Parabat

Die voëls in die Vrystaat vlieg so onderstebo

“Is dit waar dat die voëls in die Vrystaat onderstebo kan vlieg, Mossieman?”

Geronkie die donkie en sy boesemvriend Mossieman, die slimste mossie in die hele wêreld, lê pens en pootjies op hul rūe na die blou-wit wolke van die Vrystaat en kyk. Dit is hul gunsteling tydverdryf, saam met druiwe eet, poetse bak en skaapappeltjies bymekaarmaak. Geronkie en Mossieman het lankal agtergekom dat as jy op jou rug lê, jy baie meer dinge kan sien as wanneer jy regop staan. Of sit.

“Dit is waar ja,” antwoord Mossieman droog. “Die voëls in die Vrystaat vlieg onderstebo omdat daar niks op die grond aangaan nie.”

Ten spyte van sy lang ore en kort stert, is Geronkie in die Vrystaat bekend as ‘n diep denker, ‘n filosoof wie gewoonlik diep en lank dink voordat hy sommer, net soos die kranse, ‘n antwoord gee.

“Hoor bietjie hier, Mossieman,” vra Geronkie uit. “Is dit waar dat jy die slimste mossie in die hele wêreld is? En die sterkste, vinnigste en die aantreklikste?”

“Dit is alles min of meer waar, ja,” beaam Mossieman ‘n gepaste skugter wuif van sy vlerkie, amper soos Lizzie, die koningin van Engeland. Hy vermoed lankal dat hy van koninklike afkoms is, maar het nog nooit iemand daarvan vertel nie.

“Maar waarom, Mossieman? Wat maak jou slim, sterk, vinnig en mooi? Hoekom is jy so spesiaal?”

“Want ek was ‘n parabat?”

“’n Parabat. Wat op aarde is dit?”

“Soldate. Ek was ʼn lugmag-soldaat wat uit vliegtuie gespring het.”

“Maar hoekom, Mossieman, was jy dan bang? Waarom het jy nie net gewag tot jy op die grond aankom nie?”

“Nee, ek was nie bang  nie. Vrystaatse mossie word nooit vir niemand bang nie. Ons het valskerms gehad. En kopskerms.”

“Parabats met valskerms! Beskerm die kopskerms julle as julle val? Of as julle omval?”

“Nee, dit keer net dat ons nie teen die grond vasvlieg nie.”

“Maar die liewe Heer het dan vir julle mossies vlerke gegee! Hoekom het julle nog valskerms ook nodig om te vlieg?”

“Ek dink die liewe Heer het valskerms uitgevind sodat ons iets het om te gebruik as ons vlerke nie meer werk nie. Of as ons beseer of moeg is. Soos ‘n versekeringspolis, ʼn Plan B.”

“So, as jy ‘n parabat is, dan is jou vlerke Plan A en jou valskerm jou Plan B?”

“Ja, Geronkie,” lag Mossieman. “Maar onthou, dit is ‘n valskerm, ‘n val-skerm. Hy beskerm jou as jy val. Ons mossies is nogal rats in die lug, ons val nie baie om as ons vlieg nie.”

“Waarom nie, Mossieman?”

Mossieman peins bietjie oor die vraag soos dit ‘n filosoof betaam. “Want as jy val terwyl jy vlieg, dan kom die grond baie vinning nader. As jy nie pasop nie, kan jy selfs teen die grond vasvlieg. Dit is angswekkend, ek kry sommer koue rillings.”

“En wat doen julle toe?”

“Ons het geleer om onderstebo te vlieg, Geronkie. Sodat ons nie die grond daaronder hoef te sien nie. Dit het veral die nuwe parabats baie gehelp en vir hulle selfvertroue gegee om lekker uit die vliegtuie te spring, met of sonder valskerms.”

“Selfvertroue?”

“Ja! Die meeste van die nuwe parabats het aan hoogtevrees gelei. Hulle wou nie afkyk grond toe nie.”

“Wat doen julle toe?”

Mossieman sug en tuur die hemel in en kyk vir die pragtige blou-wit wolkies in die Vrystaatse hemelruim. “Toe laat ons al die parabats onderstebo uit die vliegtuig spring. Ons het hulle valskerms agterstevoor vasgemaak, sodat hulle onderkante boöntoe gewys het en hul voorkante agtertoe.”

Geronkie sug ook diep saam met Mossieman en hy loer beïndruk na sy kameraad. “Jitte, Mossieman, ek kan nou sien waarom die diere van die Vrystaat dink jy is die slimste mossie in die hele wêreld. Jy weet iets van alles af.”

“En dit is nie al nie,” sluit Mossieman sy liegstorie af. “Toe hulle eers daardie onderstebo-vlieg-vaardigheid onder die vlerke het, toe leer ons hulle nog een.”

“Ai, Mossieman, ek weet regtig nie meer of ek jou moet glo nie.”

“Jy hoef my nie te glo nie, Geronkie. Kyk net na die hemel, dan sien jy dat die meeste voëls daarbo  vlieg agteruit.”

“Jy jok nou, Mossieman!”

“Nee, regtig, dit is raar maar waar. Kyk maar. Die voëls wat vorentoe vlieg, gaan met vakansie en die voëls wat klaar vakansie gehou het, vlieg agteruit hier terug na die Vrystaat toe.”

“Mossieman, dit klink vir my te deurmekaar en agterstevoor. Ek glo jou nie meer nie.”

“Dit is waar wat jy sê, Geronkie. “Ek glo ook nie meer my eie stories nie,” gaap Mossieman en sy oë val toe. En daar slaap hy, terwyl hy nog so na die Vrystaatse hemelruim kyk.

*

Henning van Aswegen

Advertisements