olikrokkie

Mossieman, die slimste mossie in die hele Vrystaat en sy boesemvriend Geronkie die Donkie, die stoutste donkie in die hele Vrystaat, ontspan eendag rustig langs die magtige Sandrivier naby Virginia.  Virginia is ‘n klein Vrystaatse myndorpie, met groot grys mynhope soos Egiptiese piramides en ronde watertenks en plat koekepanne wat langs die mynskagte ry, om goud en uraan onder die grond uit te bring.  Nét die beste, slimste en aantreklikste diere, soos Mossieman en Geronkie (en somtyds mense), mag grond in Virginia besit en permanent daar bly.

Mossieman en Geronkie verkyk hulle een middag aan al die diere wat by die Sandrivier, nét so voor sononder, kom water drink; groot diere en kleintjies, vettes, maeres, langes, kortes en koddiges.  Diere met groot ore en klein ogies, kort bene en veresterte, met krom bobbejaan-arms en lang neuse – almal het elke dag kom water drink.

Die diere staan reguit in ‘n ry by die rivier, omdat die koning van die diere, Mossieman, ‘n dekreet uitgereik het dat die waterdrinkery elke dag ordelik en netjies moet geskied.  Niemand mag voor in die ry indruk nie en niemand mag die water mors nie, want water in die Vrystaat is baie skaars en kosbaar.  Die meeste riviere in die Vrystaat het nie krane wat jy kan oop of toedraai nie, daarom moet almal help om water te spaar.

“Kyk al die diere, Mossieman,” sê Geronkie verwonderd, terwyl hulle so onder die groen wilgebome sit en alles gade slaan.  “Daar is Bobbie Bobbejaan, Spinnie Spinnekop, die Magtige Mier, Hannibal die Hoenderhaan, Ollie Olifant, Mys die Muis…te veel om op te noem.  Kyk net al die diere wat kom water drink, te mooi vir woorde.”

Net toe sien Geronkie ‘n groen diertjie naby die water, met vier kort bene en ‘n lang stert wat van links na regs op en af swaai. Die groen diertjie het ‘n lààng tong, wat soos ‘n hoender se wensbeentjie lyk en elke nou en dan vinnig by sy bek uitspring.  Angstig tik Geronkie vir Mossieman met sy wysvinger op sy verepoot. “Kyk daardie snaakse groen krokodil, Mossieman!  Kyk hoe groot is hy!  Kyk hoe lank is sy stert!”

Mossieman sit rustig op die wal, sy linkertoon in die rivierwater om die temperatuur te meet.  Hy loer so met sy een oog na die vreemde groen diertjie.

“Dit is nie ‘n groot krokodil nie, Geronkie, dit is ‘n likkewaan,” sê Mossieman alwetend.  “Krokodille is reptiele met horingskubbe wat ander diere met hulle sterte slaan.  Daardie outjie is ‘n groen likkewaan.  Hy is een van die grootste en kwaaiste diere in die hele diereryk en sy tong lyk net soos ‘n swart slang met twee koppe.  Mens sukkel nie met krokodille of likkewane nie, hulle eet jou sommer op!”

“Gelukkig is ek ‘n dier en nie ‘n mens nie,” stotter Geronkie verbouereerd.

Mossieman en Geronkie die Donkie kyk bangerig hoe die likkewaan by hulle verbywaggel.  Sy vier kort bene trap-trap op die rivier se wal en hy gaan sit op sy hurke, om water uit die Sandrivier te slurp. Die likkewaan se stert is só lank dat hulle nie sy einde kan sien nie, en hy is vol groen kubbe.

“Geronkie,” sê Mossieman skelmpies, “ek het gehoor dat daar nog ‘n dier in die Sandrivier is wat kwaaier en meer skrikwekkend is as ‘n groen likkewaan. Dit is ‘n Olikrokkenosterbobbefantelikedil!”

“’n Olikrokkenosterbobbefantelikedil!  Agge-néé man, Mossieman, daar is mos nie so ‘n ding nie.”

“Dit is waar, Geronkie! Daardie Olikrokkenosterbobbefantelikedil het al baie mense gevang wat in die Sandrivier rondswem!  Veral mense wat nie hul swembrille of swembroeke dra nie.  Hy het hulle aan die een been beetgekry en in die water ingetrek.  Dan eet hy hulle op!”

“Hoe eet hy hulle op?” vra Geronkie agterdogtig.  Hy hou nie van die gedagte dat ‘n Olikrokkenosterbobbefantelikedil sy been opeët nie.

Mossieman dink so bietjie.  “Hy eet jou stukkie vir stukkie op, amper soos jy braaivleis eet.”

“Stukkie vir stukkie?”

“Ja Geronkie, met sout.  Jy sien, die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is daardie groen likkewaan wat ons gesien, het, se oupa.”

“Sy oupa?”

“Ja, en sy ouma was ‘n piranha.”

“’n Piranha!” Geronkie die Donkie loer bangerig om hom rond en haal sy een toon versigtig uit die water.  Hy wil nie hê dat ‘n piranha sy toon afbyt nie, want dan kan hy nooit weer plakkies dra nie.

“Ja, hier is nogal baie Olikrokkenosterbobbefantelikedille in die Vrystaat.  Mens moet net mooi kyk, dan sien jy hulle net so onder die water se oppervlakte.”

“Nou is ek sommer baie bang,” kerm Geronkie benoud en haal sy ander toon ook uit die water uit. Geronkie hou van sy tone, hy wil nie juis hê dat die Olikrokkenosterbobbefantelikedil een van hulle moet eet nie.

