topsie
Topsie en Bella op Gordonsbaai se strand

Voorspoedige nuwe jaar!

In Gordonsbaai het ʼn oulike klein dogtertjie gebly, nie vêr van die strand af nie, binne loopafstand van Ingrid Jonker se mooi standbeeld met haar driewieletjie op.

Alhoewel Topsie nog jonk was, het sy al Ingrid Jonker se gedigte gelees. Sy het die meeste van die gediggie Die Kind gehou, omdat Ingrid daarin ‘n treurige storie oor kinders vertel. Topsie kon gewoonlik nie wag vir die Christusfees en die einde van elke jaar nie, want dan het haar ma en pa vir haar baie boeke persent gegee om te lees. Lees en boeke is Topsie se gunsteling stokperdjie, lekkerder as boomklim en perskes eet. Sy hou van allerhande boeke en stories – stories oor avonture van kinders en stories uit die Vrystaat, digbundels en kinderbundels, dierestories en storieboeke om van te kies en keur.

“Topsie,” vra haar vriendinnetjie Bella toe hulle eendag op Gordonsbaai se strand sit en speel, “wat gaan jy hierdie jaar doen?” Bella was ʼn bekommerde klein meisietjie en wou nie altyd waag om in die see te swem nie. Sy is altyd bietjie bang dat die water te koud gaan wees, of dat ‘n krappie haar kleintoontjie gaan knyp.

Topsie vroetel met haar tone in die sand en bou aan haar sandkasteel. “Ek gaan kyk hoe groei my blomme.”

“Blomme? Hoekom blomme?” vra Bella verbaas.

“Omdat ek blomme geplant het,” antwoord Topsie tevrede.

“En wat nog, Topsie? Wat gaan jy nog hierdie jaar doen?”

“Ek gaan slimmer word.”

“Slimmer!” Bella lag uit haar magie uit en kyk skuins na Topsie. “Mens kan mos nie slimmer word nie. Jy is slim of jy is dom, niks kan jou help nie.”

Maar Topsie laat haar nie van stryk bring nie. “As jy lees, leer jy nuwe woorde en jy ontdek nuwe wêrelde. Jy leer van nuwe kulture en interessante mense en hulle manier van dinge doen. Ek dink ek gaan sommer baie slimmer word as ek my boeke lees.”

“Wat nog, Topsie? Wat gaan jy nog doen?”

“Ek gaan baie mooier word,” verklaar Topsie heldhaftig.

“Mooier? Agge nee, Topsie, ons kan mos nie mooier of leliker word nie. Ons is sò gemaak en so laat staan. Ons gesiggies bly dieselfde, maak nie saak wat ons doen nie.”

“Weet jy wat, Bella? Ons kan iets doen. My ma en pa gee elke jaar vir my boeke persent wanneer dit Christusfees is, pragtige kinderboeke van elke onderwerp onder die son.”

Bella tel ʼn skulpie van die sand af op en bestudeer hom asof dit die eerste keer is dat sy ‘n skulpie sien. Sy het nooit geweet dat skulpies soveel kinkels en kreukels het nie en dat daar miskien ‘n krappie daarbinne bly nie. “Lees jy ál jou boeke?” vra Bella nuuskierig.

‘Maar natuurlik!” lag Topsie. “Dit is die lekkerste ding in die hele wêreld om kinderboeke te lees, want al die boeke het prentjies in. Ek kan dinge ontdek en sien wat die mense in Japan doen en hoe mooi hulle pienk kersiebome is, hoe die cowboys en hul perde in Amerika lyk, of die krappies op Kersfees-eiland in die middel van die Stille Oseaan.”

“Maar dit gaan jou nie mooier maak nie,” kla Bella.

“Baie van my boeke het mooie fotos in,” spog Topsie. “Fotos van die Amazone en sy pragtige diere, van die Nyl-rivier met sy groot krokodille, van ysbere in Kanada en Bengaalse tiere in Indië. Daar is stories van Kossake in Rusland en Eskimos in Ysland, van Franse kastele en die Swartwoud in Duitsland. Sò ontdek ek nuwe plekke en mense en beleef ek avonture by dosyne!”

“Ag Topsie man, ek hoor al jou stories,” redekawel Bella en sy skop ‘n denkbeeldige ronde seeklippie oor die sand. “Maar dit gaan jou nie mooier maak nie.”

“Het jy al van die blye boodskap gehoor, Bella?”

“Nee.”

“Dit is ‘n ander naam vir jou Bybel. Blye boodskap. Dit is een van my boeke en ‘n goeie storie om te lees.”

“Ek weet, ja,” antwoord Bella skoorvoetend.

“Die blye boodskap het mooi verhale met lekker boodskappies. Enige mens kan dit lees, kinders ook.”

“Maar hoe gaan dit jou mooier maak?”

“Al wat ons kinders moet doen, is om die blye boodskappies in ons harte te sit en dieselfde dinge te doen. Ons kan mense help, veral as hulle arm is of nie kos het om te eet nie. Ons kan diere beskerm en hulle nie seermaak nie en ons kan ons planeet oppas deur nie plastiek te gebruik nie. Ons kan beleefd wees teenoor ander mense en nie ongeskik met hulle praat nie, en vriendelik wees, in plaas van sommer kwaad wees vir alles.”

“En dan word jy mooier?”

“Ja, natuurlik!” lag Topsie. “Mense kan die blye boodskap op jou gesig sien en hoor hoe jy praat. Jou gesiggie straal sommer sonskyn en warmte uit, jou ogies blink en jou wangetjies word al hoe rooier en mooier.”

Bella spring vinnig orent en gooi haar arms uitgelate in die lug. “Ek gaan dit probeer, Topsie!” skree sy uitbundig. “In die nuwe jaar! Ek gaan dit doen!”

Topsie glimlag ingenome en vroetel haar voete dieper in die seesand. Haar sandkasteeltjie is klaar gebou en sy sit ‘n vlaggie bo-op, net soos ‘n kersie op ‘n koek.

“Bella,” lag sy ingenome, “waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor!”

“Voorspoedige nuwe jaar!”

*

Advertisements