New new ghost

“Het jy al ‘n perd se stert getrek, Mossieman?”

Geronkie loer onderlangs na Mossieman en sien dat sy boesemvriend diep dink.  Hy hou daarvan om Mossieman se siel uit te trek, veral as Mossieman sit en dink en aan sy lekker Vrystaatse striksvye proe-proe.  Dit was misreëntjie-aand in die Vrystaat en die dowwe maan het net-net agter die donker wolke uitgeloer. So nou en dan kon mens hoor hoe ‘n wolf treurig in die maanlig sit en huil omdat jakkals sy kos gesteel het.

“Nee,” sê Mossieman stadig, “maar ek het al ‘n spook se stert getrek!”

“’n Spook? Nee wat, Mossieman, nou praat jy lààng stories. Spoke het mos nie sterte nie!”

“O ja hulle het! Ek het al een gesien.”

“Rêrig? Jok jy nie nou vir my nie, Mossieman?” mompel Geronkie bangerig en hy loer agterdogtig oor sy skouer. “Spoke het mos nie sterte nie, man. Of het hulle?”

“In die Vrystaat het hulle,” sê Mossieman in ‘n lae fluisterstem.

Geronkie se oë word al hoe groter en hy loer na die donker maan agter die grou wolke.

Mossieman vat saggies met sy poot op Geronkie se skouer en sy stem word al hoe sagter.

“Daardie spoke in die Vrystaat is baie slim spoke, Geronkie. Hulle maak net kinders bang wat self bang wil wees.”

“Is dit waar?” vra Geronkie en hy voel ‘n krieweling langs sy rugraat afloop, amper soos ‘n yskou straaltjie water. “Wat van kinders.”

“Veral kinders,” fluister Mossieman geheimsinnig.

“Maar waarom Mossieman?” vra Geronkie benoude boude.

“Want kinders smaak so lekker.”

Geronkie skrik en sit sy pote oor sy oë.  “Nee man, Mossieman, spoke eet tog nie kinders nie!  Agge nee, Mossieman.  Eet spoke dan kinders?”  Geronkie is só bang dat hy sy oë toedruk en net effens deur sy vingers loer.

“Nie àlle kinders nie,” antwoord Mossieman geheimsinnig, “net die stoutste kinders.”

‘Hoekom eet spoke net stout kinders, Mossieman, en nie soet kinders nie?”

“Want stout kinders smaak lekkerder as soetes.”

Geronkie kry so ‘n siddering langs sy rugraat af en dit voel vir hom asof ‘n koue windjie onder sy donkie-ore waai.

“En… en… eet spoke net die stout kinders op?”

“Ja,” beaam Mossieman.  “Die spoke gooi so bietjie sout by om die stout kinders lekkerder te laat smaak.”

“M…Mossieman,” bewe Geronkie se stemmetjie en hy sidder, “hoekom het jy dan die spook se stert getrek?  Was jy nie bang hy eet jou op nie?”

Mossieman loer om hom rond en fluister in sy sagste stem: “Jy moet net wag vir die regte oomblik om ‘n spook se stert te trek, Geronkie.  Anders kom hy agter wat jy doen en dan eet hy jou dalk lewendig op.”

“M .. maar .. hoe weet jy wat die regte oomblik is, Mossieman?” vra Geronkie bangerig.  “Hoe weet jy die spook gaan jou nie sien en opeët nie?”

“Jy moet wag tot middernag,” fluister Mossieman geheimsinnig. “Dan staan jy by die hek van die begraafplaas totdat al die spoke uitkom.  Nes die laaste spook verykom, dan gryp jy hom aan sy stert!”

“M…maar waar gaan die spoke dan nà middernag heen, Mossieman?”

“Hulle kom hiernatoe,” fluister Mossieman dramaties, “dan soek hulle deur al die huise om die stout kinders te kry.”

“En as jy die spook se stert by die hek van die begraafplaas trek?”

Mossieman loer geheimsinnig rond en fluister saggies in Geronkie se oor.

“Dan kom hulle eers môre-aand om jou te vang!”

“Boe hoe!”

Geronkie runnik kliphard van die skrik en druk sy oë toe.  Na ‘n rukkie maak Geronkie weer sy oë oop en hy is sommer baie vies toe hy sien hoe lekker Mossieman vir hom lag.

^ + ^ + ^ + ^ + ^ + ^ + ^ + ^