“Mossieman?” vra Geronkie die Donkie versigtig, “dink jy ons moet die Olikrokkenosterbobbefantelikedil probeer vang?”

“Vang? Vang?  Hoe dink jy moet ons so ‘n groot ding vang?  Hoekom wil jy hom vang?  Hy gaan ons mos opeët, Geronkie!”

“Kom ons maak ‘n plan,” laat Geronkie onnutsig van hom hoor en hy loer versigtig na die magtige Sandrivier se kant toe.  Geronkie was nog altyd stouter as wat hy bang is.

“Ek het ‘n plan,” sê Mossieman slim, “ek dink ek weet hoe om hom te vang.”

“Ek weet nou nie meer so mooi nie, sê nou net hy wikkel hom los en eet ons op?”

“Kom Geronkie, volg my,” sê Mossieman hulle stap af water toe waar die Olikrokkenosterbobbefantelikedil, stert in die lug, al in die rondte swem. Hy loer met sy skraal geel ogies na Mossieman en Geronkie en wonder hoe hulle sal proe.  Dit is nou as hy hulle kan vang en opeët.

“Olikrokkenosterbobbefantelikedil!” roep Mossieman die groot gedierte nader.  “Is jy honger?”  Geronkie die Donkie is só bang dat sy broek bewe.  Hy kruip verskrik agter Mossieman se broekspype weg.

“Ja,” knik Olikrokkenosterbobbefantelikedil met sy groot kop en maak sy kake wawyd oop om te wys hoe honger hy is.  Al die diere in die Vrystaat kan sy skerp tande en kleintongetjie agter in sy keel sien.

“Ja,” knik Olikrokkenosterbobbefantelikedil gulsig en hy soek rond vir iets om te byt.

“Het jy al ooit daardie lekker vet blink vis gesien wat die hele tyd agter jou aanswem?  Hy lyk net soos jou stert, net blinker en vetter en hy smaak sò lekker.  Dit is nou as jy hom kan vang.”

“Soos my stert?” vra die Olikrokkenosterbobbefantelikedil nuuskierig.  Hy rek sy nek om te kyk of hy iets agter hom sien, iets wat net soos sy stert lyk.

“Ja, net soos jou stert!  As jy vinng omswaai, dan behoort jy daardie lekker blinkvis met een groot hap te vang!”

“Rèrig!”  Olikrokkenosterbobbefantelikedil swaai sy kop vinnig om na sy stert se kant toe en maak sy bek wawyd oop vir ‘n paar oefenhappe.  Sy kake en sy tande klap kliphard soos hy oefen om te byt.

“Ek sal vir jou skree as jy moet hap, Olikrokkenosterbobbefantelikedil! Onthou, as jy eers daai lekker vet blinkvis in jou kake het, moet jy nooit weer los nie!  Akkoord!”

Mossieman en Geronkie die Donkie gaan sit versigtig op die wal.  Net toe die Olikrokkenosterbobbefantelikedil by hulle verby swem, skree hulle: “Daar’s hy! Olikrokkenosterbobbefantelikedil!  Daar’s hy, reg agter jou!  Byt hom!  Byt!”

Olikrokkenosterbobbefantelikedil sien die lekker vet blinkvis hier kort agter hom en hy maak sy kake wawyd oop en …. HY BYT!  Sy kake klap soos ‘n slagyster toe en hy byt die blinkvis amper middeldeur.

“Daar’s hy, krokkie!  Dit is reg!” skree Mossieman en Geronkie die Donkie gelate vir Olikrokkenosterbobbefantelikedil wat sy eie stert byt.  Hy byt met mening vas en knaag so hard as wat hy kan.

“Moet nie dat hy loskom nie!  Jy het hom!  Byt hom! Moenie laat los nie!”

Olikrokkenosterbobbefantelikedil byt vas vir al wat hy werd is.  Hy klem sy kake en hy swem in die rondte om te keer dat die lekker vet blinkvis wegkom.  ‘Ek sal hom later eet,’ dink hy en byt sy tande dieper in die vis se lyf.  Dit pyn so bietjie, maar die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is vasberade om die lekker blinkvis nie te laat wegkom nie.

“Sleep hom uit op die wal!” skree Mossieman en Geronkie die Donkie en hulle skaterlag dat die Sandrivier se biesies bewe.  Olikrokkenosterbobbefantelikedil het homself aan die stert beet en hy spook verbete om sy stert by die wal uit die sleep.

“Dit lyk of die blinkvis wil wegkom!”  Mossieman en Geronkie lag te lekker terwyl hulle wegstap.  “Moet nie laat los nie, krokkie!  Byt vas!” skree hulle vir oulaas.

Die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is vasberade en honger en hy los nie sy eie stert nie.  Hy byt al hoe harder en spartel en hy slaan bollemakiesie uit die rivier uit, net soos ‘n wiel.  Teen die heuwel af en daar trek hy, sy stert stewig in sy kake vas.  Die  Olikrokkenosterbobbefantelikedil slaan kop-oor-stert, kop-oor-stert en hy rol en hy rol in die pad af, totdat Mossieman en Geronkie later net ‘n stofwolkie in die verte sien verdwyn.

En van daardie dag af, het niemand in die hele Vrystaat ooit weer ‘n Olikrokkenosterbobbefantelikedil gesien nie.

*

Storie-idee deur Ninon Panda Fourie