Henna

In die Vrystaat langs die pragtige Sandrivier is daar baie hoenders, kuikens, en hane,  veerpoothoenders en henne met kuikens.  Daar was egter nie baie hane met kuikens nie.  Gewoonlik loop hoenders in die Vrystaat met bosse vere rond – fraaie veredosse van groen en geel en rooi, wat die hane en henne deftig in allerhande reënboogkleure tooi.

In die Vrystaat was daar ‘n hennetjie met ‘n pragtige veredos waarmee sy loop en spog.  Haar naam was Henna en haar vere-tooi was net so aanvallig en mooi soos die hane se rooi.  Henna die Hennetjie het elke dag met haar veredos hoog in die lug rondgeloop en wurmpies en springkane en muggies gevang, wat sy dan versigtig weggebêre het om later te eet.  Henna was maar ‘n valerige hennetjie voordat sy haar ekstra vere gekry het.  Van die hoenders in die Vrystaat was jaloers op haar, want hulle het nie heeltemal geweet hoe Henna haar veredos gekry het nie.  Dit was ‘n groot geheim.

Henna het naderhand ‘n hele spens van goggatjies en muggies en kossies gehad – só baie kos dat sy dit nooit alleen kon eet nie.  “Haai Henna,” het die voëltjies en hoenders haar altyd gespot, “hoekom maak jy die hele tyd so kos bymekaar?  Jy het alreeds baie meer kos as wat jy ooit kan eet, hoekom hou jy nie tog maar op nie?  Kom swem liewers saam met ons in die plaasdam!  Ons kan ons later oor die sewe maer jare bekommer!”

“Nee,” skud Henna die Hennetjie dan maar net haar kop.  “Mens kan nooit genoeg kos in jou spens hê nie.  Die Bybel sê sewe vet jare en sewe maar jare, maar in die Vrystaat beteken maer jare die winter.”  Dan het Henna maar weer geskrop en gekloek-kloek soos wat sy kossies bymekaar pik en in haar spens gaan bêre.  Elke nou en dan het sy opgekyk en geloer na die voëls se pragtige stertvere en gewens dat sy ook sulke mooi vere gehad het.

“Maar ons is nie mense wat kos bymekaarmaak nie, Henna,” korswil die voëltjies.  “Ons is diere.  Ons is ook nie net diere nie, ons is voëls van die hemel.”

“Voëltjies het ook kos nodig vir die winter,” mompel Henna terwyl sy die die hele plaaswerf vol pik-pik om saadjies bymekaar te maak.  “In die somer is daar baie kos, maar in die winter is daar niks nie.”

Die voëltjies het vrolik gekwetter en hul stertvere swierlik rondgeswaai.  Henna was nie jaloers op hul pronkerige veredosse nie (wel, miskien net so ‘n bietjie), maar sy het gedroom en gewens dat sy ook sulke mooi stertvere kon hê.  Die voëltjies se vere was só mooi, groen en geel en blou en pers en klossies van rooi.

“Ons gaan swem, Henna,” kwetter die klomp voëltjies en sweef deur die lug na die plaasdam toe.  Henna het hulle maar net agternà gekyk en dan rustig voortgegaan met haar pik-pik kos-bymekaarmaak.  Sy het té goed geweet die winter aan’t kom is en dat mense (en hoenders) in die somer kos moet bymekaar maak, sodat hulle genoeg kan hê om te eet in die koue wintermaande.  Maar, het Henna die hennetjie heimlik geglimlag, die ander hoenders en voëls gaan my moet betaal as hulle van my kossies wil hê.  Dan het Henna weer hard gewerk en ge-pik-pik om mieliepitte en koringkorrels te versamel.  Haar spens was amper vol, maar daar was altyd spasie vir ‘n bietjie ekstra kossies.

Stadig het die seisoene in die Vrystaat verander, na vroeg-herfs met blaartjies wat al draaiend afdaal grond toe om vir hulle bome totsiens te sê.  Die wilgerbome langs die Sandrivier het rustig van kleur verander, totdat hulle blare nie meer groen was nie, maar geel en oranje en skarlaken-rooi.  Die windjie langs die rivier af het al kouer en kouer gewaai, totdat die winter se eerste kapok in die Vrystaat begin val het.  Die mooie wit kapok het op die randjies van die koppies en berge gaan rus en koue ryp op die mielielande.  Die voëltjies en hoendertjies se kos het al hoe skaarser begin raak en hulle het gesukkel om die mieliepitte en koringare te kry wat onder die kapok weggekruip het.

“Help ons, Henna,” het die hoendertjies naderhand gesmeek.  “Jy weet hoe om kossies in die hande te kry en ons is honger.  Ons gaan dood van die honger, ons het amper hongersnood!”

Henna was nou wel ‘n vaal hennetjie, maar sy was goedhartig en besluit toe om die hoenders en voëltjies te help.  “Goed,” sê sy, “ek sal julle help en vir julle kos uit my spens gee, maar elkeen wat kos by my kry, moet daarvoor betaal met ‘n veertjie.”

