Chameleon

Trapsoetjies

“Mossieman,” kla Trapsoetjies eendag, “ek het ‘n groot probleem wat my radeloos maak.  Kan jy my dalk help met ‘n bietjie advies?”

Mossieman sit ingedagte agteroor op sy leuenstoel in sy kantoor op die tak van ‘n groot ou moerbeiboom op die walle van die magtige Sandrivier.  Hy gebruik sy boomkantoor al baie jare vir konsultasies en om wyse raad en slim advies aan die diere (en voëls) van die Vrystaat uit te deel.  Mossieman is baie vrygewig met sy wyse raad, maar hy gee nie advies aan groen goggas en swart kakkerlakke nie, hulle moet maar self regkom.

Mossieman krap sy blou kuifvere met sy veerpoot plat en trek sy rooi strikdassie netjies reg.  “Ek sal probeer, Trapsoetjies,” sug hy.  “Op voorwaarde dat jy die probleem mooi verduidelik en jou by my advies berus.”

“Advies berus, Mossieman?” vra Trapsoetjies benoude-boude. “Beteken dit dat ek moet doen wat jy sê?”

Mossieman skud sy kop.  “Ja Trapsoetjies, dit is wat dit beteken.  Anders mors jy my tyd en sommer ook jou eie tyd.”

“Reg so, Mossieman, ek sal doen wat jy sê.”

“Nou goed, Trapsoetjies.  Vertel my van jou probleem.”

“My voete raas as ek loop, Mossieman.  Dit is my probleem.  My voete en my knieknoppe en my elmboë kraak en raas.”

“Knieknoppe?” lag Mossieman.  “Dit is kniekoppe, Trapsoetjies, nie knoppe nie.  En jy het nie voete nie!  Mense het voete, trapsoetjies het pote.”

“Jammer Mossieman, my pote raas as ek loop.  En my gebeendere bewe en knetter.  En hulle kreun en dreun en kraak as ek boomklim.”

“Trapsoetjies, jy het nie gebeendere nie en jy kan ook nie loop nie.  Mense stap en loop, trapsoetjies bekruip goeters.”

“Dit is waar ja, Mossieman.  Ons trapsoetjies bekruip goeters en ons sluip stilletjies rond om goggas te eet.  As ons geraas maak, hoor die goggas ons aankom, dan vlieg hulle weg. Ek het al alles probeer, Mossieman.  Ek het al salf onder my skurwe voete, ek bedoel pote, gesmeer, maar niks help nie.  Ek is moedeloos.”

“Salf?  Het jy salf aan jou pote gesmeer?”

“Ja Mossieman, maar dit help nie baie nie.  My pote en my tone is te glad van al die salf en dan val ek uit die boom uit, omdat ek nie vastrapplek kan kry nie.”

 “Laat ek jou nou reg verstaan, Trapsoetjies.  Jou naam is Trapsoetjies omdat jy so soetjies trap?  Sò soetjies dat niemand jou kan hoor nie?  En nou raas jou pote en jou kniekoppe kraak en jou bene knetter en dan hoor al die goggas jou?”

“Dit is reg, Mossieman,” sê Trapsoetjies verwese.  “Ek maak te veel geraas as ek rondsluip om goggas te vang.  Dan vlieg hulle weg.  En ek gaan doodgaan van die honger,” snik hy.

“So, jy is ‘n raserige trapsoetjies?”

“Ja, Mossieman.  Ek is baie jammer.”  Arme Trapsoetjies kyk mismoedig af grond toe en sy oë traan so effens.  “Ek kry myself sommer baie jammer.”

“Ek verstaan, Trapsoetjies,” knik Mossieman simpatiek.  “Nou moet jy mooi luister na my wyse raad.  Eers moet jy kasterolie drink om jou kniekoppe en elmboë te olie, sodat hulle nie so raas nie.”

“Maar Mossieman, laat kasterolie nie jou maag werk nie?” vra Trapsoetjies bekommerd.

