church-157216_640

Die klokkeman van Clocolan

Kosie was die klokkeman van Clocolan, ʼn klein Oos-Vrystaatse dorpie wat deur die Kwena-stam van Botswana bewoon is. Die Kwenas was Basothos en hulle noemnaam vir Clocolan was Hlohlolwane, (mens spreek dit ‘Hlohla-o-lwane,’ met ʼn k-klank uit), wat ‘staan op en baklei,’ beteken. Nuwe mense het ‘Hlohla-o-lwane’ as Clocolan uitgespreek en dit is die dorpie waar Kosie as klokkeman by die baksteenkerk gewerk het. Kosie was nie baie oud nie, maar ook nie jonk nie. Hy was net oud genoeg sodat jy nie geweet het of hy oud of jonk is nie, want hy het ʼn groot snor en ʼn paar plooie gehad.

Kosie het by die groot wit baksteenkerk bo-op die heuwel in die middel van Clocolan gewerk – hy moes elke oggend ses uur die groot kerkklokke lui en weer ses uur in die aand. Die dorpsmense van Clocolan was al sò gewoond aan die klanke, dat hulle elke oggend nét opgestaan het uit hul beddens as die kerkklok ses uur saam met die dagbreek lui.

As die kerkklok nie gelui het nie, het hulle nie geweet wanneer om op te staan nie en dan het hulle die hele dag in die bed gebly. En dan het hulle ook sommer vir die res van die dag nie geweet wat om te doen nie. Elke aand ses uur, as Kosie die klokkeman die kerkklok lui, het die inwoners van Clocolan weer in die kooi gaan kruip. Kosie was altyd  getrou op sy pos, oggend en aand, week-in en week-uit, elke maand, winter en somer, jaar na jaar.

Maar toe word Kosie siek en hy moet hospitaal toe gaan. Uitputting, sê die dokter, moegheid van al die weke en maande en jare van klokke lui. Kosie moet in die hospitaal rus, sê hy, met ‘n asynlappie oor sy voorkop. Afgemat lê Kosie in sy hospitaalbed, op mooi skoon wit lakens en ʼn paar sagte wit kussings agter sy rug. “Maar ek kan nie in die hospitaal lê nie dokter,” protester Kosie, “wie gaan Sondag die klokke in die kerktoring lui?”

“Kosie,” sê die dokter besorg, “jy is moeg en oud en siek en jy moet nou stil in jou bed lê, sodat jy beter kan word. Ons sal iemand anders kry om die klokke te lui.”

“Maar wie dokter?” protester Kosie, bang dat niemand die klokke sal lui nie, of dat hulle sal vergeet. “Niemand in ons dorpie wil die klokke lui nie, dit is té harde werk. Nie die koster van die kerk nie, nie die bank se taksateur nie, of die skool se faktotum nie. Niemand sal kan help nie.”

“Toemaar, Kosie,” troos die dokter, “ons sal wel iemand kry om die klokke Sondag te lui. Rus jy nou en word gesond.”

Maar maak nie saak hoe hard die dokter en die verpleegsters van die hospitaal gesoek het nie, kon hulle net nie iemand kry om Kosie se plek as die klokkeman van Clocolan vol te staan nie. Al die mense wat in die dorp gebly het, was te besig en te lui, of met vakansie, of besig met jukskei speel. Almal het ʼn verskoning gehad waarom hulle nie kon help om die kerkklokke te lui nie.

Die dokter het naderhand die dominee gebel om te kla. “Ons kry niemand wat Sondag die kerkklokke wil lui nie, dominee. Kosie die klokkeman is siek, hy lê mistroostig in die hospitaal, bene in die lug en hy kan nie die klokke lui nie. Almal is besig, of lui, of hulle doen iets anders, of hulle is met vakansie. Almal het ʼn verskoning om nie te help nie.”

“Toemaar, dokter,” troos dominee. “Moet nie bekommerd wees nie, ons sal wel iemand kry. Voor Sondag.”

Dominee is baie bekommerd oor die dokter se diagnose dat Kosie die klokkeman te siek is om die kerkklokke te lui. ‘Ek sal die koster of die scriba vra om te help,’ dink hy. ‘Die koster sal kan help, hy sal ʼn plan maak.’

