europe-2790933_640

Die Feekoningin se towerkasteel

Het julle al ooit van die Bloembos en die Feekoningin se kasteel gehoor?

Bloemfontein se bos is misterieus en mistig en doodstil – ʼn geheimsinnige plek  waar kabouters en feetjies bly. Die feetjies woon diep in die digte woud, onder die bome en in die varings agter die berge en klowe, naby ʼn kabbelende waterstroom. Al die feetjies bly daar – die mooiste en fraaiste feetjies wat jy al ooit gesien het. Van die feetjies is só klein, dat jy hulle amper-amper nie raaksien nie. 

Eenkeer per jaar, net na die lentereën, kom al die kabouters en feetjies bymekaar om  karnaval te hou – die Feekoningin se reënfees. Die reënfees is wanneer al die kabouters toertjies doen en die feetjies hul toorstokkies al in die rondte swaai. Die dwergies en elfies is ook uitgenooi, want hulle probeer altyd beter dans en sing as die feetjies en kabouters. Al die inwonertjies van die bos is elke jaar baie opgewonde oor die reënfees, omdat die kabouter en die feetjie wat die heel beste toertjie doen, ʼn klapsoen van die Feekoningin ontvang. Boonop kry die dwergie of elfie wat die mooiste sing en dans, twee klapsoene!

Twee van die kleinste en jongste feetjies, Lente en Somer, was baie opgewonde om na die reënfees toe te gaan. Hulle het maande voor die tyd begin voorberei en planne beraam. Lente en Somer het hulle tande geborsel, hul hare gekam, hul rokkies mooi gewas en stryk en mooi pienk linte in hul hare gebind.

“Het jy gehoor, Somer, hierdie jaar kom daar miskien twee beroemde gaste na die reënfees toe?”

“Nee! Rêrig? Wie is dit? Ek kan nie wag om te sien nie. Weet jy dalk wie dit is?”

“Ek weet nie regtig nie” fluister Lente, “maar ek het iets gehoor. ʼn Geruggie.” 

“Wie, Lente, wie? Komaan, vertel my! Wat het jy gehoor,” por Somer haar maatjie  opgewonde aan.

Lente loer geheimsinnig rond om te sien of iemand hulle afluister. Sy hou haar een hand bak en steek die ander een agter haar rug weg om beter te fluister. “Een van die kabouters het my vertel, maar ek weet nie of dit die waarheid is nie. Ek het gehoor dat Aspoestertjie en Sneeuwitjie miskien by die Feekonigin se reënfees gaan wees! As spesiale, uitgenooide eregaste!”

Somer snak haar asem skoon weg. Aspoestertjie en Sneeuwitjie! Dit klink té goed om waar te wees. Opgewonde klap sy haar hande saam en maak ʼn paar bokspringe in die lug. “Yipeee…” jubel sy; “Aspoestertjie en Sneeuwitjie!”     

“Ek kan nie wag nie, Somer,” gesels Lente opgewonde. “Ons heldinne! Vandat ons klein dogtertjie-feetjies is! Ek kan nie wag om hulle te ontmoet nie. Ek dink hulle hare gaan so mooi wees. Om nie eers te praat van hulle pragtige rokke nie! Ek kan nie wag om hulle te sien nie!”

Nie te lank nie, of die groot dag breek aan. Die dag van die Feekoninging se reënfees! Lente en Somer haas hulle aan die onderpunt van die bos en huppel met die kabbelende waterstroompie langs, tot naby die Feekoningin se kasteel. Hulle het pragtige pienk linte in hul hare gebind om by hulle fraaie rokkies te pas. Altwee dra hul mooiste blink skoene om by die reënfees mee te trippe-trappe-trone. “Kom Somer, maak gou! Ons gaan laat wees!”

Uiteindelik kom Lente en Somer by die Feekonging se pragtige kasteel aan. Die kasteel is mooi en rooi, pienk en blou en oranje, met torings van dorings en groen vlae wat in die windjie wapper. Oral is daar kabouters wat dans, harlekyne met spreuke en gedigte en ryme, fraaie feetjies met strikke in hulle hare en dwergies met punthoedjies en krom bene. Al die elfies sing en dans in die rondte – die vrolike musiek weergalm deur die bome en blare en kabbel langs die waterstroompie langs. Lente en Somer vergaap hulle aan die kabouters se manewales en elke keer as die toeskouers juig, klap hulle opgewonde saam hande. Die hele middag hou die feetjies en kabouters fees, hulle dans sing op die viooltjie-orkes se mooiste deuntjies en wysies. Die verkleurmannetjies op die boomstompe verander hul kleure en selfs die voëltjies in die bome kwetter saam.    

