Dino Saurus
Dino Sourus

Topsie en Dino Sourus

Topsie was ‘n avontuurlustige klein dogtertjie met lang vlegsels wie in die pragtige see-dorpie, Gordonsbaai gewoon het. Topsie het daarvan gehou om met haar poppe te speel, bottelproppe en mooi klippe bymekaar te maak en stories oor die see te lees. Sy het die meeste van swem gehou en elke dag, net voor die son sak, het sy met haar snorkel en paddavoete afgesit na Gordonsbaai se hoofstrand toe. Daar het Topsie met haar tone in die warm seesand gevroetel, skulpe opgetel en in die water te baljaar.

Die see in Gordonsbaai is nie baie diep nie en Topsie kon elke dag nuwe dinge onder die water ontdek. Dit was ‘n wonderwêreld van seediere en klein vissies, krappe wat ronddskarrel en probeer wegkruip, klippies wat deur die branders rondgerol word en baie mossels. Dit was vir Topsie die heerlikste ding om borrels onder die water uit te blaas en dan te kyk hoe hulle stadig draai-draai na die oppervlakte toe.

Eendag, toe Topsie nog so lekker met haar  snorkel in die branders rondbaljaar, sien sy ‘n skaduwee en ‘n enorme gestalte onder die water. Topsie se oë het al hoe meer gerek toe sy die grote, lompe dier in die water sien. Sy pote het aan die bodem van die see geraak en sy kop het amper-amper bokant die branders uitgesteek. Sy tamaaie stert het van kant tot kant geswaai en daar het baie ronde borrels by sy groot blou neusgate uitgestroom.

“Wat maak jy hier onder die water?’ vra Topsie nuuskierig vir die vreemde dier, wat haar met sy groot wit oë aankyk. Hy lyk darem nie té onvriendelik nie, dink sy, hy swaai darem stert rond. “Wie is jy? En waarom swem jy hier onder die water rond?” Topsie is onmiddellik spyt oor haar ondeurdagte vraag, want dit is nogal moeilik op bo-op die water te swem, sonder om nat te word.

Die groot blou dierasie draai stadig om en loer na Topsie. Topsie is nie bang nie, maar sy maak haar oë effens toe en hoop aan die eenkant dat die tamaaie kolos sal wegswem. Maar toe sy haar oë weer oopmaak en ‘n paar keer knip, staan hy reg voor haar.

“Ek is ‘n dinosourus,” beantwoord hy Topsie se groet vriendelik. “My naam is Dino en my van is Sourus. Ek leer die visse swem.”

“Wàáááát?!” Topsie kan haar ore nie glo nie en draai haar snorkel ‘n paar keer in die rondte om beter te kan hoor. “’n Dinosourus! Wat visse onder in die see leer swem?”

“Ja,” antwoord Dino en swaai sy stert. “Ek swem nogal goed en Koning Neptune van die See het my gevra om ‘n paar vissies, so ‘n paar swemlesse te gee.”

“Regtig? Waarom?”

“Want hulle sukkel, Topsie. Party swem skeef of agteruit en hul ma’s en pa’s is bang dat hulle gaan vedrink. Of nog erger, dat die seestrome hulle Antartika toe gaan wegspoel.”

Dino demonstreer so ‘n paar swemhale met sy groot pote. “Ek is regtig nie so lomp as wat ek lyk nie. Ek swem baie goed, vorentoe en agtertoe.”

Topsie kyk verstom na al die klein vissies en seeperdjies wat in die rondte al om Dino swem. Sy het nog nooit van ‘n dinosaurus gehoor wat kan swem nie en sy sukkel om haar verbasing weg te steek. Om die waarheid te sê, Topsie is nogal skepties oor Dino se storie. En sy is nie heeltemal oortuig dat hy ‘n goeie swemafrigter is nie.

“Watter soort swem? vra sy vrypostig. “Vryslag, vlinderlag, borslag of rugslag?”

“Ek weet nie,” sug Dino mismoedig. “Koning Neptune het net gevra ek moet hulle leer swem. Al die vissies is nie ewe bedrewe in die water nie en hulle ma’s en pa’s weet ook nie altyd hoe nie. Maar hy het niks gesê van agteruit swem soos rugslag nie, of om soos skoenlappers vlinderslag te doen nie.”

