red fox on the hole,watching  vector illustration

In die middel van die winter stap oom Leeu en sy lyfwag Jakkals deur die digte bosse van die Oos Vrystaat, nie ver van Ficksburg af nie, om waterbuffels te jag. Jakkals is oom Leeu se beste lyfwag en as hulle gaan jag en hy dra hy oom Leeu se swaar geweer, sy verweerde ou knapsak en ‘n emalje koffiekan. Die koffiekan moes altyd saamgaan op jagtogte, want oom Leeu was ‘n opregte Vrystater, baie lief vir sy boeretroos en boerbeskuit.

“Jakkals,” sê oom Leeu streng terwyl hulle deur die bosse stap, “tante Leeu wil biltong maak. Ons moet vir haar ‘n waterbuffel gaan skiet.”

“Ja, Oom. Van waar kom tante Leeu nou weer, Oom Leeu? Waar is sy gebore?”

“‘n Klein dorpie waarvan niemand nog ooit gehoor het nie, Jakkals,” grom oom Leeu. “Tweegrootwaterbuffelsmeteenhaelgeweerskootmorsdoodgeskietfontein.”

‘Jitte! Oom Leeu. Dit is darem ‘n groot naam vir so ‘n klein dorpie.”

“Ja, omdat daar kwaai waterbuffels is. Nou moet ons een van die waterbuffels vir die tante se kospotte skiet.”

“Ja, Oom Leeu,”sê Jakkals onderdanig. “Kan ek net gou my pyl en boog  uit my jakkalsgat gaan haal, om die buffel mee te skiet. Oom Leeu weet mos Oom is nie ‘n baie goeie jagter nie, Oom skiet gewoonlik bietjie skeef en kwes net die buffels. En Oom weet ‘n gekwesde waterbuffel is ‘n gevaarlike buffel. Gaan lees maar PJ Schoeman se storie oor Jetwa die Buffelbul, Oom Leeu. Net-nou net-nou storm daardie gekweste buffel ons en dan moet ek gereed wees om hom ‘n doodskoot met my pyl en boog te gee.”

Oom Leeu grom kwaai. Hy weet hy is nie heeltemal so geletterd soos Jakkals nie, maar hy probeer darem sy Afrikaanse literatuur lees wanneer hy kan, veral vakansies wanner hy bietjie tyd op pote het. “Ja, Jakkals, maak dan gou, jou klein bog. Gaan haal jou pyl en boog.”

Gou-gou is Jakkals weer terug van sy jakkalsgat af, met sy pyl en boog op sy rug en dáár trek hy en oom Leeu die bosse in. Jakkals is baie opgewonde, hy hardloop gelyk in alle rigtings en mik en druk met sy pyl en boog na alles en nog wat.

“Hou nou op om jakkalsdraaie te gooi,” raas oom Leeu kwaai. “Ek sien  baie buffelspore. Gaan loer oor daardie rantjie of  jy iets gewaar.”

Jakkals luiperdkruip op sy maag en toe hy bo op die randjie kom, bespied hy die hele valei op soek na buffels. Jakkals wink opgewonde vir oom Leeu en wys met sy vinger na waar die buffels ‘n paar honderd tree verder, onder die bome staan en wei. Oom Leeu luiperdkruip ook nader en lê versigtig aan met sy haelgeweer. Jakkals korrel gemaak-ernstig met sy pyl en boog, maar loer eintlik met sy een oog om te sien wat oom Leeu doen. Toe die skoot klap, spring Jakkals kiertsregop en hy sien hoe die groot buffelbul teen die grond neerslaan.

Met ‘n jakkalsdraffie hardloop Jakkals soos die wind na die buffel toe. Vinnig trek hy los met sy pyl en boog en skiet ‘n klein pyltjie in die buffel se linkeroog. Toe oom Leeu uiteindelik by die dooie buffel aankom, spring Jakkals opgewonde rond en skree: “Dis mý skoot, Oom Leeu! Ek het op sy linker-oog gekorrel. Dis mý buffel! Ek het hom geskiet!”

“Nonsens, jou klein vabond,” grom oom Leeu vies. “Die buffel het met sy regteroog na ons kant toe gestaan. Ek het hom raakgeskiet. Dit is mý buffel!”

Oom Leeu soek in sy knapsak na sy jagmes om die buffel af te slag, terwyl Jakkals bek-af op ‘n klip sit en kyk.

