Verjaardae is groot gebeurtenisse in die Vrystaat, veral omdat die meeste kinders op dieselfde dag  wat hulle gebore is, verjaar. Verjaardae gebeur gereeld jaar in die Vrystaat, sonder uitsondering, maar die meeste kinders en diere raak gou-gou daaraan gewoond. Alhoewel die Vrystaat ‘n baie besondere habitat het, met vriendelike, goedgemanierde inwoners, is dit nie al plek in die wêreld waar die kinders op hul geboortedatums verjaar nie. Dit gebeur ook in ander lande, soos Fiji, Rusland, Venezuela, Ysland en Panama. In die Vrystaat het dit al gebeur dat mense en diere op dieselfde dag verjaar, dan noem die Vrystaters dit ʼn verjaardag-dag.

Geronkie die donkie is een van die Vrystaat se beroemdste inwoners en hy verjaar klokslag op sy geboortedag, hoewel hy nie altyd baie gelukkig is as hy moet verjaar nie. As verjaardae in die Vrystaat nie verpligtend was nie, sou Geronkie nooit verjaar het nie.

Hier begin ons storie.

“Geronkie, verbeel ek my, of verjaar jy een van die dae?” vra Mossieman skoorvoetend en rol ʼn denkbeeldige dennebolletjie op sy tak met sy poot weg.

Geronkie skud sy kop heftig heen en weer. “Nee, nie ek nie, Mossieman. Ek het ophou verjaar.”

“Ophou verjaar? Dit is mossie moontlik nie! Hoe oud is jy nou?”

“Ses en sestig!”

“Geronkie! Jy mag nie jok nie, jy moet min of meer die waarheid praat.”

“Dit is die waarheid, Mossieman, Dit is die dag waarop Calla se ma Ann my vir Henning gegee het. Net soos die meeste donkies van my ouderdom, is ek ses en sestig jaar oud.”

“Wanneer jy verjaar, dan gaan jy mos een jou ouer word.”

“Regtig, ek gaan nie meer verjaar nie, Mossieman. Ek is nou te oud om jonk te voel. Ek het klaar verjaar.”

“Maar waarom? Verjaardae is prettig! Almal wens jou geluk en jy kry baie persente by jou ma en pa en jou vriende.”

“Dit is omdat ek bietjie mismoedig raak op my verjaardag, Mossieman, kyk hoe hang my ore. Ek het uitgevind dat jy baie ouer word as jy verjaar. Elke jaar verjaar ek en dan is ek oud genoeg om te doen wat ek wil doen. Ek is net te moeg om dit te doen. Ek het gedink om ouer te word gaan baie langer vat.”

“Dit is waar ja,” praat Mossieman vir Geronkie bietjie moed in, “maar jy word net met een jaar op ‘n slag ouer. Jy moet ook onthou, om oud en slim te word, moes jy eers jonk en dom gewees het. Soos jy, Geronkie.”

“Ek het gehoor dat party mense en diere twee jaar ouer word, as hulle verjaar.”

“Net tweelinge, Geronkie, net tweelinge. Hulle word dubbeld so oud. En drielinge, wat drie jaar ouer word. As jy vier jaar oud word, hou jy op met verjaar, want dan is jy amper oud genoeg.”

“O!” sug Geronkie. Al die wiskunde maak sy kop moeg en sy abakus is nie nou naby om somme te doen nie.

“Jy kan dit nie vermy nie, Geronkie. Verjaardae is onafwendbaar en verpligtend. As jy verjaar, dan word jy ouer. Dit is nou maar eenmal die wet van president Paul Kruger en van Transvaal.”

“Maar ons bly dan in die Vrystaat, Mossieman. Dit is nie hoe dinge hier rond werk nie.”

“Hmm…ja… Maar die wet van Transvaal geld ook oorkant die Sandrivier, in die Oranje Vrystaat. Alhoewel ons eie wette in die Vrystaat geld want ons is onafhanklik van die res van die land.”

“As ek dus besluit om nie te verjaar nie, dan word ek nie ouer nie,” sê Geronkie kopskuddend. “Ek gaan nie meer verjaar nie, want ek lyk al klaar soos donkies wat baie ouer is as ekke.”

Mossieman kyk na Geronkie se treurige hangore en kry hom baie jammer. Diè twee is al van geboorte af boesemvriende en daarom hou Mossieman nie daarvan as Geronkie hartseer is nie. Mens kan sommer sien as ‘n donkie treurig is, want altwee sy donkie-ore èn sy stert hang half-mas. ‘Maar ek het ʼn blink plan,’ dink Mossieman so by homselwers. ‘Ek gaan vir Geronkie ʼn verrassingspartytjie reël en al die diere van die Vystaat uitnooi. Dit moet ʼn groot verrassing wees. Geronkie moet nie daarvan weet nie en ek sal al die reëlings in die geheim moet tref.’

Mossieman spring aan die werk en organiseer links en regs aan Geronkie se partytjie. Eers bel hy ‘n park in die Kalahari en bespreek die Gemsbok-orkes – dieselfde orkes wat die Kalahari Gemsbokpark wêreldberoemd gemaak het. Toe reël Mossieman ‘n groepie pienk flaminke om saam met die orkes te dans. Flaminke dans meesal die flamingo wat hulle in Argentinië aangeleer het en nou gereeld in die Vrystaat by groot byeenkomste opvoer. Toe die sangers en sangeresse. Niemand sing en fluit beter as voëltjies nie en Mossieman, omdat hy self een van hulle is, ken almal in die Vrystaat wat mooi kan sing. Die meeste voëltjies sing soos nagtegale, behalwe Oupa Uil, wat soos ‘n uil sing en die hele tyd moet keer dat die ander voëls hom nie stilmaak nie.