“Ek kan baie goed swem,” spog Topsie ‘n bietjie. “Dit is waarom ek in die see kan swem, met my paddavoete en my snorkel. Ek sal jou help, Dino, om die vissies te leer swem. As jy wil.”

“Wat moet ons doen, Topsie? Sê net, dan doen ons dit. Al die vissies sal vir jou luister. Ek ook.”

“Nou goed. Wat is jou grootste uitdaging, wat is jou grootste probleem?”

Dino Sourus dink ‘n bietjie en krap sy groot ore met sy poot. “Die meeste van die klein vissies swem skeef-agteruit. In tru-rat. Ons moet hulle leer om vorentoe te swem.”

“Laat hulle almal in ‘n ry op die bodem van die see staan, Dino. Mooi in gelid, ‘n reguit ry. Dan wys ons hulle wat om te doen.”

“Aitsa! Dankie Topsie! Kom ons probeer.”

Dino swaai sy tamaaie stert en blaas ‘n groot klomp borrels deur sy neusgate en een-twee-drie, staan al die vissies in ‘n ry op die bodem van die see, mooi in gelid. Soos ‘n wafferse trompoppie-samajoor swem Topsie op en af om die vissies en seeperdjies te inspekteer. Al die vissies lyk flink uit die vere en loer verwondeerd met hulle ronde vis-ogies na Topsie. Hulle het nog nooi ‘n snorkel gesien nie en ook nie paddavoete nie. Behalwe vir die paddas wat hulle gesien swem het met voete aan. Hulle het net nog nooit ooit ‘n vlegsel-meisiekind met paddavoete sien swem nie.

Tevrede met wat sy sien, swem Topsie met ‘n Kaapse draai terug na Dino toe. “Ek weet wat om te doen, Dino. Kom help my met die afrigting.”

“Nou ja,” almal gereed! Op julle merke! Gereed? Swaai julle arms al in die rondte!”

“Uggm,” kug Dino saggies vir Topsie onder die water. “Vissies het nie arms nie, Topsie. Hulle het vinne. En kiewe.”

“O! Ja! Jammer Dino, ek het vergeet. Kom ons probeer weer. Swaai julle vinne al in die rondte!”

Al die vissies swaai hulle vinnne fluks in die rondte, party sò vinnig dat hulle amper wegspoel.

“Wikkel julle sterte!”

Al die vissies wikkel hulle sterte flink, eers op en af, toe links en regs.

“Flap julle kiewe!”

Al die vissies giggel en flap hulle kiewe dat die water spat. Dino kyk verwonderd na die vissies wat hulle gate uit geniet.

“Reg so! Nou, al drie goeters gelyk! Swaai julle vinne in die rondte! Wikkel julle sterte! Flap julle kiewe! Almal gelyk!”

Mens sien net borrels en water in alle rigting spat, soos die vissies hul kiewe en vinne wikkel en met hul wikkelsterte baljaar. Toe die watermallemeule bedaar en die borrels bars en die woelige water weer kalm raak, kyk Dino Sourus en Topsie verbaas om hulle rond. Al die vissies is weg, hulle het heeltemal verdwyn. Party het weggeswem en die ander het weggespoel. Hulle kyk angstig in die water rond, maar sien nie ‘n enkele vissie nie.

“Waar is hulle almal heen, Topsie? vra Dino benoud. “Wat het dan gebeur?”

Topsie is baie tevrede met haar resultate as swemafrigter. Sy het woerts-warts, binne ‘n japtrap, al die vissies leer swem en boonop ‘n groot vriend van Dino Sourus gemaak.

“Ek dink hulle het huistoe geswem, Dino.” Topsie wikkel haar paddavoete en blaas ‘n paar groot windborrels deur haar snorkel. “As ons hulle weer sien swem, gaan daar sommer ‘n hele skool vissies wees. Totsiens, Dino. Tot volgende keer, meneer. Ek moet laat spat, patat, alles van die beste tot die sesde, laat wiel kokketiel!”

“Dankie dat jy die visse leer swem het, Topsie! Mooi loop! Ek bedoel, mooi swem, Topsie! As jy weer kom, gaan ons die seekatte leer spin, die klaredyne leer dans en die krappe leer om reguit te loop. Totsiens, Topsie!”

**

Advertisements