Mossieman dink so ‘n bietjie, nie heeltemal seker van sy eie mediese kennis nie.  “Jaaa… dit ook.  Drink maar net die kasterolie, dit is goed vir jou skaniere en jy sal minder geraas maak as jy rondkruip.”

“Reg so Mossieman, wat nog?” vra Trapsoetjies gretig.  Hy haal sy notaboekie uit sy knapsak en skryf in groot letters met sy oranje pen: KASTEROLIE.

Mossieman krap weer sy kop met sy veerpoot.  “En pantoffels.  Skryf in jou notaboekie, pantoffels.”

Trapsoetjies skryf stadig in groot blokletters: PANTOFFELS.

“Watter kleur, Mossieman,” wil Trapsoetjies weet.

“Pienk.  Skryf pienk pantoffels,” sê Mossieman.  Hy vryf sy pootjies tevrede saam oor die goeie raad wat hy aan Trapsoetjies gee.

“Baie dankie Mossieman,” sê Trapsoetjies gedienstig en hy sit sy notaboekie terug in sy knapsak.  “Ek gaan nou presies doen wat jy sê.”  Trapsoetjies trek teen ‘n stadige pas weg, deur die blare en takke om kasterolie te gaan koop.  En ‘n nuwe paar pienk pantoffels.

Nà ‘n paar maande word dit somer in die Vrystaat en die blare van die populierbome loop helder groen en pragtig uit.  Op ‘n Donderdag loop Mossieman weer vir Trapsoetjies raak en die twee gesels bietjie.  Trapsoetjies wys sy nuwe pienk pantoffels spoggerig vir Mossieman.  Hy hou eers een poot met ‘n pienk pantoffel aan in die lug, dan die ander poot, dan sommer al vier gelyk sodat Mossieman sy pienk pantoffles behoorlik kan bewonder.

“En hoe gaan dit met die goggas vang?” verneem Mossieman nuuskierig toe Trapsoetjies klaar met sy pantoffels gespog het.

“Nie so goed nie, Mossieman,” sê Trapsoetjies senuweeagtig en hy loer agter hom rond.

“Hoekom nou?  Help jou pienk pantoffels en die kasterolie dan nie?”

“Ja Mossieman, die pantoffels help my om nie geraas te maak nie. Maar die kasterolie werk nie so mooi nie,” verduidelik Trapsoetjies verbroureerd.

“Vertel my alles,” nooi Mossieman besorg.

“Wel Mossieman, elke keer as ek my kasterolie drink, twee lepels vol, en ek bekruip die goggas met my pienk pantoffels aan, dan is daar ‘n probleem.  Net as ek mooi in posisie is, en die gogga wat ek wil vang is hier voor my, en net as ek wil spring, en my spiere span stewig, dan maak ek my bek is oop om die gogga te vang, en as ek wil toeslaan, dan.. dan ..”

“Ja, Trapsoetjies, wat dan?” vra Mossieman belangstellend.

“Dan… dan… Mossieman, dan… op daardie kritieke oomblik, dan… werk die kasterolie ewe skielik en dan moét ek die kamer verlaat!”

“Trapsoetjies, daar is nie ‘n kamer om te verlaat nie, man.  Jy sit dan hoog in die takke!”

Ek bedoel dan moet ek die tak verlaat, Mossieman.”

“En dan?”

Trapsoetjies laat sak sy kop skamerig.  “Partykeer kan ek nie betyds die tak verlaat nie, Mossieman.  Dan werk die kasterolie oortyd en ek verdwyn in ‘n groot groen stofwolk!”

“Maar dit is nie so erg nie, Trapsoetjies.”

“Dit is, Mossieman.  Die goggas wat ek wil vang, sien die groot groen stofwolk en dan hardloop hulle almal weg.

“Toemaar, toemaar Trapsoetjies.  Moenie huil nie.  Ek belowe dat ons nooit ooit weer vir jou kasterolie sal gee om te drink nie.”

*