Kierts-karts, woerts-warts het Mossieman die hele lotjie gereël en geoganiseer, gereed vir Geronkie se groot verjaardagkonsert onder ‘n groot ou populierboom op die walle van magtige Sandrivier. Maar dit is nie al nie. Mossieman het ook ʼn paar kanaal-apies, wat daaraan gewoond is om mense strepe te trek, aangesê om ʼn tamaaie sjokkelade poetskoek vir Geronkie te bak.  Woerts-warts het die apies al die bestanddele bymekaargemaak, die koek gemeng en binne-in ʼn ou miershoop gesit om lekker in die Vrystaatse son te bak.

Toe die groot dag aanbreek, die dag waarop Geronkie moet verjaar, drom swetterjoele diere al van vroegdag af op die walle van die Sandrivier saam. Daar is miljoene diere van elke kleur en geur, groottes en kleintjies, mooies en lelikes, party wat brom en ander wat grom.

‘Kyk net, Mossieman!” stamp Mys die muis aan Mossieman se vlerk. Mys en Mossieman, met Spinnie Spinnekop en Japie die kanaal-apie langs hulle, sit bo-op Ollie Olifant se tamaai kop, sodat hulle alles mooi en duidelik kan sien. “Ek het in my lewe nog nooit so baie diere bymekaar gesien nie. Kyk daar! Ek sien luiperde, fluksperde en kameelperde, sywurms en olifante, kokketiele en krokodille, blesbokke en seekoeie en baie verkleurmannetjies! Almal het persente en geskenke vir Geronkie se verjaardag gebring!”

“Bring die verjaardagkoek,” beveel Mossieman en trots bring die apies die koek uit die ou miershoop tevoorskyn. “Almal gereed? Is julle almal reg vir die groot oomblik?” Die diere klap hulle pote en maak groot geraas in afwagting vir die partytjie om te begin. Al wat kortkom is die eregas, Geronkie die beroemde donkie.

“Gaan haal vir Geronkie,” gee Mossieman opdrag aan twee muile en drie eseltjies. Die muile en eseltjies draf fluks om die hoekie om vir Geronkie te gaan haal en kort voor lank maak Geronkie sy dramatiese verskyning. Statig en belangrik stap hy deur die erewag wat die diere onder die populierboom vir hom vorm. Al die diere se sterte staan omhoog, want dit is soos diere in die Vrystaat ʼn erewag vorm.

“Speel die orkes!” beveel Mossieman en die Kalahari Gemsbok-orkes trek met mening los met ‘Geluk liewe Geronkie, omdat jy verjaar. Mag die Here jou seën en nog baie donkiejare spaar.’ Ten spyte daarvan dat hulle bietjie vals klink, sing al die diere van die Bloembos lustig saam om vir Geronkie geluk te wens met sy verjaardag.

“Dans die dansers!” Die flaminke staan flink in gelid en begin toe stadig met hulle vlerke waai, elegant en pragtig, van links na regs, op en af. Die flaminke dans só mooi dat al die ander diere begin saamdans, selfs die vlakvarke en ʼn verwarde oerangoetang.

“Hulle dans soos klaredyne,” fluister Spinnie Spinnekop bewonderend vir Mossieman en sy klap haar pote van opgewondenheid. Geronkie is beïndruk toe die nagtegale-koor begin sing en die duiwe koer. Toe word die partytjie lekker. Die apies gebruik een van die swaardvisse uit die magtige Sandrivier om die groot verjaardagkoek middeldeur te sny en vir elke dier ʼn stukkie te gee. Selfs die kleinste insekkie kry ʼn krummel. Almal smul en sing en dans dat die biesies bewe en die kranse antwoord gee. Dit is die grootste en lekkerste verjaardagpartytjie wat die Vrystaat nog ooit gesien het en Geronkie die donkie blom van oor tot oor.

“Baie dankie, almal, elke dier en gogga en vis en insek van die hele Vrystaat! Baie dankie dat julle vir my ʼn verjaardagpartytjie gereël het. Dit was die beste verjaardagpartytjie ooit en baie dankie Mossieman dat jy alles georganiseer het. Ons donkies hou nie op sports maak as ons oud word nie, ons word oud as ons ophou sports maak!”

Geronkie kyk om hom rond en sien al die diere saam met wie hy in die kleuterskool was. Daarnà in Graad Een in Virgnia Volkskool, toe Goudveld Hoërskool en later hul studentedae by Kovsies. Almal glimlag vir hom en wys duime en vlerke en pote boëntoe om vir hom te wys hulle sy vriende is en dat hulle omgee vir hom, al is hy ʼn donkie. Geronkie raak bietjie bewoë en besef dat hy ‘n baie bevoorregte donkie is, om so baie vriende te hê wat vir hom ‘n verjaardagpartytjie reël. Toe sien Geronkie onder die populierboom ‘n hele hoop geskenke en persente wat die diere vir hom gebring het, almal blink toegedraai in geskenkpapier. Skaapappeltjies en pere van Henneman af, wortels van Welkom, baie mielies uit Bothaville, turksvye en katobas uit Virginia en kersies van Ficksburg in die ooste af.

“Verjaardae is spesiaal vir almal wat gebore is,” maak Geronkie sy afsluitingstoespraak. “Maar verjaardae is bowenal vir vriende en familie. Al die diere van die Vrystaat is my vriende en familie, ek is lief vir julle. Baie dankie dat julle gekom het. Ek besef nou dat verjaardae baie lekker is en weet julle wat?”

“Nee, Geronkie! Wat?” koor al die diere terwyl hulle die laaste stukkie koek en krummels opeët.

“Sien julle volgende jaar, want dan verjaar ek weer ʼn keer!”

*