pietjie gemmer

“Mens moet nie té laat trou nie,” sê Mossieman, terwyl hy langs sy braaivleisvuur aan ‘n sappige Vrystaatse mieliestronk sit en knaag, “want dan word jou kinders ouer as jy.”

“Dit kan nie waar wees nie, Mossieman,” peins Geronkie die Donkie.  “Ek ken baie kinders en nie een van hulle is ouer as hulle ma en pa nie.”

“Miskien,” sê Mossieman ingedagte.  Hy sit op sy boomstomp en hou sy vuurtjie met skrefies-oë dop.  So nou en dan skuif Mossieman sy potjie krummelpap op die vuur rond, sodat hy beter kan prut.

“Hoe weet jy, Mossieman?”  Geronkie is nuuskierig en gooi nog ‘n mieliestronk oor die kole, net langs Mossieman se potjie krummelpap.

“Daar was eenmaal so ‘n kind wat jonger geword het, lank, lank gelede. Toe sy pa twintig was, was hy een.  Binne een jaar het sy ouderdom verdubbel, toevallig op sy verjaardag.”

“My gedorie, Mossieman! Hoe het hy dit reggekry om elke jaar presies op sy verjaardag te verjaar?”

“Tydsberekening. Hy was ‘n baie slim Vrystater en goed met Wiskunde.  Terloops, hy kon ook baie mooi orrel speel, vinnig swem en op sy kop staan.”

“Wat het toe gebeur?”

“Toe hy twee jaar oud word, was sy pa een en twintig, dis net een jaar ouer. Die kind, sy naam was Pietietjie Gemmer, het sy ouderdom verdubbel van een tot by twee.”

“Dis merkwaardig,” lewer Geronkie verwonderd kommentaar.

“En weet jy, Geronkie, binne net twee jaar het hy weer sy ouderdom verdubbel na vier jaar toe. Binne vier jaar het hy sy ouderdom twee keer verdubbel na agt toe, terwyl sy pa net vier jaar ouer geword het!”

“So, Pietietjie Gemmer se pa het begin agter raak met sy verjaardae?”

“Dis presies wat gebeur het,” sê Mossieman geheimsinnig. Hy doop sy mieliestronk nog ‘n keer in die lekker krummelpap, lek sy bekkie lustig af en pik-pik die mieliepitte een vir een.

“En sy ma?”

“Nee, sy ma het nie ouer geword nie, sy het net so oud gebly soos sy was.”

“Wat bedoel jy, Mossieman? Sy ma kan mos nie net op een ouderdom bly nie, sy moet mos ook verjaar?”

“Regtig Geronkie, sy ma het hom die dood voor oë gesweer as hy ooit na haar ouderdom verwys. Om veilig te wees, onthou hy maar net hoe oud sy met haar laaste verjaardag was.”

“Maar dit is nie regverdig nie!”

“Nee, regtig! Het jy al sy ma gesien? Sy is ‘n groot tannie met baie swaartekrag. Jy doen wat sy vir jou sê, anders slaan sy jou onderstebo met ‘n koekroller.”

“Ek is bly sy is nie my ma nie,” sê Geronkie bewerig en hy kyk benoud om hom rond.

“Dis reg Geronkie, jy moet lig loop vir daardie tannies van die Vrystaat.”

“Ek is rêrig bang,” fluister Geronkie en hy skuif onseker nader aan Mossieman. “Wat gaan hulle met my doen?”

“Jy moet maar versigtig wees, Geronkie. As een van daardie tannies van die Vrystaat uitvind dat jy na hulle ouderdom verwys, gaan hulle jou twee groot ore agter jou kop vasknoop.”

“Oe, eina!”  Geronkie hou sy kop met sy pote vas en probeer sy ore wegsteek. Hy sidder aan die gedagte dat sy ore agter sy kop vasgebind word.

“Mossieman?”

“Ja, Geronkie.”

“Dink jy ek moet maar my ore laat afsny, voordat die tannies van die Vrystaat my vang!”

“Nee, ek dink nie so nie, Geronkie,” lag Mossieman in sy mou. “Sonder jou ore gaan jy nog leliker wees as wat jy nou is.”

“Dankie Mossieman, baie dankie,” sug Geronkie dankbaar. “Ek is nou sommer baie bly dat ek sò lelik is.  Want ‘n lelike donkie, is ‘n gelukkige donkie.”

# ^ # ^ # ^ # ^ # ^ # ^ # ^ #