit en ek skiet jou boude aan die brand!”

“Eina,” runnik Geronkie benoud en vat die pad. Hy galop so vinnig weg dat albei sy ore agtertoe staan en sy stert flip-flap in die wind. Die laaste ding op aarde waarvoor hy lus is, is brandende boude. Al die diere van die Vrystaat kyk verwonderd op toe Geronkie verbygalop, maar Geronkie is soos blits en hulle sien net ʼn stofstrepie in die grondpad afdwarrel.

Na ʼn rukkie is Geronkie se gô uit en hy gaan sit moeg onder ʼn wilgeboom, langs die kabbelende Sandrivier. ‘Ek sal ʼn plan moet maak,’ dink Geronkie moedeloos, ‘om daardie boer ore aan te sit. Ek moet bietjie dink. Maar eers moet ek  bietjie slaap. Of miskien moet ek bietjie slaap en dan dink. Ek kan nie altwee gelyk doen nie.’

Geronkie snork soos hy slaap en toe hy die middag wakker word, spring hy kiertsregop en gaan haal sy groot groen kruiwa. Fluks laai hy sy groot groen kruiwa vol grond wat hy by die gruisgat langs die Sandrivier gekry het en karwei die spulletjie weer na die boer se plaas toe. Geronkie gooi al die grond uit sy groot groen kruiwa, net anderkant die boer se rooi plaashek. Dit is baie harde werk en toe hy klaar is, gaan sit Geronkie onder die naaste koelteboom vir bietjie lafenis. Hy haal sy Creamsoda en kartonstrooitjie uit sy knapsak om te drink en wag vir die boer om met hom te kom raas.

Ook nie lank nie, of die boer kom op sy flink bruin vosperd aangery. Sy blink kamaste flits in die Vrystaat-son en sy knapsak bult van al die boerbeskuit. Langs sy perd se saal loer ʼn dubbeloophaelgeweer met twee groot swart oë vir Geronkie.

“Wat maak jy daar?” vra die boer kwaai toe hy Geronkie gewaar en hy staan strydlustig nader. “Ek mos vir jou gesê jy mag nie weer jou voete op my grond sit nie!”

Geronkie suig luilekker aan sy kartonstrooitjie en drink sy Creamsoda rustig klaar. Toe staan hy doodluiters op en loop tydsaam met altwee sy voete oor die grond. Ek bedoel pote. Geronkie stap en trap met altwee sy pote oor die grond.

“Af van my grond af!” beveel die boer kwaai.

“Maar meneer die boer, kyk bietjie, die grond waarop ek nou staan is mos nie jou grond nie. Ek het my eie grond met my groot groen kruiwa gaan haal en aangery tot hier. Toe gooi ek my grond uit die kruiwa op jou grond. Dit is my grond.”

“Wat,” sê die boer nors, “ek verstaan nie.”

“Dit is my grond wat ek aangery het, met my kruiwa, nie jou grond nie. Nou staan ek  met albei my voete op my grond.”

“Wat?” Die boer krap sy kop onseker en kyk na die grond. “Is jou grond nou bo-op my grond?”

“Dis reg,” lag Geronkie stuitig. “Ek staan op my grond, bo-op jou grond. Ons het nou bogrond en ondergrond. My grond is bo en joune is onder!”

Die boer skud net sy kop verbaas en toe begin hy stadig glimlag. Sy glimlaggie begin by die een punt van sy snor, krul so krom om sy mondhoeke, tot by die anderkant van sy snor uit. Later begin hy lag en toe skaterlag hy so hard dat al die plaasdiere naderkom om te kyk wat aangaan. Die boer hou naderhand sy maag en sy dye met albei hande vas,  so vreeslik lag hy. Sy ruie wenkbroue kruip rond en sy tamaaie snorpunte bons op en af. Die boer se lag is aansteeklik en kort voor lank skaterlag al die diere van die Vrystaat saam dat die kranse antwoord gee.

“Geronkie, jou karnallie, jy het my met ʼn slap riem gevang,” hyg die boer uitasem en gaan sit op die grond. “My maag is nou seer van al die lag vir jou slim plan. Van nou af kan jy maar bo-oor my grond loop om by die anderkant van my plaas uit te kom. Geronkie, jy kan maar op die pad vir jou ʼn paar lekker mielies pluk vir padkos.”

“Dankie, meneer die boer,” groet Geronkie beleefd en gooi sy knapsak oor sy skouer. “Kan ek maar my grond hier by jou los? En my groen kruiwa?”

“Maar natuurlik, Geronkie! Saam is jou grond en my grond mos ons grond. En as jy weer hier verybykom, laai ons daai groot groen kruiwa van jou vol mielies.”

“Dankie, meneer die boer. Groetnis van huis  tot huis, tot wedersiens, alles van die beste tot die sesde, mooi loop.” Elegant wuif Geronkie vir al sy diere-bewonderaars totsiens en stap heldhaftig in die grondpaadjie af, deur die klowe en berge van die pragtige Vrystaat, op soek na ʼn nuwe avontuur.

*

 

 

 

 

 

Advertisements