koeikoei

Mossieman en sy boesemvriend Geronkie die Donkie lê eendag plat op hulle rûe, langs die magtige Sandrivier in die middel van die pragtige Vrystaat en kyk na die wolke.

Skape, beeste en bokke, asook ‘n paar hoenders, makoue, eende, papegaaie, mamegaaie, flaminke en poue loop op die heuweltjie rond.  Alles is stil en rustig en die donswolke dryf stadig en asemrowend in die hemel verby.

“Mossieman,” vra Geronkie verwonderd, “hoeveel wolke is daar in die hemel, dink jy?”

“Vier.”

“Vier?” sê Geronkie verbaas.  “Hoe weet jy dit?”

“Ek tel hulle,” sug Mossieman.  Kyk, daar is ‘n korte, ‘n lange, ‘n vette en ‘n ronde een.”

Net toe kom daar ‘n lang man met ‘n groot maag en ʼn allemintige snor verby.  “Ek is die Stadsekretaris,” sê hy belangrik.  “Kan een van julle karnallies vir my sê hoe laat dit is?”

“Ja Meneer,” sê Mossieman en hy spring blitsvinnig op aandag.  “Ek weet hoe laat dit is, meneer.  Kom, laat ek jou wys.”

Mossieman, met Geronkie en die belángrike Stadsekretaris agternà, draf teen die heuweltjie uit en trek die naaste Vrystaatse koei nader.

“Kom koei, kom staan hier, ” praat Mossieman saggies met die koei.  “Ek wil sien hoe laat dit is.”  Die koei staan ewe gehoorsaam nader en kyk gedweë met haar twee groot skaapoë na Mossieman.  Sy wonder wat beduie Mossieman só met sy pote.

Mossieman gaan staan langs die koei, plant sy een been aan die linkerkant, sy ander been aan die regterkant en lig die koei se stert op.

“Wat maak jy?” vra die Stadsekretaris agterdogtig.

“Nee Meneer, ek kyk net hoe laat dit is,” sê Mossieman verskonend.  Hy tuur so ‘n rukkie met groot konsentrasie die verte in en toe laat los hy die koei se stert.

“Dit is nou kwart voor tien,” verklaar Mossieman plegtig.

“Gedorie!” sê die Stadsekretaris verbaas en rek sy oë. “Dit is nou wraggies ‘n fantastiese koei.  Ek is beïndruk!  Ek het nog nooit gesien dat ‘n mens ‘n koei gebruik om te sien hoe laat dit is nie.”

“Ek is nou nie eintlik ʼn mens nie, Stadsekretaris, maar dit is ʼn wonderlike koei!  ‘n Eksentrieke koei, Stadsekretaris, uniek, buitengewoon, seker die slimste koei in die hele Vrystaat.”

“Dankie vir die demonstrasie, Mossieman.  Wag julle twee hier, ek gaan die Burgemeester roep om na hierdie wonderlike koei te kom kyk.”

“Dit is reg só, meneer, ons sal hier wees,” glimlag Mossieman en hy kyk onderlangs na Geronkie wat grinnik van die lag.

Mossieman en Geronkie gaan lê weer lui op die gras en kyk weer na die wolke.  “Mossieman, jy moet ophou om só die draak te steek met die mense!  Jy gaan ons in die moeilikheid laat beland!  Veral met die Stadsekretaris en die Burgermeester!”

“Ag nee wat, Geronkie,” sug Mossieman behaaglik op sy rug en kyk vir die wolke.  “Die lewe hier in die Vrystaat is mos ‘n plesier, mens moet soveel poetse bak as wat jy kan!”

So ‘n rukkie later kom die belangrike Stadsekretaris weer terug, met ‘n opgewonde ronde Burgemeester agternà.  Hulle raas en blaas van opwinding en  altwee is bloedrooi in die gesig.  Die Stadsekretaris se snor bewe van pure opgewondenheid.

“Hier is die Burgemeester!” hyg die Stadsekretaris.  “Ek het hom van julle koei vertel.  Ons het so gou as moontlik gekom, sodat die Burgemeester die wonderlike koei self kan sien.  Kyk daar Burgermeester, daar is die wonder-koei!”

“Môre manne,” sê die Burgemeester uitasem. “Wys vir my hierdie slim koei en sê sommer vir my ook hoe laat dit is.”

“Aangename kennis, Burgemeester,” sê Mossieman onderdanig. “Ja, Burgermeester.  Kom staan net hierdie kant van die koei, dan wys ek vir jou.”

Mossieman gaan staan weer langs die koei, plant sy linkerbeen aan die eenkant en sy regterbeen aan die anderkant en lig die koei se stert op.

“Burgermeester,” verklaar Mossieman plegtig, “dit is nou presies tienuur.”

“Allemiskie!,” sê die Burgemeester beïndruk. “Dit is ‘n wonder-koei!  Hoeveel geld wil jy vir haar hê?”

“Burgemeester,” antwoord Mossieman onnutsig, “ek is vandag in ‘n baie goeie bui, jy kan my net R500 vir die koei betaal.”

“Uitstekend,” sê die Burgemeester en hy gee die Stadsekretaris opdrag om R500 aan Mossieman te betaal.  Die Burgemeester en die Stadsekretaris vat die koei en daar loop hulle terug dorp toe, angstig om die wonder-koei aan die res van die burgers te wys.

“Ai, Mossieman,” sê Geronkie, “jy is baie stout.  Hoe het jy geweet hoe laat dit is?”

“Nee kyk, Geronkie” sê Mossieman in sy noppies, terwyl hy die R 500 in sy sak steek.  “Dit is maklik.  As jy so langs die koei staan en haar stert oplig, dan kan jy die dorp kerktoring baie mooi van hier af sien.  Die groot horlosie op die kerktoring wys jou presies hoe laat dit is.  Tienuur lui die kerkklok, dan weet jy boonop jy is reg.”

“Mossieman, jy is darem onhebbelik stout!  Daardie Burgemeester gaan net-nou uitvind jy het hom om die bos gelei en hy gaan terugkom om jou op te dons!”

“Nèèwat Geronkie,” sê Mossieman laggend. “Kom ons gaan swem in die dam.  Ons het die Burgermeester darem ‘n lekker streep getrek!”

“Mossieman, waarom lag jy nou só lekker?” vra Geronkie terwyl hulle met ‘n grondpaadjie afstap plaasdam toe om te gaan swem.

“He-he-hê” lag Mossieman heerlik uit sy magie uit.  “Die burgermeester het my R500 vir die koei betaal.  En weet jy wat, Geronkie?”

“Nee, wat Mossieman?”

“Dit was nie eers my koei nie.”

^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^^