Poffie

Lank gelede was daar ‘n groot brand in die Vrystaat se grootste populierbos, naby Bloemfontein, net anderkant Virginia, tussen Henneman en Brandfort. Die vreeslike rooi vuur se vlamme het deur droë blare op die grond gevreet, goggas skrikgemaak en op die toppe van die hoë bome rondgedans. Poffie, ‘n plaaslike Vrystaatse pofadder, het lekker op die grond lê en slaap, toe hy skielik die vlamme ruik en sy oë oopmaak om die vuur te sien. Dit was amper te laat, want die vlamme was rondom hom en sy stertjie was aan die brand. Poffie het vinnig probeer wegseil om weg te kom van die vlamme en die hitte af, maar tevergeefs. Maak nie saak watter kant toe hy probeer wegkom het nie, hy was vasgekeer.

Poffie stik nog so van die rook, toe hy ewe skielik die gestalte van ‘n groot Vrystaatse plaasboer sien, wie besig was om die vlamme met ‘n nat sak dood te slaan.

“Boer! Boer!” roep Poffie benoud. “Help my, help my, my stertjie is aan die brand!”

“Verbrand maar, Poffie,” antwoord die boer onbesorg en hy hou aan om die vlamme dood te slaan. “As ek jou help, gaan jy my mos pik.”

“Ek sal dit nog nooit doen nie,” beloof Poffie vroom. “Help my net! My stertjie brand!”

Die groot boer se klein hartjie versag en naderhand kry hy vir Poffie Pofadder jammer. Hy hou die nat sak, waarmee hy die vlamme doodgeslaan het, se bek oop sodat Pofadder kan inseil. Versigtig maak die boer die nat sak toe en dra Poffie weg van die gevaarlike vlamme af. Toe hulle veilig is, maak die boer die sak weer oop, sodat Poffie kan uitseil. Maar net toe Poffie op die koel grond lê, lig hy sy kop op en sê: “A! Nou het ek jou boer, ek gaan jou pik!  Ek’s lankal lus vir jou bloed.”  Pofadder trek sy kop agteroor, bol sy wange en flits sy gesplete tong, reg om te pik.

“Nee, jy kan dit nie doen nie, jy’t dan belowe!”, roep die Boer verskrik. “Poffie Pofadder, jy is ‘n regte slang in die gras!”

“As jy so onnosel wil wees, is dit jou eie skuld,” sê Poffie Pofadder en hy sis gevaarlik.

“Jy kan mos nie so skynheilig wees nie, Poffie! Kom ons hoor eers wat die ander diere hiervan dink, voordat jy my sommer pik.”

“Goed, kom ons hoor by die ander diere”, sê Poffie listig, want hy geniet dit om Boer ‘n bietjie banger te maak.

Daar naby, weg van die vlamme af, wei ‘n koei rustig en die boer besluit om haar mening te vra oor die pikkery.

“Koei, ek het hierdie slang uit die vuur gered en nou wil hy my pik,” kla die Boer.

Koei bekyk eers die boer en toe vir Poffie Pofadder noukeurig op en af. “Koeie moet vreet en melk gee, dit is wat ons doen, elke dag en elke nag. En ‘n slang moet sis en pik, dit is maar wat ‘n slang doen. Neewat. Dit is reg wat Poffie wil doen, boer, hy moet jou maar pik.”

“Ag nee,’ sê Boer teleurgesteld en hy stap weg na sy perd wat langsaan in ‘n kampie gras vreet. “Ek hou nie baie van my koei se antwoord nie, Poffie. Kom ons vra vir my perd ook.’

Perd runnik van lekkerkry toe hy die storie hoor. “Boer, jy prik my altyd met jou kamaste as ek nie vinnig genoeg hardloop nie,” sê hy. “Neewat, ek dink dit sal goed wees as Poffie jou ’n slag bykom. Poffie, jy moet hom maar pik!”

“Hoor jy daar, boer?” sis Poffie Pofadder tevrede. “Kom, laat ek jou maar pik!”

“My koei en my perd hou nie baie van my nie,” sê Boer hartseer. Die Boer is baie treurig omdat almal dink dat hy gepik moet word hy is naby aan moed opgee.

“Ek sorg dan altyd dat julle genoeg kos het en snags warm slaap. Julle diere is almal ondankbaar. Pik dan maar as jy wil pik, Poffie. Jou nare slang.”

Net toe Poffie die boer wil pik, kom Mossieman en Geronkie die donkie verby gedraf. “Wat’s hier aan die gang?” vra hulle nuuskierig toe hulle sien hoe bang die boer lyk.

Boer vertel sy storie aan Mossieman en Geronkie en hy vingerwys na Poffie, wat op die grond lê en kwaai na hom kyk.

Mossieman en Geronkie krap hulle koppe om Boer se storie te verstaan. “Boer was in die sak, toe het Pofadder hom uit die vuur uitgedra,” herhaal hulle die storie aan mekaar.

“Nee, nee,” sê Boer. “Poffie Pofadder was in die sak, ek het sy bas gered!  Ek het hom uit die vuur gedra.”

Nou is Mossieman en Geronkie heeltemal deurmekaar. “Maar hoe kon Poffie in die sak gewees het? Die sak was dan aan die brand.”

“Julle is verspot, julle twee!,” roep Pofadder verontwaardig uit. “Die bos was aan die brand! Toe het Boer my by die sak laat inseil en my uit die bos uitgedra.  Maar dit is geskiedenis, nou wil ek hom pik.”

“O, die bos was aan die brand en toe het die boer by die sak ingeseil,” korswil Geronkie weer. “Nee, die bos was in die sak en toe het Pofadder…” Mossieman skud sy kop. ‘Dit spyt ons, Poffie, ons verstaan nie, jy praat ons heeltemal deurmekaar. Jy sal maar moet demonstreer wat gebeur het.”

‘Nou maar goed, ek sal julle gaan wys,’ sê Poffie Pofadder boos. “Julle mors net my tyd! Ek is baie lus om vir Boer te pik.” Pofadder glip sy dik voorlyf by die sak in, tot net sy stertjie uitsteek. “Sien jy nou?” roep Poffie van binne af, maar Geronkie spring vinnig vorentoe, gryp die sak en trek die bek toe. Mossieman lag lekker uit sy magie uit en sê: “Nou is alles weer soos dit was! Poffie is binne in die sak. Vat die sak, Boer en sorg dat Pofadder jou nooit weer om die bos lei nie.”

“Help! Help!” skree Poffie benoud in die sak. “Dit is donker hierbinne! Laat my uitkom, laat my uitkom!”

“Dit sal nie gebeur nie,” sê Boer tevrede. “Baie dankie, Mossieman en Geronkie, julle is regte egte Vrystaters, lojale Cheetah-ondersteuners en ware here.”

Baie dankie, Boer, mooi loop” sê Mossieman en Geronkie en hulle draf sterte-in-die-lug daar weg.

“Help!  Help!” skree Poffie Pofadder weer binne in die sak. “Laat my uitkom, laat my uitkom!”

“Jammer ou Poffie, ek hoor niks nie,” spot die boer. “Die vlamme en die vuur en die rook het my stokdoof gemaak!”

*