“Ek is jammer,” maak die koster verskoning, toe die dominee hom vra om Sondag die kerkklokke te lui. “My rug is krom, my bene moeg en my arms lam, ek kan ook nie help nie. Ek weet ook nie van iemand anders wat die klokke kan lui nie.”

“En ek moet dinge skryf,” prul die scriba vroom en vou sy hande, “ek sal ook nie kan help nie.”

“Ag,” sug die dominee moedeloos, “daar is niemand in die hele dorp wat die kerkklokke kan lui nie. Niemand gaan betyds opstaan nie, die mense gaan verslaap en daar gaan nie eers een gemeentelid Sondag kerk toe kom nie. Ai! Wat ʼn teleurstelling, wat ʼn probleem.”

Dominee moet maar Sondag kerk hou, sonder dat die kerkklokke beier,” lamenteer die dokter saam. Ons sal maar so in die stilte kerk hou, in die geheim.”

“Ja, broer,” stem Dominee swaarmoedig saam, “ek hoop maar die mense onthou om kerk toe te kom. Anders is dit net ek en jy en die koor wat na die preek luister.”

Daardie Sondag-oggend vroeg is dit grafstil in Clocolan, net ʼn verlore tortelduifie koer aleen bo-in ‘n boom. Daar is nie ʼn mens in sig nie, alles is doodstil, nie eers een hond blaf of ʼn haan kraai nie. Selfs die blare van die bome ritsel so saggies dat niemand hulle kan hoor nie.

EWE SKIELIK beier die klokke van die kerk KLIPHARD, met volle volume, regoor die dorp! Al die mense skrik vervaard wakker van die lawaai, die klokke lui oorverdowend hard. Party mense rol vervaard uit die bed, ander druk hulle ore toe om die kerkklokke se klanke uit te hou. “Ons ore, ons ore!” kerm hulle kliphard, “ons ore kry seer!” Maar die klokke lui al hoe luider en selfs Kosie spits sy ore om te hoor wat gebeur.

“Wat gaan aan, Kosie?” vra die verpleegsters vir Kosie en die dokter kom ook ingestorm. “Ek het vir jou gesê jy mag nie die klokke lui nie, Kosie! Wat gaan aan?”

“Maar dit is nie ek nie, dominee! Ek is dan hier, in die hospitaal. Dit moet iemand anders wees. Dit is nie ek nie, dit is iemand anders.”

Die hele Clocolan en al die mense in die hospitaal staar na die kerktoring, maar die klokke hou net aan lui en lui. Die mense en die diere van die dorpie is maar te bly om die geluid van die klokke te hoor, want die pragtige klanke beteken dat dit tyd is om kerk toe te gaan.

“Wel,” sê die dokter onseker, “daar moet iemand wees wat die klokke lui. Die klokke is groot en swaar en hulle lui nie vanself nie.”

Kosie die klokkeman kyk lank na die kerktoring en gaan sit met ʼn glimlag op sy bed.

“Maar daar is niemand daar nie, dokter,” sê die verbaasde verpleegsters. “Kyk, selfs die dominee en die koster staan buitekant die kerk om te probeer sien wie die klokke lui. Die klanke kom sommer vanself uit die kerktoring uit.”

“Ek weet wie dit is,” laat Kosie sag van hom hoor. “Ek weet.”

Al die verpleegsters en dokters in die hospitaal draai hul gesigte verbaas na Kosie die klokkeman toe. Selfs die waardige matrone staan nuuskierig nader. “Weet jy wie dit is, Kosie? Hoe weet jy wie die klokke lui?”

Kosie kyk na al die vraende gesigte om hom. “Dit is die Hemelse Vader se engele wat die klokke so laat lui,” antwoord Kosie met ‘n rustige glimlag. “Hy het my kom help toe hy sien niemand anders wou die klokke lui nie. Dit was Hy wat sy engele gestuur het om te help.”

Al die mense van Clocolan het daardie oggend by hul kerkie saamgedrom om na die klokke se pragtige klanke te luister. Toe gaan sit hulle op die kerkbanke, om te hoor hoe preek die dominee en die kerkkoor sing.

“Dankie dat jy gehelp het, Hemelse Vader,” sug Kosie genoegsaam in sy hospitaalbed. “Nou is daar vrede op aarde en in mense ʼn welbehae.”

*

 

Advertisements