Toe dit skemer raak, daal daar ewe skielik ʼn groot stilte oor die Bloembos neer. Al die kabouters en elfies loer nuuskierig na die onderpunt van die berg om beter te kan sien. Eers hoor Lente en Somer ʼn sagte klop-klop van perde se hoewe en die klap-klap van  die koetsier se sweep. Toe, ewe skielik, sien hulle ʼn pragtige goue koets deur die bome aankom. Ses sierlike wit perde trek die goue koets en orals vlieg vuurvliegies rond om hul liggies op die pad te skyn.

“Gedoriewaar,” se een van die dwergies deur sy wit baard. “Kyk net daar!”

Uiteindelik hou die pragtige koets voor die kasteel se swierige swart traliehekke stil. Die ses wit koetsperde se maanhare wapper in die maanlig en die koets se lampe skyn helder deur die skemer. Die vuurvliegies doen diens as lakeie en vlieg oral rond sodat al die kabouters en feetjies beter kan sien wat gebeur.

“Lente,” fluister Somer opgewonde, “ek is seker dit is hulle! Dit is Aspoestertjie en Sneeuwitjie in daardie die koets! Dit moet hulle wees!” Die twee klein feetjies skuifel groot-oog nader om beter te kan sien.

Die ses wit koetsperde draf sierlik deur die hek, tot voor die kasteel se deure en hou stil. Toe verskyn die Feëkongin en stap na die koets toe. Die vuurvliegie-lakeie maak die koetsdeure oop en ewe skielik staan hulle daar – Aspoestertjie en Sneeuwitjie!”

“Kyk, hulle hou hande vas! Net soos ons, Somer! Hulle is beste vriendinne!”

“Kyk hoe mooi is hulle rokke! En die linte in hulle hare is te fraai vir woorde. Ag, hulle is pragtig!”

Stadige en elegant draai Aspoestertjie en Sneeuwitjie in die rondte, sodat die skare kabouters en dwergies en feetjies hul beter kan sien. Net soos die koningin van Skeba, waai hulle elegant met hulle hande vir almal en glimlag toe die skare juig.

Ai, Lente,” sug Somer. “Hulle is te mooi vir woorde. Dit is net soos ʼn sprokie!”

“Ek het hulle met my eie oë gesien, Somer. Anders sou ek dit nooit geglo het nie. Aspoestertjie en Sneeuwitjie het regtig vir die Feekoningin en vir ons kom kuier!”

“Weet jy wat, Somer? Omdat Aspoestertjie en Sneeuwitjie in ons woud kom kuier het, is die reënfees nou ʼn seënfees!”

“Die reënfees is ʼn seënfees!” jil al die kabouters luidkeels en dans al in die rondte met hul krom bene. “Die reënfees is ʼn seënfees!” skree die dwergies saam en hulle spring op en af dat die water spat. “Die reënfees is nou ʼn seënfees!” sing al die feetjies en vang die reëndruppels in hul sambreeltjies. Selfs die koetsperde voer ʼn paar danspassies uit en wuif met hul sterte.

Kort voor lank sing en dans al die diere van Bloemfontein se bos saam met Lente en Somer voor die Feekoningin se kasteel. Net voor die feetjies en kabouters hul oë kan uitvee, staan Aspoestertjie en Sneeuwitjie langs hulle in die reën. “Dit lyk so lekker, kan ons saamdans?” 

“Natuurlik!” jil Lente van pure plesier en gryp Sneeuwitjie se hande. Somer laat nie op haar wag nie en begin sommer lekker met Aspoestertjie te dans. Die Feekoningin glimlag en klap vir hulle hande. Gou maak al die kabouters en feetjies en elfies en dwergies ʼn kring om Lente en Somer en Aspoestertjie en Sneeuwitjie. Hulle sing dat die berge antwoord gee en dans en dans, al in die rondte, al in die rondte.

“Die reënfees is ʼn seënfees,” lag die Feekoningin. “Te pragtig vir woorde. Net soos ʼn sprokie.”  

*

  

Advertisements