“Jakkals,” mor oom Leeu, “ek het my jagmes by die huis laat lê. Hardloop en gaan vra vir tante Leeu waar is my mes. Toe nou, hardloop. Die son sit al laag. Ek sal so lank hier bly om die aasvoëls van die buffel weg te hou.”

Jakkals draf teësinnig die lang pad terug na oom Leeu se plaashuis toe. ‘Leeu is darem ‘n vabond,’ dink Jakkals, ‘hy wil my mos hiet en gebied en maak of ek sy slaaf is. Maar vandag gaan ek daardie leeu ‘n groot poets bak!’

Jakkals draf by ‘n bos verby en skrik hom boeglam toe die wind ‘n bladsy uit ‘n boek by hom verbywaai. Jakkals tel die bladsy op en toe kry hy ‘n blink plan. Jakkals haal sy griffel uit sy knapsak en skryf ‘n lang brief op die bladsy. Toe hy klaar is, teken hy oom Leeu se naam onderaan die brief en sit af na Leeu se plaashuis, waar tante Leeu vir hom wag.

“Naand, Tante Leeu,” sê Jakkals skelm. “Tante, ons het nog niks buffels geskiet nie en ons is baie vêr van die huis af. Oom Leeu het my gestuur om te sê dat ons sal vanaand maar daar moet slaap. Oom Leeu het my beveel om kos te kom haal, omdat ons honger is. Hier is sy brief.”

Jakkals is stout, want hy weet alte goed dat tante Leeu nie kan lees nie. Hy maak of hy die brief wil oorhandig, maar sy sê: “Ag Jakkals, lees ‘n bietjie wat daar in die brief staan, ek het my bril verloor, ek kan nie lees nie.”

Jakkals vou die brief  plegtig oop en begin kastig voorlees: “Vrou, dit is Leeu hier. Gee vir Jakkals al die kos in ons huis, ek is baie honger.”

Wat! Alles! Daar bly dan byna niks oor nie,” kla tante Leeu toe sy teësinnig ‘n stuk wors vir Jakkals gee.

Jakkals lees plegtig verder uit die brief: “Gee vir Jakkals ook al ons spek, ek is baie honger.”

“Wat!”sê tante Leeu onthuts. “Jy het dan al klaar die wors, Jakkals! Waarvoor wil oom Leeu my lekker spekkies ook hê?”

“Nee ek weet nie, Tante, antwoord Jakkals skelm onder sy wenkbroue deur. “Oom Leeu is seker baie honger. Tante weet as hy honger is, kan hy byna iets oorkom, so kwaad word hy.” Tante Leeu gee vir Jakkals die spek en Jakkals stop dit in sy sak.

“Ek dink dis al, Tante Leeu, “sê Jakkals tevrede. Skielik val Jakkals se oog op nog iets in die huis en haastig sê hy: “O, jitte! Tante, hier agter op die brief staan nog iets. Tante moet die varkboudjies ook gee.”

“Maar jok jy nie, Jakkals?” vra tante Leeu kwaai. “Jy dra al my kos weg.  Waar staan dit op die brief?”

“Kyk hier, tante,” sê Jakkals en wys na die gekrap agter op die papier. “P-o-r-k  C-h-o-p-s.”  Dit is die varkboudjies. Tante weet, toe oom Leeu klein was, was daar net Engelse skole in die Vrystaat. Hy skryf nie baie goeie Afrikaans nie.”

“Nou-ja, sê tante Leeu nors, “vat dit en loop! Sê vir Leeu hy moet vir my ‘n buffel, ‘n koedoe en ‘n rooibok bring, want my kospotte is leeg!”

“Ja tante. Goed tante. Totsiens tante,” sê Jakkals onderdanig en maak dat hy wegkom met sy sak vleis, reguit na sy gat toe. Toe hy by sy jakkalsgat kom, skreeu hy vir sy vrou en kinders: “Kom, kom, hier’s baie kos! Wat wil julle hê, wors, speenvark of tjops?” Dit was nie lank nie, toe sit Jakkals en sy hele gesin om die kampvuur en hulle eet al tante Leeu se vleis op.

Intussen sit arme oom Leeu in die koue by die dooie buffel, maar al wat terugkom is Jakkals. Hy stap naderhand uit frustrasie die rantjie uit en brul kliphard: “Jakka-a-a-a-ls!”

