Foodler

“Ek is nou heeltemal intellektueel uitgeput,” kla Mossieman teenoor sy boesemvriend, Geronkie die donkie, terwyl hulle langs die magtige Sandrivier in die pragtige Vrystaat stap. Dié twee stoere Vrystaters (en lojale Cheetah-ondersteuners), is al jare lank vriende en hulle deel gewoonlik hul diepste geheime met mekaar. Mossieman vee met sy poot oor sy voorkop en sug diep. “Eksamens is darem vir jou ʼn ander ding, ‘n volksvreemde gewoonte.”

“Kom ons sit hier onder die wilgerboom langs die rivier, dan vertel jy my alles, Mossieman.” Geronkie kyk besorg na sy vriend, bekommerd dat intellektuele uitputting dalk aansteeklik kan wees.

“Wel,” sê Mossieman terwyl hy hom gemaklik in die skaduwee sitmaak, “ek skryf eksamen om my matriek te kry.”

“Wat wil jy met matriek maak,” vra Geronkie nuuskierig en hy balk kliphard, net sodat die diere van die bos kan onthou dat hy ʼn donkie is en dat hulle moet bang wees vir hom.

“Sodat ek dinge beter kan verstaan.”

“Soos wat?”

“Wel, sê Mossieman, “een van die moeilikste vrae wat hulle gevra het; kan jy ʼn reguit streep met ʼn skewe liniaal kan trek.”

“Maar dis maklik, sê Geronkie en hy trek ʼn lekker geelwortel nader, “enigiemand kan ʼn skewe streep met ʼn reguit liniaal trek.

“Seker waar,” sug Mossieman, “maar dit was moeilik vir my. Niemand het ʼn vinger veroer om my te help nie.”

“Hoekom.”

“Wel, die liniaal was nie heeltemal reguit nie, hy was ʼn bietjie krom. Ek het my vingers verbrand, ek sal vir my ʼn nuwe liniaal moet koop.”

“Wat nog,” vra Geronkie en hy knaag lustig aan sy geelwortel.

“Wiskunde,” sê Mossieman mismoedig en hy sug diep en lank.

“Optel en aftel?”

“Op en af. Hulle wou weet hoeveel vingers ek aan my linkerhand het, en hoeveel vingers aan my regterhand. Toe moes ek my twee hande se vingers bymekaartel, om die totaal te kry. Ek het amper my vingers verbrand met die antwoord.”

“Tja …” sug Geronkie besorg. “Dit is nou ‘n ingewikkelde storie. Ek weet nie baie van Wiskunde af nie, maar ek raai tien vingers altesame.”

“Dit is verkeerd,” sug Mossieman. “Ek het eers ook so gedink, toe skryf ek tien.”

“Nou maar, Mossieman, wat is die regte antwoord?”

“Elf.”

“Elf vingers?  Elf altesame?”

“Ja.” Mossieman tuur die verte in, asof hy die antwoord in die Vrystaat se mooi vlieswolkies gaan kry. “Jy begin by jou linkerhand. Begin bo, tien, nege, agt, sewe, ses. Nou het jy almal getel. Ses, tot by ses. Tien, nege, agt, sewe, ses.”

“Reg so,” sê Geronkie verwonderd en hy hou sy vingers stip dop, maar hy volg nie heeltemal nie.

“Ses.”

“Nou die ander hand, jou regterhand. “Een, twee, drie, vier, vyf – altesaam vyf.”

“Reg so,” sê Geronkie en hy bestudeer sy pote se vingers. “Vyf.”

“Wat het ons aan die ander kant gekry?” vra Mossieman.  “Ek het ʼn bietjie vergeet.”

“Ses.”

“Ja, ses. Dit is reg. Jy neem nou daai ses, endie vyf wat ons aan die ander hand gekry het en jy tel hulle op.”

“Ses plus vyf?”

“Dis reg, ja, ses plus vyf.”

“Dis elf,” sê Geronkie, trots omdat hy so vinnig die antwoord kon uitdink.  “Ses plus vyf is elf.”

“Dis reg” sug Mossieman, “ses plus vyf is elf. Dit beteken dat ek elf vingers het, as jy alles aan altwee hande bymekaartel.”

“Elf vingers is darem baie,” sê Geronkie verwonderd en hy begin tel hoeveel geelwortels hy oor het om te eet.

“Elf vingers,” se Mossieman, “Dit is geen wonder dat mense so baie met hulle hande beduie as hulle praat nie.”

“En linkerhande weet nie altyd wat regterhande doen nie.”

“Dit is waar, Geronkie” sê Mossieman. “Dit wys jy nou net, hierdie hele storie om matriek te skryf, moet vir ons almal ʼn vingerwysing wees. Dit is ʼn moeilike storie. Mens kan amper jou vingers verbrand.”

Geronkie sit sy linkerpoot vertroostend om Mossieman se skouer om hom bietjie te troos. “Gelukkig is ons nie mense nie, Mossieman, ons is maar net diere van die Vrystaat, met of sonder matriek.”

_ _ _ _