“’n Veertjie?  ‘n Veertjie?” het die diere verbaas gevra.  “Maar Henna, hoekom dan ‘n veertjie?  Wat wil jy met al die veertjies doen, ‘n veertjie is niks werd nie!”

“Toemaar, julle sal sien,” sê Henna geheimsinnig.  Betaal julle maar net elkeen met ‘n veertjie, dan sal ek vir julle van my kos gee.”  Die voëltjies was baie honger en het daar en dan elkeen ‘n stertveer uitgepluk en vir Henna gegee.  Toe sy al die hoenders en voëltjies se vere bymekaar gemaak het, gee sy vir elkeen een mieliepit, twee koringkorrels, drie kakkerlakke, vier goggas en vyf springkane om te eet.  Die hoenders en voëltjies was baie tevrede met die lekker kos wat Henna vir hulle gegee het.  Hoewel hulle elkeen ‘n stertveer armer was, het hulle lekker geëet.  Naderhand het Henna so baie stertvere gehad dat sy bokse en papiersakke volgemaak het.  Daar was stertvere net waar jy kyk, en van elke kleur en geur en lengte en grootte onder die son.

Toe al die die hoenders en voëltjies die aand klaar geëet en gaan slaap het, het Henna versigtig voor haar groot spieël gaan staan en haarself op en af bekyk.  Stadig het sy links-om gedraai, en toe regsom, en toe heeltemal in die rondte om haar beeld in die spieël te bewonder.  Versigtig vat sy een van die veertjies wat die hoenders en voëltjies vir haar gegee het, sit ‘n bietjie boomgom aan die stingeltjie en druk die veertjie by haar ander veertjies in.  Henna wikkel die veertjie bietjie dièkant toe, toe daardiekant toe, totdat hy stewig vas sit.

Stadig en pronkering tooi Henna die Hennetjie voor die spieël en elke keer smeer sy nog ‘n bietjie boomgom aan, om nog ‘n veer in haar veredos te plant.  ‘Te mooi,’ tooi sy, terwyl sy die hele tyd vir haarself in die spieël loer.  Sy is baie in haar noppies met haar nuwe vere – groenes en rooies en wittes en skarlaken-rooi.

Die volgende oggend toe die hoenders en voëltjies wakker word, spog Henna die vaal hennetjie met ‘n pragtige nuwe reënboog-veredos.  Selfs die pronkerige pou wat daar naby staan, klap vir Henna hande toe sy verbystap.

“Jy lyk pragtig, Henna,” juig al die diere en voëltjies toe Henna verbyloop, “te pragtig vir woorde!”  Elke keer as een van die hoenders vir Henna ‘n kompliment gee, kloek-kloek sy tevrede en draai sy statig in die rondte, sodat almal haar nuwe stertvere behoorlik kan bewonder.

Henna die Hennetjie was definitief nie meer vaal nie, sy was nou die mooiste hennetjie met die deftigste stertvere in die hele Vrystaat.  En sy was nog slim ook, want al die ander diere moes haar met hul vere betaal om van die kossies uit haar spens te kry.  Toe kry Henna ‘n blink gedagte!  Selfs nàdat sy die mooiste vere gebruik het vir haar eie stertvere, het sy nog bokse en bokse vol vere oorgehad.

Henna het by Mossieman gaan kers opsteek om te hoor wat sy moet doen.  Henna en Mossieman was ou vriende en Mossieman was nie verniet die slimste mossie in die hele Vrystaat nie.

“Waarom maak jy nie jou eie verewinkel oop nie, Henna?” vra Mossieman haar.  “Jy het meer vere as wat jy ooit kan gebruik, hoekom verkoop jy dit nie in jou winkel nie?”  Dit was ‘n briljante idee en Henna die Hennetjie het onmiddellik van Mossieman se blink plan gehou.

“Maar wat moet ek die winkel noem, Mossieman?”

“Henna,” sê Mossieman besadig, “daar is net èèn naam vir ‘n winkel van ‘n slim hennetjie wat in die Vrystaat wat vere verkoop – Ek voel Vere!”

Henna klap haar hoenderpote opgewonde saam.  “Dankie Mossieman, dit is ‘n pragtige naam!  Die ‘Ek voel Verewinkel!’  En weet jy wat, Mossieman?”

Mossieman glimlag en krap met sy veerpoot sy mossiedos netjies.  “Nee Henna, wat?”

“Elke diertjie of hoendertjie of voëltjie wat ‘n veertjie nodig het, kan my met mieliepitte en koringare en springkane en goggas betaal.  Om daai manier hoef ek nooit meer kossies bymekaar te maak nie, die ander voëls en hoenders kan dit vir my doen.  Ek kan dan rustig aftree, met my spens steeds vol kos!  Ek kan ontspan en vroeg elke oggend na my gunsteling program oor die radio luister.”

“En wat is jou gunsteling radioprogram, Henna?” wil Mossieman nuuskierig weet.

“Flink uit die Vere, Mossieman, Flink uit die Vere!”

*

– Henning van Aswegen