Jakkals hoor hoe oom Leeu is die verte grom en brul, maar hy steur hom nie daaraan nie. “Laat hom brul,” sê Jakkals en vryf voldaan oor sy vol ronde magie. “Hy wil my mos ‘n klein karnallie noem.”

Naderhand is oom Leeu so ongeduldig en woedend dat hy nie langer kan stilsit nie. Met sy skerp tande en kloue skeur hy twee boude van die buffel af, gooi hulle oor sy skouer en stap huis toe in die donker. Toe hy moeg by die plaashuis aankom, smyt oom Leeu die twee boude neer en vra vir sy vrou: “Waar is daardie klein vabond van ‘n Jakkals? Ek het hom al ure gelede gestuur om my mes te kom haal om die buffel mee af te slag.” Tante Leeu skrik haar voorskootpante boeglam vir oom Leeu.

“Maar hy is nie hier nie,” stotter sy verbaas. “Hy was ure gelede hier en hy is weg met al die vleis!”

“Wat!” Oom Leeu is sò kwaad, hy brul sy wind uit. “Jakkals was klaar hier,” verduidelik tante Leeu benoud. “Hy het ‘n brief by hom gehad, wat sê dat jy eers môre terugkom en dat jy baie kos wil hê omdat jy so honger is. Kyk hoe leeg is my huis. Jakkals het al die vleis hier weggedra.”

“So ‘n klein karnallie! Wag net tot ek hom in die hande kry, dan sal ek wors van hom maak!” Oom Leeu stap buite-toe en laat waai met ‘n geweldige brul wat die aarde laat dreun. Toe Jakkals hom hoor, bewe sy broekspype onder in sy jakkalsgat. Na ‘n rukkie hoor Jakkals niks verder nie en hy gaan lê lekker in die sonnetje, trommeldik van al die vleis.

Maar oom Leeu het intussen tot naby aan die gat gekruip, sonder dat Jakkals hom sien.  Toe gee Leeu ‘n allemintige brul en hier kom hy! Jakkals tjank kliphard van bangeit, gryp sy vrou en kinders aan hul ore, stop hulle in die gat en kruip self in. Maar oom Leeu is net so vinnig en kry vir Jakkals aan die stert beet.

“Nou het ek jou, jou klein karnallie! Nou gaan ek jou ‘n dure les leer!”

Jakkals skop met alle mag teen die kante van die gat vas en tjank:  “Dit is glad nie my stert nie, Oom Leeu!  Ek  sit onder in die gat. Dit is ‘n taaiboswortel wat jy beet het.”

“O nee,” grom oom Leeu, “dit ís jou stert, Jakkals. Ek kan sien daar’s hare aan, dit is jou stert! Ek gaan hom trek en trek, totdat ek jou uit die gat uitkry.”

Arme Jakkals!  Dit voel vir hom of sy  stert gaan afbreek. Hy kry so seer dat hy amper nie kan huil nie. “Nee, nee, oom Leeu stotter Jakkals, “dit is nie my stert nie! As jy my nie wil glo nie, gaan haal ‘n klip en gooi hom op my stert. Ek bedoel boomwortel. Jy sal sien daar kom rooi sap daaruit. Ek sit al lankal onder in die gat, dit is nie my stert nie! Dit is ‘n boomwortel!”

Oom Leeu is sowaar dom genoeg om Jakkals se storie te glo. Hy laat los Jakkals se stert en gaan haal ‘n groot klip. Woerts-warts wikkel Jakkals hom los en hy begin nog ‘n gat grou. Toe oom Leeu terugkom met die klip, gryp Jakkals oom Leeu se stert, ryg hom deur die gat en maak ‘n groot knoop.

“Sien Oom Leeu hierdie stert met die knoop! Dit is myne en Oom kan hom maar hard met die klip gooi!”

Oom Leeu lig die klip hoog op en gooi hom met geweld op sy eie stert neer. Hy los ‘n allemintige brul toe die klip hom op sy stert tref.  “Eina, eina,” brul Leeu, my stert, my stert, my stert is so seer.”

Jakkals lag tot die trane by se oë uitkom.  Toe hardloop hy vinnig weg, die bosse in, voordat Oom Leeu hom weer kan vang.

En tot vandag toe nog, loop elke Vrystaatse leeu met ‘n knoop in sy stert rond.

 –  –  –  –  –  –  –