sus

Sushi moesie

“Mossieman, het jy al van sushi gehoor?”

Mossieman dink so ʼn bietjie diep oor dié strikvraag, glimlag innemend en besluit om Geronkie die Donkie ‘n streep te trek.

“Ja, Geronkie, ek het al van sushi gehoor. As jy baie raas, dan sê jou ma vir jou jy moet ‘sush.’ Dit beteken jy moet stilbly. As jy weer raas, dan dreig sy om jou boude te piets as jy nie ‘sushi.”

“Nee, Mossieman, ek dink nie so nie,” skud Geronkie sy kop heen en weer. Ek dink sushi het iets met Japanese vis te doen.”

“Sushi? Is jy seker?”

“Ek dink dit is vis wat die Japanese in hul toebroodjies toedraai, met blare. Die vis is dan deur die blare.”

“Geronkie, dit is nie toebroodjies nie. Hulle draai die sushi in rys toe.”

“Rys?  Is jy seker Mossieman? Hoe doen hulle dit?”

“Een korreltjie op ‘n slag,” lag Mossieman en loer vir Geronkie wat hard konsentreer om sushi te verstaan.

“Ek dink nie ek sal sushi eet nie, Mossieman. Ek verstaan dan nie eers Japanees nie.”

“Jy hoef nie Japanees te praat om Sushi te eet nie, Geronkie. Jy moet net weet dat sushi nagevolge het, konsekwensies.”

“Wat se nagevolge, Mossieman?” vra Geronkie agterdogtig. “Bedoel jy iets gebeur met jou as jy sushi eet?”

“Ja, elke keer as jy sushi eet, word jou moesie kleiner.” Mossieman weet Geronkie is skaam oor die moesie op sy linkerwang, want hy probeer die moesie altyd wegsteek, veral as hy met meisie-donkies praat.

Geronkie voel-voel selfbewus aan sy moesie en probeer keer dat Mossieman sy moesie mooi sien.

“Kom ek gaan wys jou,” sê Mossieman. “Kom ons gaan koop sushi, dan eet ons dit.”

“Maar Mossieman, jy het gesê ons moet Japan toe gaan om sushi te koop. Ons bly dan in die Vrystaat, hoe gaan ons nou so vinnig in Japan uitkom? Ek is honger Mossieman, maar nie so honger dat ek kan wag totdat ons eendag in Japan aankom nie. Ek wil sommer nou iets eet.”

“Geronkie,” antwoord Mossieman, “ons hoef nie Japan toe te gaan gaan nie, ons koop sommer sushi hier naby in die Bloembos se viswinkel.”

“Maak die viswinkel dan Japanese sushi? Of is daar ‘n Japanees in die winkel wat vis maak?”

“Al die visse word spesiaal ingevoer van Japan af, sodat ons sushi van hulle kan maak hier in  die Vrystaat.”

 “Wat gebeur dan?”

“Wel,” sê Mossieman, “jy het mos ʼn moesie wat jou pla?”

Skamerig vryf Geronkie oor sy linkerwang waar sy moesie sit.  “Jaa… maar wat het dit met sushi te doen?”

“Geronkie, elke keer as jy sushi eet word jou moesie kleiner. Kyk maar, dit werk regtig.”

“Ek glo dit nie,” sê Geronkie suspisieus.

“Kom, ek gaan wys jou.”

Mossieman en Geronkie stap sommer reguit na Bloemfontein se viswinkel toe. Die viswinkel is net langs die beroemde Vrystaatse rugbystadion waar die legendariese Cheetahs rugby speel. Toe Geronkie en Mossieman daar aankom, is die winkel vol Japanese wat sushi bestel.

“Kyk hoe lyk die sushi, Geronkie,” sê Mossieman skalks. “Dit is daai ronde wit vis en rys wat so toegedraai is. Kyk die kleure, rooi en oranje en groen en swart. Dit is Japanese sushi.”

Geronkie vergaap hom aan die ronde viskoekies en wonder hoe hulle proe. Mossieman koop vier sushi’s en die viswinkel-eienaar voeg ‘n bietjie wasabi, sojasous en pienk gemmer by.

“Wat is daardie groen goed, wat is hulle naam nou weer, wasabi.”

“Ons eet dit saam met die sushi, Geronkie. Die Japanesies voeg dit by, sodat jou mond kan brand.”

“Sjoe! Eina! My mond is klaar aan die brand, kyk die rook! kla Geronkie ná sy eerste happie sushi.

“Weet jy waarom die Japanese wasabi eet, al brand dit?”

“Nee, vertel maar.”

“Want dit is so lekker as hulle ophou.”

“Mossieman, jy vertel darem nou lang stories. Ek dog mens eet sushi sodat jou moesie kleiner kan word. Jy het my vertel mense en donkies se moesies word kleiner as hulle sushi eet. En as jy ophou, word die moesie weer groter.”

“Dis waar,” sê Mossieman en hulle gaan sit onder ‘n groot boom langs die Vrystaat stadion om die res van die sushi te eet.  Mossieman voel effens skuldig omdat hy arme Geronkie so om die bos lei, maar hy sê dit nie.

“Maar waarom gee hulle dan vir jou daardie ‘wasabi’ saam met die sushi?”

Mossieman eet so bietjie sushi met wasabi en lek sy lippe af. “Dit is sodat die Japanese se monde nie alleen brand as hulle sushi eet nie. Hulle gee die wasabi saam met die Sushi sodat almal se monde regoor die wêreld kan brand.”

Geronkie eet so bietjie sushi en voel aan sy moesie. “Mossieman, jou karnallie, my moesie is glad nie kleiner nie. Ek het nou al baie van daai sushi en wasabi geëet en my moesie voel nog dieselfde grootte.”

“Ja, maar brand jou mond, Geronkie?” Mossieman lek sy lippe af, so lekker smul hy aan die sushi.

“My mond brand, ja, baie. Ek dink nie ek hou baie van sushi nie.”

“Toemaar Geronkie, as jou mond brand, dan dink jy nie meer aan jou moesie nie. Net die feit dat jy nou sushi geëet het, sal die Japanese baie bly maak.”

“Maar hoe sal die Japanese weet dat ek sushi geëet het?”

“Ek sal vir hulle ʼn brief skryf,” lag Mossieman.

“In Afrikaans?” vra Geronkie skoorvoetend.

“Nee,” sê Mossieman, “in Japanees. Ek het al deur die jare so baie sushi hier in Bloemfontein geëet, ek praat nou al vlot Japanees.”

“Mossieman, jy praat nou nonsens.”

“Sayanora” sug Mossieman tevrede, terwyl hy sy laaste stukkie sushi met sojasous en ‘n pienk gemmertjie afsluk.

*