fasie
Fasie die Towenaar

 

Fasie was ʼn koddige towenaartjie wat diep in ʼn donker grot in die Vrystaatse gebergtes gewoon het. Die grot was groot en donker en binne kon jy niks sien nie, nie eers iemand anders se hand voor jou eie oë nie.

Ten spyte van Fasie se min talent en baie kort bene, het hy baie daarvan gehou om ʼn towenaar te wees. Fasie het baie tower-goeters en apparate gehad, waarmee hy homself en almal om hom probeer toor het. Fasie se kosbaarste besitting was ʼn geel towerstokkie wat hy woes in die lug kon rondgeswaai, terwyl hy links en regs towerwoorde oor sy niksvermoedende slagoffers uitspreek het.

ABRA-DABRA, ag ek bedoel ABRA-KEDABRA, almal verdwyn!” mompel Fasie elke keer as hy sy geel towerstok deur die lug swaai. Hy moet mooi mik om te keer dat hy nie sy oranje towerhoedjie van sy kop af stamp nie. Sy hoedjie is groter as ʼn ronde skinkbord en balanseer op die punte van sy twee groot ore. Maar elke keer as Fasie sy towerstokkie swaai, val sy hoedjie af.

Die diere van die Vrystaat het elke dag in ʼn groot kring rondom Fasie gesit om sy manewales gade te slaan. Fasie het nie juis omgegee om voor ʼn bewonderende gehoor diere op te tree nie, want hy het nogal van al die aandag gehou. Dag na dag het Fasie sy bes probeer om iets of iemand te toor, maar nie een van sy towerkunsies het ooit gewerk nie.

“Fasie,” vra die diere, “hoekom wil jy ons wegtoor? Hou jy dan nie van ons nie?”

“Nee,” kla Fasie. “Ek hou van niemand nie. Weg is julle!”

“Fasie!” spot die diere, “wys ons hoe laat jy almal verdwyn. Sit jou towerhoedjie op en swaai jou towerstokkie!”

“ABRA DABRA!  Ai toggie,” mompel Fasie verbroureerd. “Ek vergeet so maklik, wat is my woorde nou weer?” Fasie blaai angstig deur sy towerboek met al sy towerwoorde en toorresepte in. “Dit moet hier iewers wees, seker onder A.  ABRA …. ABRA DABRA …..ABRA KEDABRA …., wag, hier is dit. ABRA KEDABRA!  Almal verdwyn! Nou het ek hom, ek moet net die woorde onthou.”

Die diere en insekte in Fasie se grot sit angstig en wag vir die groot tower-oomblik. In die voorste ry van die gehoor is daar is twee muise, drie sywurms, vier vlermuise, vyf skoenlappers, ses vlieë, sewe muskiete, agt kewers en nege kakkerlakke. In die agterste ry het Geronkie die Donkie langs Mossieman gesit, oorkant ‘n paar parkiete, ‘n dosyn konyne, ‘n eekhoring en twee skilpaaie. Daar was ook ʼn kokketiel wat verdwaal het, maar hy wou net so graag sien hoe tower Fasie.

“Wys ons nou, Fasie,” spot die diere, “laat ons verdwyn! Ons wil onsigbaar wees!”

“Wag net ʼn bietjie,” mompel Fasie onseker. “Ek moet net my towerhoedjie op my kop balanseer, my towerstokkie in my linkerhand hou en my woorde onthou, dan wys ek julle.”

Fasie hou sy towerstokkie styf vas en konsentreer om sy towerhoedjie op die punte van sy twee ore te balanseer. Hy loer gou in sy groot towerboek, swaai sy geel towerstok ʼn paar keer in die rondte en sê die volgende woorde:

“ABRA GEDABRA, age ek bedoel, ABRA KEDABRA… eh….. ABRA KEDEBRA, ALMAL VERDWYN!”

Fasie se woeste geswaaiery help niks nie. Sy towerhoed sak tot laag oor sy oë, sodat Fasie niks kan sien nie. Dit is stikdonker in die grot, maar nog donkerder aan die binnekant van Fasie se hoedjie.

Fasie skud sy kop ʼn paar keer.  “Dit werk, dit werk,” skree hy opgewonde, al die diere het verdwyn, hulle is almal weg!”

Die diere lê soos hulle lag.

“Fasie, Fasie!” skree hulle, waar is jy?”

“Ek is hier,” sê Fasie, “julle is daar. Ek het julle weggetoor, fiemies en klaar!”

“Ons is nie weg nie, Fasie, ons is hier! Dit is jy wat weg is!”

“Is nie, is nie! Ek is hier. Ek is hier!”

“Fasie, jy het jouself weggetoor! Jy sit aan die binnekant van jou hoedjie vas en jy kan kan nie buitetoe sien nie.”

“ABRA GEDABRA, age… ek bedoel, ABRA DABRA… eh… ABRA KEDEBRA, ALMAL VERDWYN! probeer Fasie weer en hy swaai sy towerstokkie ront en bont.

“Fasie, Fasie, jy het verdwyn!” jil die diere. “Jy is heeltemal onsigbaar.”

“Is nie! Ek is hier,” roep Fasie flou. “Onder my hoedjie! Ek sit vas en ek kan niks sien nie. Help my.”

Die diere in die grot vat Fasie se geel towerstokkie en lig sy hoedjie daarmee op. Ewe skielik kan Fasie weer bietjie sien en hy kyk met verwondering na al die diere om hom.

“Sjoe,” sê Fasie verlig, “ek is so bly om julle weer te sien. Ek sal in my lewe nooit weer vir julle wegtoor nie. Ek is nou sommer klaar met die toordery en ek wil ook nie meer ʼn towenaar wees nie.”

“Dankie, Fasie,” lag die diere. “Dankie dat jy ons nie weer gaan laat verdwyn nie. Ons hou van jou grot en ons wil graag bly.”

“Ek gaan sommer nou dadelik my toorstokkie en my toorhoedjie weggooi,” brom Fasie vies, terwyl hy sy towernaarskleed uittrek. “En ek wil ook nie meer ʼn towenaar wees nie.”

“Maar hoekom nie, Fasie? Hoekom nie?”

Fasie vroetel met sy tone in die sand en kyk skamerig vir al die diere in die grot, wat angstig na hom sit en kyk.

“Want towenaars het nie vriende nie. En ek het my vriende nodig, omdat ek lief is vir hulle. Sonder vriende is ek brandarm, net soos ‘n kerkmuis.”

– – – – – –